Menu terloops
In TV [7 Okt 2026]

Theodore Jantjies ontdek nou die hart van landbou


Theodore Jantjies, bekend vir sy sepierolle in ‘Suidooster’ en ‘7de Laan’, is nou een van ‘Landbouweekliks’ op VIA se mede-aanbieders.

Theodore Jantjies ontdek nou die hart van landbou

Agter elke bottel melk, dosyn eiers en brood is ’n ketting van mense se harde werk. Dít is iets waarvoor Theodore Jantjies as nuwe aanbieder van Landbouweekliks, wat onlangs weer op VIA begin het, opnuut respek gekry het.

Op sy reise leer Theo, en die program se mede-aanbieders Pieterman Geldenhuys en Vicky Davis, die mense ken wat voedselproduksie as ’n ernstige verantwoordelikheid, maar ook as ’n voorreg beskou.

“Ek wil hê kykers moet voel asof hulle saam met my op daardie plaas stap, saam met daardie boer aan tafel sit en die storie eerstehands hoor,” sê hy. “Vir my gaan dit nie net oor die landbou nie – dit gaan oor die mens agter die landbou. Die hart.”

Hoewel Theodore uit die vermaakwêreld kom, het die landbou-omgewing hom op ’n positiewe manier uit sy gemaksone geneem.

Die geleentheid om mense te ontmoet wat so ’n belangrike rol in Suid-Afrika speel, is vir hom een van die hoogtepunte van die program. Hy wil sy nuuskierigheid en vermoë om met mense ’n band te vorm, gebruik om dié wêreld nader aan kykers te bring.

Volgens hom hoef ’n mens niks van boerdery te weet om deur Landbouweekliks meegevoer te word nie. Anderkant die trekkers, landerye en vee lê ’n wêreld van entrepreneurskap, tegnologie en vindingryke planne – en verhale van opoffering en deursettingsvermoë.

“Ons almal eet. Ons almal is deel van daardie ketting van plaas tot bord, maar ons dink nie altyd aan alles wat moet gebeur voordat ’n produk op ons tafel beland nie.”

Elke plaasbesoek leer hom iets nuuts. Wat hom telkens tref, is hoeveel daar agter ’n gevestigde boerdery skuil wat ’n besoeker nie met die eerste oogopslag kan sien nie: lang ure, moeilike besluite, risiko’s en terugslae.

Pietman Geldenhuys, Vicky Davis en Theodore Jantjies.

Verhale met trefkrag

Een ontmoeting wat hom bybly, is dié met André Christie-Smith, wat met wolskape in die Struisbaai-omgewing boer. Boerdery was nie aanvanklik sy plan nie, maar nadat hy by sy skoonpa oorgeneem het, het dit ’n besonderse pad geword.

Vir Theodore lê die trefkrag van sulke verhale in die mense se emosionele verbintenis met hul werk en die grond.

Dié ontmoetings het hom ook meer bewus gemaak van die onsekerhede waarmee boere moet saamleef. Weerstoestande, ekonomiese druk, infrastruktuur en markte beïnvloed hul besluite en bestaan. Tog sien hy telkens mense wat aanpas, oplossings soek en nuwe maniere vind om vooruit te gaan.

“Jy kan eerlik wees oor die uitdagings sonder om hoop weg te neem. Inteendeel, die manier waarop mense uitdagings hanteer, is dikwels waar die mees inspirerende stories lê.”

Die rol van tegnologie in moderne landbou was nog ’n verrassing. Theodore vertel van die presisie en beplanning wat boerdery verg, met data, monitering, slimmer besproeiing en toerusting wat produsente help om doeltreffender te werk. In sy oë moet ’n boer vandag tegelyk ’n sakemens, bestuurder, tegnoloog en motiveerder wees, met ’n diep liefde vir die grond.

Een boer se woorde het hom veral bygebly: “Los die grond in ’n beter toestand as wat dit aanvanklik was.”

Dit is hierdie mengsel van kundigheid, verantwoordelikheid en menslikheid wat hy met kykers wil deel. Landbouweekliks neem hulle na plekke waar hulle dalk nooit self sou uitkom nie en stel hulle bekend aan mense wie se werk elke Suid-Afrikaner raak.

“Maar meer as enigiets hoop ek kykers neem die mense se stories saam met hulle. Stories van harde werk, familie, hoop, innovasie en deursettingsvermoë.”

Vir Theodore lê die program se waarde uiteindelik ook in wat gebeur nadat die televisie afgeskakel is: ’n kyker wat met meer waardering na ’n bord kos kyk, aan die produsent daaragter dink of nuwe moed vir ’n eie uitdaging vind.

“Dan het die program iets reg gedoen.”

Landbouweekliks is Donderdae om 18:30 op VIA (DStv-kanaal 147) te sien.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
Sien alle opsies