Menu terloops
In Onderhoude [8 Jan 2026]

‘Kokkedoor: Son & see’: En hier is die wenners! 


In die finale episode van ‘Kokkedoor: Son & see’ was albei spanne se nerwe behoorlik aan flenters, maar aan moed en geesdrif het daar niks geskort nie – ook nie toe hulle besef elke span moet vir 25 gaste bederfkos voorsit nie. Maar daar kon net een wenspan wees: Hanna van der Westhuizen en haar seun, Dirk!

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor: Son & see’: En hier is die wenners! 

In die laaste episode van Kokkedoor: Son & see was dit Andrew Anderson (57) van Mtunzini, en sy dogter, Leoné Smit (30), wat hul koskragte teen Hanna van der Westhuizen (58) en haar seun, Dirk (29) van Aberdeen moes meet. 

Die uitdaging

Die twee spanne was opgewonde toe hulle hoor hulle moet in totaal vir vyftig gaste kook – dus 25 gaste per span. Baie werk, maar dit het nie die entoesiasme geblus nie. 

Die deelnemers moes vyf geregte voorberei: ’n vingerhappie vir die verwelkoming van hul gaste, drie hoofgeregte met partytjiekos uit die verlede wat nou met ’n nuwe kinkel voorgesit word, en dan natuurlik die soet noot, ongeag of dit uit die 1920s of uit die digitale aanlyn-era kom. Die belangrikste vereiste was dat dit die verlede met die hede moes versoen. 

Kokkedoor
Andrew Anderson (57) van Mtunzini, en sy dogter, Leoné Smit (30), het in die finaal teen Hanna van der Westhuizen (58) en haar seun, Dirk (29), meegeding. Foto’s: Gys Loubser

Die gaste

Tussen trane en drukkies en oorsteltpheid deur het die viertal hul “gaste” verwelkom. Vir Hanna het Taya, haar pa se suster, gekom. Taya was die een wat vir haar en Dirk gemotiveer het om in te skryf. Dirk se kêrel en sy grootste ondersteuner, JC, het ook opgedaag. 

Leoné se niggie, Ciske, het al die pad van Upington gekom. Cisca, beter bekend as Cici, was een van haar strooimeisies op haar troue. En die ander gas was Leonie, “die ma van hierdie dogter,” het Andrew met trane in sy oë gesê terwyl hy haar styf nader getrek het.

Ligte, kamera en aksie het kort daarna ingeskop. En elke span het twee studente van die Institute of Culinary Arts gekry om te kom help en dit was baie welkom. Die drie uur wat hulle gegun was, het egter gouer as gou verbygeglip en by tye het daar byna ’n misverstand of twee ingeglip.

… En toe die wenners!

Kokkedoor
Kokkedoor: Son & see-wenners Hanna en Dirk van der Westhuizen saam met die reeks se aanbieders en beoordelaars, Herman Lensing en Yolani Abrahams.

Daar was heerlik weggelê aan beide spanne se disse wat grootliks beide beoordelaars beïndruk het. Tog was dit Hanna en Dirk wat die lint by die eindpaal gebreek het. Hulle is as Kokkedoor: Son & see se eerste familie-wenners aangewys en die trane het vryelik gevloei toe hulle daai Goue (en pienk) Haan in ontvangs geneem het. 

Dit voel tog van pas dat hierdie haan koers kies na Aberdeen toe – dit is immers die dorp met die hoogste kerktoring in die land!

Wat ’n lieflike avontuur en reis was dit nie om elke week te kon sien hoe die bande tussen familie net al hoe stewiger gegroei het, hoe daar balans tussen die verlede en die hede gevind is. En wat ook uitgestaan het, was die absolute respek vir nalatenskap – hoe vroeër generasies se kos hier langs die see weer ’n nuwe baadjie kon aantrek, terwyl die onthou die hartklop van elke dis geword het.

Kokkedoor
Dié twee het oor die episodes heen groot sukses behaal.

Wat sê die wenners?

Hanna vertel:

Herman wou weet of julle lekker ‘vakansie’ gehou het tydens Kokkedoor: Son & see. Maar dit was nie regtig vakansie nie, of hoe? 

“Nee, dit was alles behalwe ’n vakansie. Dit was intens, vol stres en emosioneel – lekker, maar beslis nie rus nie. My ideale vakansie is ’n week op Hartenbos in die ATKV-oord saam met my gesin.” 

Jou verwagtinge van Kokkedoor: Son & see vooraf teen nou dat jy daar deur is – hoe het dit verander?

“Voor die tyd het ek gedink dit gaan hoofsaaklik oor kook. Ná die tyd besef ek dit gaan net soveel oor menswees. Jy leer jouself ken onder druk, jy leer hoe diep jy kan delf, en jy leer om te vertrou – op jouself en op mekaar.”

Was daar enige van die deelnemers wat jou veral beïndruk het met hul menswees en hul kookvernuf?

“Frans en Una-Belle het my beslis beïndruk met hul kreatiwiteit en visueel indrukwekkende kos. Marianne en Ronelle was hartsmense met wie ek van dag een af gekliek het, net jammer hul kuier was van korte duur. Caroline en Anél is ons dam se eende. Hulle het lewenslange vriendinne geword.” 

Kokkedoor Son & see
“Caroline en Anél is ons dam se eende. Hulle het lewenslange vriendinne geword,” vertel Hanna.

Dit het ’n tydjie gevat om jul wen-ritme te vind met al die uitdagings. Wat dink jy het daardie skakelaar aangesit vir julle twee?

“Ek dink dit was die oomblik toe ons opgehou het om te probeer ‘presteer’ en net begin kook het soos ons is. Toe ons mekaar se ritme begin lees het en vertrou het dat dit genoeg is. Dáár het iets gekliek.”

“Ek herlaai deur stil te raak. My hande moet net altyd besig bly. Hekel of brei hou die hande besig terwyl die kop afskakel. Rus is vir my nie om niks te doen nie – dit is om stil-stil besig bly.” 

Bredie of soesji?

“Bredie. Elke keer. Dit is trooskos.”

Beskryf die oomblik toe jou “dam se eende” by die Kokkedoor-stoor ingestap het. En hoe groot is die rol wat Taya in jou lewe speel?

“Dit was baie emosioneel. Ek dink eers toe hulle instap, het ek regtig besef waar ek is en hoe ver ons gekom het. My mense hou my op my plek – hulle herinner my wie ek is. Taya speel ’n groot rol in my kosmaak-storie; sy was nog altyd deel van my kombuis en my lewe. Baie van wat ek kook, kom uit daardie gedeelde oomblikke saam met haar. In daardie oomblik het alles net sin gemaak.”

Dirk het jou geterg en gesê: “Bly kalm en Hanna aan”. Is jy altyd kalm, of spartel dit soms onder die water? Wat is jou geheim?

“Ek raak vinnig gestres, ja – dit borrel maar maklik onder die oppervlak. Gelukkig is Dirk altyd daar om my te kalmeer en my terug te bring aarde toe. Hy het ’n manier om dinge ligter te maak en my te laat asemhaal. My geheim is nie dat ek altyd kalm is nie, maar dat ek weet wie ek nodig het wanneer ek nie kalm is nie.”

Kokkedoor
“My geheim is nie dat ek altyd kalm is nie, maar dat ek weet wie ek nodig het wanneer ek nie kalm is nie,” deel Hanna.

Jy gaan vir jou ’n borduurmasjien aanskaf met jou prysgeld. Gaan dit een van jou volgende besighede wees of bloot net vir jou eie genot?

“Die borduurmasjien gaan eers vir my eie genot wees. Ek glo dinge groei natuurlik wanneer dit met vreugde begin. As dit later iets meer word, sal dit op sy eie tyd gebeur.”

Dirk vertel: 

Jy het sonder huiwering vir Herman gesê jy sal weer iets soos Kokkedoor: Son & see takel. Is dit die adrenalien of die kreatiwiteit wat jou dryf?

“Dit is beslis die kreatiwiteit wat my dryf – maar die adrenalien help nogal. Ek hou daarvan om onder druk te skep, om iets uit niks te bou, en om te sien hoe ’n idee op ’n bord lewe kry. Kokkedoor het my weer herinner hoekom ek kosmaak só geniet: dis storievertel met jou hande.”

Wat was vir jou die kosbaarste oomblik in die reeks?

“Die kosbaarste oomblikke was die stiltes tussen-in. Daai paar sekondes wanneer ek en my ma mekaar net aankyk en weet: ons is in hierdie ding saam. En natuurlik om saam met my ma ’n kombuis te deel en saam ons kosstorie te vertel – dit was goud.  Daar is soveel oomblikke waar my ma nuwe tegnieke en nuwe maniere van kosmaak in die gesig moes staar tydens die reeks, en om te sien hoe sy alles net aangryp en nuwe dinge leer sonder om teen te skop.” 

Kokkedoor
“Die kosbaarste oomblikke was… natuurlik om saam met my ma ’n kombuis te deel en saam ons kosstorie te vertel – dit was goud,” meen Dirk. 

Hoe het dit vir jou gevoel toe jy die verskillende gas-beoordelaars ontmoet het? Was daar ’n gunsteling onder hulle? Vertel meer. 

“Dit was opreg intimiderend – maar terselfdertyd ongelooflik inspirerend. Elke gas-beoordelaar bring iets éie na die tafel toe, en jy leer vinnig hoe verskillend mense kos ervaar. As ek één moet uitsonder, was Reuben Riffel beslis ’n hoogtepunt. 

“Hy is ’n groot kosgees in ons land en iemand na wie ek al vir jare opkyk. Die manier waarop hy kos benader – met respek vir produkte, mense en storie – is vir my ’n absolute inspirasie. Om sy eie resep vir hom te kon maak, en om eerlike terugvoer van hom te kry, was besonders.”

Kokkedoor
Die bekende sjef Reuben Riffel, hier aam met die beoordelaars en aanbieders Yolani Abrahams en Herman Lensing, se besoek was een van Dirk se hoogtepunte op die reeks.

As jy weer kon kies, sou jy dieselfde rigting met kos ingeslaan het? Wat is daar nog wat jou laat tiek?

“Ja, ek sou weer dieselfde rigting inslaan. Ek glo in kos met ’n storie – kos wat jou êrens heen vat. Wat my nog laat tiek? Die fyn balans tussen eenvoud en finesse. Ek dink daar is nog baie stories om te vertel, veral uit die Karoo.”

Soet of sout? En jou gunsteling.

“Sout . . . maar met iets soets aan die einde. Om sout te kook bly die beste, maar ek glo aan poeding na ’n maal. Al is dit hoe klein, elke ete moet afgesluit word met iets soets.” 

Beskryf die oomblik toe jou “dam se eende” by die Kokkedoor-stoor ingestap het. Het jy ooit verwag jy gaan vir JC sien instap?

“Daai oomblik toe hierdie “dam se eende” by die Kokkedoor-stoor instap, het my behoorlik aan die keel gegryp. Jy is só vasgevang in die kompetisie en die druk, en skielik staan jou mense daar – jou veilige plek, jou ankers. Dit het my weer grond toe gebring en my laat onthou hoekom ek hier is. Om vir JC daar te sien, het my heeltemal onkant gevang. Ek het dit glad nie verwag nie, en dit het daardie oomblik net soveel meer betekenisvol gemaak. Dis iets wat ek altyd saam met my gaan dra.”

Jy’t so halfpad deur die reeks erken verwagtinge begin nou opbou vir ’n wen. Het jy in enige stadium getwyfel of dit wel julle gaan wees om die gesogte Goue (en pienk) Haan julle s’n te maak?

“Ja, daar was twyfel. Baie. Ek dink dis menslik. Jy bou verwagtinge op, maar jy weet ook hoe sterk die kompetisie is. Tot die laaste oomblik het ek nie geweet nie – en dalk is dit hoekom die wen so ongelooflik soet was.”

Kokkedoor
Dié ma-en-seun-span het lekker baie drukkies in die kombuis gedeel!

Die “Karoo-knarsie” – het jy dit al baie keer vantevore gemaak en hoe het dit ontstaan?

“Die Karoo-knarsie het met verloop van tyd ontstaan – dis nie iets wat oornag gebeur het nie. Ek het al met elemente daarvan gespeel, maar Kokkedoor het my die kans gegee om dit regtig te verfyn  Die konsep en die idee het ek as student by ’n troue gekry van een van die canapés wat bedien was. Dit was heerlik en ek het met die hulp van Google en my eie kennis ’n resep ontwikkel. Vir baie jare was dit ’n go-to-southappie vir my. 

“Later saam met JC het ons begin met die Karoo-bossie en die gebruik daarvan in kos. Die Karoo-knarsie het wel eers op Kokkedoor kennis gemaak met die Karoo-bossie, en ek dink dit werk! Dit is die wonder van resepte. Dit pas aan en ontwikkel oor die jare.”

Van meet af aan het jy jou oog op daai Mervyn Gers-keramiekprodukte gehad. Nou het jy jou eie gekry? Wat beteken dit vir jou? 

“Daardie Mervyn Gers-keramiek was van dag een af ’n droom. Om nou my eie te hê, voel soos ’n sirkel wat voltooi is. Dis nie net nog ’n bord nie; dis ’n mylpaal. ’n Bewys dat drome, as jy hulle hard genoeg najaag, wel vorm kan aanneem. Dis ’n herinnering aan vakmanskap en trots in jou werk, en aan die beloning wat kom wanneer jy jou storie eerlik vertel.”


Die wenners van Kokkedoor: Son & see het R500 000 ontvang, geborg deur World Sports Betting. En elkeen in die span het ook ’n Mervyn Gers-eetstel ontvang. Die tweede span het R180 000, geborg deur Spekko, ontvang.


Kokkedoor: Son & see is op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies