Menu terloops
In TV [12 Jun 2026]

‘Onthul’: Nuwe episode kyk na kerkskeuring


Van apartheid en kerk-eenheid tot seksualiteit en die vrou in die amp van Suid-Afrikaanse susterskerke. Het die kwessies gelei tot kerkskeuring? Dís wat op die nuutste episode van ‘Onthul’ onder die loep kom.

Deur Redaksie
‘Onthul’: Nuwe episode kyk na kerkskeuring

Kykers wat nie maklik alles vir soetkoek opeet nie, is die soort kykers wat seker maak dat hulle geen episode van Onthul op kykNET misloop nie. Die bekroonde joernalis Lourensa Eckard en haar diverse gastelys sorg vir ingeligte, objektiewe en deurdagte insette oor sake wat pla. 

KykNET het die dubbelloop-kombinasie van In Gesprek en Onthul in Maart vanjaar vir die eerste keer afgevuur en dit het duidelik die regte kol getref. En op Maandag 15 Junie is dit die susterskerke wat in die visier verskyn.

“Daar is nie ’n onderwerp wat dieselfde mate van emosie ontlok, as juis godsdiens nie. As politieke joernalis het ek al oor die jare op professionele wyse te make gekry met kerklike kwessies wanneer dit oorspoel na die sogenaamde politiek. 

“Ek het dus gevoel dit is ’n belangrike onderwerp om te takel, juis omdat daar ’n politieke deel is van die gesprek wat soms onder die mat gevee word,” het Lourensa vertel oor die rede waarom hierdie sensitiewe kwessie aangespreek word.

Van die deelnemers is van mening dat die kerk reeds geskeur het terwyl ander oortuig is dat dinge net nie meer in kohesie gedoen word nie – en dat dit tot skeuring kan lei. 

Maar is daar enige beweging (ten goede) wat verandering in die Kerk teweeg kan bring? “Dit is ’n moeilike vraag, want daar is diegene wat glo verandering is die probleem en dan weer ander wat glo ’n tekort aan verandering is die probleem. Dit is ten einde vir die Kerk om te besluit en die Kerk bestaan uit mense,” meen Lourensa.

onthul, lourensa eckard
Lourensa se gesprekke met die program se deelnemers word nie in watte toegedraai nie. Daar word reguit gepraat . . . met interessante resultate. Foto’s: Skermgrepe/Verskaf

Reguit praat

Sterk opinies word deurentyd in die dokumentêr gelig. Soos dat die kerk en God misbruik word. Of dat seks, geld en mag die almagtige drie is wat ons gedagtes oorheers. Ander volstaan weer by “een man, een vrou, een vlees”. 

Natuurlik word Lourensa se gesprekke met deelnemers nie in watte toegedraai nie. Daar word reguit gepraat . . . met interessante resultate. “Dit was belangrik vir my om die mense agter die hoofopskrifte en preekstoele te probeer verstaan, so geen van die gesprekke het my ontstel nie. Wat ek wel uiters interessant gevind het, is hoe radikaal twee mense kan verskil oor die verstaan en interpretasie van die Skrif. Ek vind dit fassinerend!”

Lourensa noem dat die gereformeerde Christendom reeds in 1652 saam met Jan van Riebeeck hier wortel geskiet het. Weldra het dit gelei tot die NG Kerk, die Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Word die woord “Gereformeerd” deesdae in wese nagekom, of is dit bloot net ’n trooswoord? “Weereens was dit vir my interessant om te luister na die verskillende rolspelers en deelnemers se definisie en interpretasie hiervan. 

“In ieder en elke geval maak die deelnemers ’n sterk argument vir hoe en waarom húl tradisie gereformeerd is. Dit is vir die kyker om te besluit of die argument oortuigend is al dan nie.”

Is daar ruimte vir verandering?

Politiek het nie lank in sy baan gebly nie en dit het onwrikbaar deel van die kerklike landskap geword, hoe goed of sleg dit ook al kon wees. Apartheid en Palestina is in alle waarskynlik twee van die grootste olifante in die vertrek van verskeie kerke.

Kan die Kerk wel verander, word daar gewonder. Of gaan diegene wat teen die voorskriftelike, en in gevalle eng, prikkels bly skop, uit die Kerk geskop word? 

⁠Maar is daar tog dalk ’n liggie in die tonnel vir potensiële vereniging onder die susterskerke, of is dit maar net die laaste oomblik voor beurtkrag vir altyd inskop? “Ek dink die lig in die tonnel is snaaks genoeg die spanning en konflik wat bestaan. Daar is ’n besef dat sekere goed nou op die spits gedryf word, dat skeuring reeds gebeur het in sommige gevalle en dreig om in ander te gebeur. 

“Dis soos die sêding dat dit altyd die donkerste is voor die son opkom,” sê Lourensa. 

Van die deelnemers* wat aan die program deelgeneem het, is 

  • Dr. Annalie Steenkamp-Nel (Navorsingsgenoot in Teologie: UP)
  • Prof. Jorrie Jordaan (Teoloog: GKSA)
  • Prof. Fika Janse van Rensburg (Nuwe-Testamentikus: GKSA)
  • Ds. Cassie Aucamp (Redakteur: Die Kerkblad van die GKSA)
  • Prof. Henk Stoker (Teoloog: GKSA)
  • Dr. Johann Ernst (Voormalige aktuarius: NG Kerk)
  • Ds. Jan Lubbe (Moderator: NG Kerk Algemene Sinode)
  • Neels Jackson (Voormalige redakteur: Kerkbode)
  • Dr. Anton Knoetze (Leraar & nasionale voorsitter: Koinonia-sinode)
  • Dr. Dewyk Ungerer (Aktuarius: NG Kerk)
  • Vr. Johann Rossouw (Filosoof & Ortodokse Kerk)
  • Dr. Allan Boesak (Teoloog & politikus)
  • Eerw. Dr. Frank Chikane (AGS-emeritus-pastoor & politikus)
  • Dr. Mae Cannon (Direkteur: Kerke vir vrede in die Midde-Ooste)
  • Prof. Tanya van Wyk (Teoloog & leraar: Hervormde Kerk)
  • Ivor Swartz (Jeugleraar: NG Kerk)

* Die deelnemers aan Onthul is onafhanklik van kykNET en Multichoice.


Dié episode van Onthul saai op Maandag 15 Junie om 20:00 op kykNET en DStv Stream  (DStv-kanaal 144) uit. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies