Sex Education is een van daai seldsame reekse wat dit regkry om lag-lag ernstig te wees. Dit ry sy vertelling op golwe van donker, ligte, en tong-in-die-kies humor en skep uiteindelik ’n prontuit storie oor die seks-, gender-, liefdes- en lewensrealiteite van ons tyd. Dit staan uit in ’n tydsgees waarin popkultuur, veral wat televisie betref, ruimte vir meer diverse storievertellers én húl stories toeken.
Sex Education skroom nie om met aanvaarding stories oor byvoorbeeld gay verhoudings, non-binary en queer karakters, seksuele plesier, seksuele aanranding, en soeke na identiteit van welke aard te vertel nie. Dié aanvaarding is nonchalant, terloops, vanselfsprekend.
Sex Education is boonop ook Netflix se slimste reeks en neuk nie rond met onnodige dialoog, gebeure of, um, klimakse nie.
Die nuwe seisoen tel op ’n paar maande nadat Isaac (George Robinson) Otis (Asa Butterfield) se liefdesverklaring aan Maeve (Emma Mackey) sonder haar medewete van haar foon uitgevee het. Die twee is nie op goeie voet nie –Otis dink sy het hom weggestoot, sy dink weer hy gee nie ’n hel om nie. Eric (Ncuti Gatwa) en Adam (Connor Swindells) is nou saam, terwyl Aimee (Aimee Lou Wood) sukkel om haar aanranding te verwerk. Otis se ma, Jean (in die soveelste briljante vertolking deur Gillian Anderson) is nou hoog swanger en kan skaars haar espadrilles self aantrek.
Intussen het Mooredale High die nuus gehaal met al sy seksskapades en ’n nuwe skoolhoof drentel in om dinge “reg” te ruk. Sy dwing haar voorskriftelike en onderdrukkende idees met ’n skokkende konserwatiewe hand af, Haar idees is voorskriftelik en onderdrukkend, met geen ruimte vir die tieners om hulself te wees, of te kies wie hulle wil wees nie.
O, en Otis het nou ’n snor (’n hele storielyn op sy eie).
Die reeks, geskep deur Laurie Nunn, is sonder twyfel in ’n klas van sy eie.
- Stroom al drie seisoene op Netflix.
Colin in Black & White (Netflix)
Colin in Black & White is ’n dramareeks deur die bekroonde filmmaker Ava DuVernay en die Amerikaanse voetbalster en aktivis, Colin Kaepernick. Dit draai om die ervaringe wat uiteindelik tot Kaepernick se ontwikkeling as ’n wêreldbekende aktivis gelei het.
Kaepernick se loopbaan as ’n voetbalster is kortgeknip nadat hy voor ’n wedstryd in simboliese protes teen polisiegeweld die knie gebuig het toe die volkslied begin speel. Hy is wyd uitgekryt as ’n volksverraaier, terwyl ander – ook spelers – hom geloof en in sy voetspore gevolg het.
Die ses episode lange dramareeks, wat op 29 Oktober op Netflix begin, volg Kaepernick se grootwordjare as ’n aangenome Swart seun van ’n wit gesin in Kalifornië wat later vir die San Francisco 49ers sou opdraf.
Kaepernick is die reeks se verteller met Jaden Michael wat tiener-Colin vertolk. Nick Offerman (Parks & Recreation) en Mary-Louise Parker (Weeds) speel Colin se ouers Rick en Teresa. In die reeks se lokprent deel Kaepernick die boodskap wat sy stryd onderskraag: “Believe in your path, and by doing that, we can become who we’re destined to be.”
Trane, mense. Hier kom trane.
- Vanaf 29 Oktober op Netflix.
Wie word ’n miljoenêr? (kykNET, Showmax)
Ek was op hoërskool toe my Engels Eerste Taal-juffrou vir Jeremy Maggs in die oë moes kyk op die plaaslike, Engelse weergawe van Who Wants to Be a Millionnaire? Sy het nie ’n woord daaroor gerep voordat die episode uitgesaai is nie, maar een Vrydag het sy haar mond verbygepraat – daai Sondag sou sy in die stoel sit. Kyk, ons was almal baie teleurgesteld dat M’am toe nie ’n miljoen losgeslaan het nie, maar dit was Maggs se skuld, het ons gereken. Geen mens kan fokus as iemand heeltyd jou keuses bevraagteken nie. (As ons maar net geweet het dat dít ons volwasse voorland sou wees…)
Nou is die eerste Afrikaanse weergawe van die reeks aan die beurt met Rian van Heerden as die quiz master wat deelnemers in hul eie antwoorde en kennis laat twyfel deur oor en oor te vra: Is jy seker? Wil jy jou antwoord verander? Phone a friend?
Die eerste seisoen met 13 episodes begin 27 Oktober met die tweede reeks wat direk daarna uitgesaai word. Wie word ’n miljoener? bly getrou aan die oorspronklike Britse Who Wants to Be a Millionaire?-formaat met deelnemers wat deur 15 meervoudige keuse-vrae moet draf tot die finale ronde, waar die grootse goudpot wag.
Hoewel die drie “hulplyne” – oor na die gehoor, bel ’n pel en 50/50 – ook die Britse formaat volg, is die trivia-vrae wél so saamgestel om die plaaslike aard van die reeks te weerspieel.
- Op kykNET op DStv vanaf 27 Oktober. Dit sal terselfdertyd op Showmax beskikbaar wees.
Squid Game (Netflix)
Soos The Hunger Games, maar ook nie. Squid Game het 100% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes gekry en dit blyk Netflix se gewildste reeks nog te wees. Dít spreuk boekdele, want die streamer se self-vervaardigde, oorspronklike produksies wen oor die jare heen al meer toekennings met reekse soos The Queen’s Gambit, Bridgerton, Sex Education en House of Cards (een van Netflix se eerste oorspronklike reekse).
Dié egte oorlewingsdrama – nie ’n algemene genre op TV nie, maar wel in flieks – het die topposisie in tien lande binne nege dae vanaf vrystelling beklee. Die Suid-Koreaanse reeks het ’n relatiewe eenvoudige premis, maar lewer terselfdertyd kommentaar oor die heersende ongelykheid in ons samelewings wat mense dryf om amper ondenkbare keuses te maak om bloot hulself en hul families aan die lewe te hou.
In Squid Game word 456 mense wat met sakke vol skuld sit en desperaat is vir uitkoms, genooi om aan ’n kompetisie met prysgeld van sowat $38 miljoen deel te neem. Dit is, natuurlik, te goed om waar te wees – want om daai geld te kry, moet hulle ’n reeks moorddadige weergawes van kinderspeletjies oorleef.
- Nou op Netflix.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →