“Bethulie is nie vir my ’n tipiese Vrystaatse dorpie nie,” het Janie du Plessis verklaar toe sy en haar vasberade In die sop: Gastehuisrevolusie-span daar aangekom het. Vir haar voel dit meer soos ’n eiland in die middel van die Vrystaat. Sy kon heeltemal verstaan hoekom Bethulie juis die plekkie is waar kunstenaars en skrywers hulself graag bevind.
Hul bestemming: Joubert-straat 17, waar jy die Old Watchmakers-gastehuis in die hoofstraat sal aantref. Dis waar die eienaar, M Frewen, hul ingewag het. Dit was inderdaad die horlosiemaker se huis en is in 1880 gebou. Toe die Anglo-Boereoorlog gewoed het, was Bethulie die eerste dorp wat deur die Engelse magte verower is en waar die Union Jack vir die eerste keer op plaaslike front gehys is.
Die horlosiemaker se huis het in daardie tyd as kantore vir die kommando gedien, maar die arme offisiere het veel meer in die huis raakgeloop as strategie- en oorlogpraatjies.
“Mag ek sê van die spook?” wou M versigtig weet, en toe vertel sy van die spook in die rooi kamer. “Mense hoef nie te skrik nie. Dis eintlik ’n belewenis,” sê sy. Die spook, verduidelik M, is glo net die gedaante van ’n sagte vrou wat graag in een van die kamer se stoele sit, maar sy het die tannie nog nie self gesien nie.
M het vir die span vertel dat haar drie buitekamers eintlik die gewildste onder haar gaste is. Een is klein, een is ruim en met die derde een het sy waarskynlik ’n fout begaan met die teëls wat sy daar ingesit het. “Daai teëls is te besig,” het sy gevoel.
M kon nie uitgepraat raak oor al die gebak wat by die gastehuis self gemaak word nie. Sy het ook genoem dat die Watchmakers-gastehuis die plek is waar vriende en vreemdelinge ewe gemaklik saamkuier.
Min het M geweet dat een spesifieke besoeker genaamd Dirk Jacobs geen gewone gas was nie. Hy was natuurlik daar om vooraf op die gastehuis te “spioeneer” en daarna sy waardevolle indrukke met die In die sop-span te deel sodat hulle ook ’n beter idee kon kry van die potensiële pad vorentoe.

Griki Lubbe was die dekorkenner wat vir Janie en die span kom bystaan het met haar insette en kreatiwiteit. Sy beskryf haar eie styl as iets met kleur, en ’n bietjie oud en ’n bietjie nuut. “Jy gebruik van wat jy het en dan bring jy bietjie van die nuwe goeters in. Jy wil hê die persoon se persoonlikheid moet uitkom.”
Die een ding waaroor sy en Janie dadelik saamgestem het, was dat hierdie gastehuis sommer geheel en al oorgedoen moet word, maar vanweë tyd en begroting sal dit nie hierdie keer moontlik wees nie.
Ook die rooi kamer met die spooktannie? “Nee, daai kamer het te veel werk nodig, en ons wil haar nou nie ontstel nie,” het Griki gesê.
“Ons wil nie spoke opjaag nie,” het Janie tong in die kies opgemerk. En só het die twee besluit daai deur gaan hulle dig toe los.
Hul voorlopige plan van aksie was om die drie buitekamers en die tuin te takel. Maar die hoofhuis het ook ’n bietjie liefde nodig gehad. Dalk verf of so, het Griki voorgestel. “Dis baie wat jy wil doen! Drie hele kamers, twee flippen tuine én die voorkant,” was Janie se verstomde reaksie. Maar kykers weet mos teen dié tyd dinge roer wanneer die In die sop: Gastehuisrevolusie-span al hul vernuf en kragte saamsnoer.
“Almal help, want niemand het ronde hande nie,” was Griki se opsomming van die span se ingesteldheid. En so het Janie, lipstiffie en al, op haar knieë vloere geskrop.
M vertel meer oor hoe sy die proses ervaar het en waar daai “M” vandaan kom”
Is dit “Em” of “M”?
“Oukei, nou moet ek dit op TV uitlap: Die naam “M” het baie jare terug ontstaan – op 16 Januarie 1980. My man het presies die dag en datum onthou, want dit was ons eerste ontmoeting.
“Daar was ’n klop aan die deur, en toe ek oopmaak, staan dié vreemde man daar. Ek het hom al voorheen gesien op die balkon van die woonstel langs myne. Hierdie dag was ek egter baie besig met boeke merk en het nie veel tyd vir geselsies gehad nie, maar die man wou opsluit saam met my koffie drink.
“Ná die koffie is hy huis toe, en hy het toe vir sy ma dadelik laat weet dat hy sy trouvrou ontmoet het. In sy boodskap aan haar het hy gesê: “Haar naam is M.” Dis hoe die naam “M” ontstaan het.”
Wat is vir jou een van die merkwaardigste herinneringe aan jou skoolhoudae?
“Dat die kinders my nog nie vergeet het nie. Van hulle is al moeders, vaders, oupas en oumas. En hulle kom kuier nog gereeld by my. Dis so lekker om te dink ek het ’n verskil in hulle lewens gemaak.”
Hoekom het julle na Bethulie gekom?
“My man het in daardie jare die boerdery by sy pa oorgeneem.”
Wat het jou motiveer om vir In die sop: Gastehuisrevolusie in te skryf? En het jy soms gewonder of dit die regte ding was om te doen?
“Dit was ’n laasteminuut-inskrywing. My vriendinne het my aangemoedig om in te skryf, en toe dink ek: Wie nie waag nie, sal nie wen nie. Ek het nooit daaraan getwyfel of dit die regte besluit was nie.”
Jou ervaring met Janie en haar reguit terugvoer: Was dit vir jou moeilik om te hoor, of het jy verstaan hoekom sy daardie raad gegee het?
“Janie kan die siel van mens aanvoel, en sy het my met baie deernis behandel. Haar terugvoer was inderdaad nodig. Komplimente en kritiek gaan hand aan hand. Om die een te kry, moet jy ook die ander een kan ontvang.”
Hoe het jy gevoel om jou gastehuis aan die span se genade oor te laat?
“Dit was met baie opwinding en groot genot dat ek my gastehuis se perseel verlaat en dit in hul bekwame hande oorgegee het.”
Is daar van jou gaste wat wel al nader kennis gemaak het met jou geheimsinnige gas? En weet jy dalk meer van haar?
“Daardie onwelkome gas in die rooi kamer? Gelukkig het ek haar self nog nooit gesien of ervaar nie. Dis daardie mense wat met die helm gebore is, wat ons van haar vertel het. Sy is glo ’n vrou met lang wit hare en boonop is sy ook ’n vriendelike spook.”
As jy nou terugkyk na die eerste dag wat jy jou gastehuis se deure oopgegooi het tot vandag, het jy ooit gedink dit sal so uitwerk? En hoe voel jy nou?
“Ek was in ekstase en het deurentyd bly glo aan my man se gunstelingwoorde: ‘God’s timing is always right‘.”
Dit was duidelik dat jy half gesukkel het om jou pryse vir die restaurantgedeelte te verhoog. Hoe het jy gevoel toe Toitnette du Toit vir jou sê: “Liefde betaal nie die elektrisiteit nie.”?
“Toitnette was reg. Die restaurant se inkomste was soos manna in die Bybel – elke dag se inkomste was net genoeg vir my. Baie dankie, Toitnette, vir jou wyse raad. Jy het vir my gesê produkte is soos ‘een aan die bas, een in die kas en een in die was’. Nou is ek besig met ’n nuwe spyskaart wat veel kleiner, maar beslis nog steeds lekker sal wees.”
Het jy al enige veranderinge ervaar sedert die In die sop: Gastehuisrevolusie-span vir oulaas weggetrek het?
“Ek is reeds oorval met gaste – selfs nog voor die program uitgesaai is. Bethulie se mense, my hartsmense, staan in verwondering oor wat die In die sop-span hier vermag het.”
Wat sou jy vir ander gastehuise wat ook in die sop is, wou sê?
“Doen dit! Hierdie is die kans van ’n leeftyd.”
Enige boodskap aan die In die sop: Gastehuisrevolusie-span?
“Die span het al my verwagtinge oortref. Ek is ewig dankbaar vir hierdie wonderlike geleentheid en sien sommer kans vir nog 20+ jaar in die bedryf. Dankie! Julle is puik!”
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.