Menu terloops
In Wat om te kyk [7 Sep 2023]

Rugbywêreldbeker 2023: 12+ programme om tussen die wedstryde deur te kyk


8 September 2023. Dis wanneer die eerste kragmeting tussen vanjaar se aanspraakmakers op die Rugbywêreldbeker gaan plaasvind. Hier’s ’n lekker allegaartjie van ander rugby-gedrewe programme wat jy tussendeur die oorvloed rugbywedstryde kan kyk.

Deur Annelene Oberholzer
Rugbywêreldbeker 2023: 12+ programme om tussen die wedstryde deur te kyk
1

In Frans, ja!

In Frans, ja op kykNET met Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels.
In Frans, ja op kykNET met Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels. Foto: Verskaf

In 2019 het Vanes-Mari en Hamilton die Bokke gaan ondersteun in Japan, die fassinerende kultuur leer ken en ’n hele rits merkwaardige mense ontmoet. In Frans, ja! is selfs meer opwindend, want nou het die Bokke die kans om die trofee vir ’n vierde keer huis toe te bring. 

Dié twee gaan die Bokke vanaf Marseille na Bordeaux volg. Daarna kyk hulle saam met die oud-Bok Flip van der Merwe in Biarritz die Bokke se wedstryd teen Ierland.

Vanaf 9 September 2023 elke Saterdagaand om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

2

Toks & Tjops

Dié ikoniese program bied al sedert 2011 rugbyvermaak, kennis, feite en flaters aan deurwinterde rugby-aanhangers.

Hamilton Wessels, Rika Nieuwoudt en Radio Raps wat aangesluit het by Janina Oberholzer en Breyton Paulse, is weekliks op roterende basis aan die stuur van sake. Breyten lei ook die paneel met ysters in die rugbywêreld, waaronder voormalige Springbok-kaptein Jean de Villiers, voormalige Springbokspeler dr. Jannie du Plessis asook voormalige rugbyspeler en kommentator, Jonathan Mokuena.

Terloops, die temalied van die huidige seisoen word deur Robbie Wessels gesing.

Vrydae om 20:00 op kykNET (DStv kanaal 144), DStv Stream en Catch Up.

3

Map1mp1

Map1mp1 is ’n dokkie oor Springbok Makazole Mapimpi (33) se reis van leef onder die broodlyn in Mdantsane in die Oos-Kaap tot waar hy in 2019 die William Webb Ellis-beker in Japan hemelhoog gehou het.

Mapimpi is deur sy ouma grootgemaak en moes onder bittere omstandighede hard werk om sukses te behaal.

Vir talle is hy die verpersoonliking van vasberadenheid en deursettingsvermoë.

Kyk die dokkie op Showmax.

4

Elders: Frankryk

Die Via Podiensis is Frankryk se gewildste Camino-roete. Erns het verskeie dae op hierdie roete gestap en daar is vyf episodes in Elders: Frankryk waar kykers meer oor hierdie wonderlike pelgrimstog kan uitvind. Hier is Erns op die einde van sy eerste stapdag, by die prentjiemooi Saint-Privat-d'Allier.
Die Via Podiensis is Frankryk se gewildste Camino-roete. Erns het verskeie dae op hierdie roete gestap en daar is vyf episodes in Elders: Frankryk waar kykers meer oor hierdie wonderlike pelgrimstog kan uitvind. Hier is Erns op die einde van sy eerste stapdag, by die prentjiemooi Saint-Privat-d’Allier. Foto: Verskaf

Vier jaar gelede, met die Rugbywêreldbekertoernooi in Japan, het Erns dié land voor die tyd besoek en kykers ’n voorsmakie gegee van die land waar die Springbokke uiteindelik die toernooi op 2 November 2019 gewen het toe hulle Engeland met 32-12 verslaan het.

En weer gaan Elders vir ons ’n voorsmakie van die gasheerland gee.

Erns en die Elders-span het van einde Maart tot vroeg Mei vanjaar Frankryk besoek en gaan in die nuwe seisoen nie net ’n nadere blik op die rugbytoernooi gee nie, maar ook met Suid-Afrikaners wat in Frankryk woon – insluitend verskeie rugbyspelers – praat.

Maandae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 147) en DStv Stream.

5

Rassie: The Official Film

Hierdie fliek bied jou insig in die oud-Springbokafrigter Rassie Erasmus se gesin, sy grootwordjare, en sy loopbaan. Dis brutaal en eerlik en beslis die moeite werd om te kyk.

Daar is ook verskeie onderhoude, waaronder een met die huidige Springbok-kaptein, Siya Kolisi.

Kyk dit op Showmax.

6

Hier sit die manne

Frank Rautenbach is terug in sy man cave in die geselsprogram Hier sit die manne se tweede seisoen. Daar word gesels oor alles wat die manne se enjins laat knor – van karre, visvang en jag tot beleggings, reis en rugby. ’n Paar legendariese rugbyspelers soos Danie Gerber kom ook kuier.

“Daai klas manne was my helde as kind en ek is opgewonde om met hulle te gesels,” sê hy in ’n mediaverklaring.

Vanaf 20 September, Woensdae om 17:30 met herhalings Saterdae om 17:30. VIA (DStv-kanaal 147)

7

Koppestamp

Koppestamp S1
Adrian Steyn en Deoudoné van der Merwe is die aanbieders van Koppestamp. Foto: Verskaf

Daar word nie verniet gesê Suid-Afrikaners se bloed is groen nie, want wanneer dit by rugby kom, is dié sport deel van ons lewe en is die Springbokke ons trots.

In Koppestamp gaan spanne teen mekaar deelneem in ses verskillende rondes: “Tikskoppie”, “Rooi, geel of niks”, “Drie of nie”, “Speel die kommentator”, “Waar’s die bal?” en “Druk die knoppie”.

Maar daar is nie net die speletjies wat die program ’n moet-kyk maak nie. Tydens rustyd gaan ’n Springbok-legende ’n draai kom maak om die onderskeie spanne te help.

Die aanbieders van die program is Adrian Steyn en Deoudoné van der Merwe.

Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 147) en DStv Stream.

8

Boerbokke

In die gees van die Rugbywêreldbeker vat Arnold Geerdts die pad plaas toe om te gaan kuier by voormalige Springbok-rugbyspelers wat hul tokse vir vellies verruil het.

Kennersmenings word uitgeruil oor die Wêreldbeker en daar is weekliks ’n R5 000-geskenkbewys op die spel in ’n kykerskompetisie aangebied deur Neels van Jaarsveld.

In die eerste episode kuier die span by Bakkies Botha, maar oud-Bokke soos Johan Goosen, Chris Rossouw, Frik du Preez en Schalk Burger Sr. kry ook elk ’n beurt.

Vanaf 19 September, Dinsdae om 17:00 met herhalings Woensdae om 22:00 en Donderdae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) en DStv Stream.

9

Rugby Kuiers

Hennie Koortzen en Wynie Strydom gesels met huidige en voormalige rugbyspelers oor hul loopbane, hoogtepunte en alles en nog wat oor rugby.

Hennie is sedert 2001 as Afrikaanse rugby-, boks-, krieket-, sokker- en atletiekkommentator by SuperSport betrokke. Hy is op die oomblik een van die Klankkoerant Oggend-aanbieders by Pretoria FM.

Wynie Strydom was die spanbestuurder van die Blou Bulle, ‘n pos wat hy sedert 1997 beklee het. Sy ywerige ondersteuning en manewales langs die rugbyveld het aan hom die bynaam “Hartaanval Wynie” besorg.

Beskikbaar op DStv Catch Up.

10

Chasing the Sun

Dié ’n dokumentêre reeks wat oor vyf episodes strek. En dit gaan jou enduit boei met ongekende toegang tot rugby. Dit handel oor die Springbokke en hul reis na die toppunt van internasionale rugby in 2019, die Rugbywêreldbeker. Die reeks is in 2020 vrygestel.

Kyk Chasing the Sun op Showmax.

11

Whistle Watch

Voel jy ook soms verward met sekere skeidsregtersbesluite? Of hoe nuwe en eksperimentele reëls toegepas behoort te word?

Geliefde oud-skeidsregter Nigel Owens gesels oor die week se rugby sommer so tussen sy beeste op sy plaas in Wallis. Elke Woensdag word ’n nuwe episode van sowat 10 minute lank vrygestel. Owens praat, verduidelik beslissings en antwoord ook vrae.  

Kyk dit op YouTube (World Rugby).

12

Dáái wedstryde…

Het jy enige van die Wêreldbekerwedstryde misgeloop? Dalk wil jy net weer ’n keer die systappe, die skoppe en die bloed en sweet op die veld kyk.

Jy kan weer die glorie van die finale wedstryde van 1995, 2007 en 2019 op die kassie beleef toe Suid-Afrika die beker omhoog gehou het.

Al drie dié wen-eindstryde is op DStv Catch Up beskikbaar. Kliek op die betrokke jaar vir die skakel om daardie wedstryd te kyk.

Nog kyk-voorstelle:

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies