Ná ’n skitterende openingsdag van die 13de kykNET Silwerskermfees, met ’n sterbelaaide blou tapyt vir beide Carissa en My f*k, Marelize!, begin die fees se tweede dag met twee uiteenlopende kortprente, wat die bekroonde aktrise Cindy Swanepoel (Binnelanders, Koek) se debuut as regisseur insluit.
Moenie misloop
Terloops se topkeuse op vandag se Silwerskermfees-skedule is die kortprent Min of meer. Dié kortfilm, is die aktrise Cindy Swanepoel se debuut as regisseur, met Anél Wood wat die draaiboek geskryf het. Cindy en Anél het die fliek onder die vaandel van hul maatskappy Swan Dive Collective gemaak. Cindy vertel oor Min of meer se ontstaan: “Hierdie is ’n storie wat ek al vir soveel jare in my kop het. Ek wou aanvanklik self die karakter van Jana speel, maar ek wou ook myself uit my gemaksone as aktrise haal en kyk hoe ek as regisseur vaar. Ons het besluit om die storie vir die Silwerskermfees voor te lê, juis omdat die fees geleenthede bied om iets te probeer wat jy nog nooit gedoen het nie. En toe die Silwerskermfees die filmkonsep aanvaar, was dit amper asof alles net gesê het: ‘Ja! Ja! Doen dit! Doen dit!’”

Kortfilms deur opkomende filmmakers
Die twee kortfilms wat môreoggend hul debuut maak, dui op die ongelooflike kreatiewe uiteenlopendheid wat jaar ná jaar aangemoedig word deur die fees se kortfilm-mentorskapprojek, en nuwe skeppers uit die blokke help. ’n Tragiese vertelling oor genadedood dien as basis van skrywer-regisseur Tana Pistorius se kortprent Bly, terwyl Cindy Swanepoel haar regie-debuut maak met Min of meer, oor ’n vrou wat ná ’n hartverskeurende trauma soos ’n meermin leef en nooit haar meerminstert uittrek nie.
Dokumentêre
Hoewel die dokumentêre op môre se kalender uiteenlopende verhale sien ontvou, gloei ’n tematiese goue draad deur al die stories wat hulle as verhale van hoop verbind.
Die akteur en skrywer Luan Jacobs verduidelik die raison d’etre van Verander, wat draai om sy pa se ervaringe saam met oudpresident Nelson Mandela as hoof van sy sekuriteitspan in ’n tyd toe demokrasie pas in Suid-Afrika aangebreek het: “Om hulle stories te vertel, voel vir my noodsaaklik. Ek glo vas dat daar steeds genesing in ons land nodig is, en juis hier, waar die persoonlike en die professionele ontmoet, kry my werk betekenis.”

In vervaardiger Danielle Retief en regisseur Ursula Ludick se dokumentêre film, Tussen hemel en aarde, maak die oud-Springbokrugbyspeler Jannie du Plessis en sy vrou Ronel hul harte oop oor die dood van hul tien-maande-oue seuntjie, Jan Nathaniël, wat in 2021 verdrink het.
Gham! Ons het lyn bied ’n intieme blik op die wêreld van die eens virale groep van die Kaapse Vlakte, Die Temple Boys, en hul verbrokkelde drome.
Kortfilms deur gevestigde filmmakers
Die tweede sarsie films in dié kategorie sluit die regisseur en draaiboekskrywer Robert dos Santos se Hier in – ’n verhaal waarin die grense van tyd verbuig word en temas soos tydreis, oorlog, geheue en oorlewing in oënskou geneem word.

Die Superette, met die gevierde aktrise June van Merch in die rol van Tannie Sonja, verweef spanning, skerp humor en sosiale kommentaar in ’n verhaal wat fokus op die dapperheid van ’n groep mense wat in ’n hoekwinkel gyselaar gehou word.
Eksklusiewe TV-voorskoue
Feesgangers kan môre ook ’n eksklusiewe voorsmakie van kykNET se spanningsreeks, Spoorloos: Losprys, met onder andere Angelique Pretorius en Laudo Liebenberg, sien voordat dit volgende week (Dinsdag, 26 Augustus om 20:00) op dié kanaal begin. Daar is ook ’n voorskou van Showmax se dokumentêre reeks oor die Grensoorlog, Unspoken War (vanaf November op dié stromingsdiens) waarin die stories van die wrede, duistere oorlog wat in Angola, Namibië en Suid-Afrika gewoed het, onthul word.
Werkswinkels, meesterklasse en besprekings
Môre se werkswinkel, Dokumentêre: Vertroue, tydsberekening en volharding, is daarop gemik om Suid-Afrikaanse storievertellers toe te rus met praktiese gereedskap vir die maak van dokumentêre. Dít terwyl die dag se meesterklas, Dokumentêre: Om feite soos fiksie te skryf, handel oor die kuns om werklike gebeure in meesleurende vertellings te omskep. Dit word deur Boetie Boer se Jasyn Howes en Andy Petersen gelei.
Die paneelgesprek, Gehoor-evolusie: Begryp die met-oorvloed-bederfde moderne kyker, stel kundiges aan die woord oor die moderne kyker se behoeftes, begeertes en gewoontes, en hoe om dié kieskeuriges geboei en gelukkig te hou.
Blou tapyt
Die eerste blou tapyt van die dag word vir Finding Optel uitgerol, die eerste vollengte speelfilm van die broer-en-suster-duo Mikayla en Jesse Brown. Daarin vertolk Mikayla, wat ook die draaiboek geskryf het, die 16-jarige amateur-speurder Claire Abrahams, wat soos ons eie weergawe van Nancy Drew begin soek na ’n straatbrak wat in die buurt weggeraak het. Die soektog lei onverwags tot die oopkrap van ou wonde wanneer sy ook op leidrade afkom oor haar ouer broer se verdwyning. “Ons het die voorreg gehad om gesoute akteurs, soos Arendsvlei se Sherman Pharo en Spinners se Zenobia Kloppers, in die rolverdeling te hê. Ek en Jesse het hulle ruimte gegun om met die karakters en dialoog rond te speel. Dit het gevoel asof die rolle vir hulle geskryf is,” vertel Mikayla.

Die tweede speelfilm wat môre première is uit die pen van bekroonde skrywer en regisseur Nico Scheepers, Hen. Wanneer Dawid (Stian Bam) in die veld op ’n gesinstragedie afkom, ontdek hy iets skokkend in ’n houtkrat. Wat volg is donker, vreemd en gevul met onsekerheid. Oor die besluit om dié prent in swart en wit te verfilm, sê Nico: “Ons het baie vroeg besluit om Hen in swart en wit te verfilm. Kleur sou te veel verduidelik, te veel versag … Dit dwing ’n mens om nader te kyk. En juis die afwesigheid van kleur laat jou verbeelding harder werk.”

Vir die volledige skedule, vertoningstye, lokale en kaartjies, besoek die Silwerskermfees se webwerf: www.silwerskermfees.co.za.