In die sesde episode van kykNET se kraakvars koswerklikheidsreeks Kokkedoor: Son & see begin die spanning sterk opbou. Daar is vier spanne oor, wat almal hoop om deur te dring na die halfeindronde.
Waar die spanne die afgelope paar episodes gewoond geraak het aan gasbeoordelaars wat bekend is in die koswêreld, gaan hulle – op ’n baie goeie manier – verras word wanneer Hannes van Wyk Donderdagaand (25 Desember) die Kokkedoor-stoor binnestap.

Hy’s ’n man van vele talente wat as akteur en programaanbieder ’n integrale deel van Afrikaanse TV-kykers se wêreld is. Dit kom al ’n lang pad – van sy dae as Krynauw du Buisson in Egoli: Plek van Goud (1991) tot verskeie flieks, die spelvervaardiger van Suidooster (vanaf 2021) en dan vanaf 2023 natuurlik as Magda (Desiré Gardner) se verstrooide man, Erhard, die ou wat soms verkeerde dinge met die beste bedoelings kwytraak in die reeks Magda Louw.
Maar hy is wel ook iemand wat goeie kos waardeer en geniet.
Jy terg in die episode dat jy nie eens ’n roosterbroodjie kan maak nie. Wat is wel van jou gunsteling-geregte om in die kombuis aanmekaar te slaan?
“Nee, ek het nie geterg nie. Ek is regtig nie goed in die kombuis nie. Ek is wel nie te sleg om ’n heerlike ontbyt te maak nie, en, o ja, ek kan ’n tafel pragtig dek. As jy by my kom eet, sal jy dus by ’n baie mooi tafel met lapservette aansit … en ’n toebroodjie eet.”
Onthaal jy graag?
“Ek het altyd baie onthaal, maar doen dit nie meer so gereeld nie. Ek is so baie weg van die huis af en is ook die hele tyd tussen mense. Dis nou net vir my lekker om by die huis te wees met ’n paar intieme vriende. Ek het ook twee honde wat soos kinders vir my is, en dit is lekker as goeie vriende kom kuier wat ook lief is vir my hondekinders.”
Wat is jou go-to-resep in ’n krisis?
“Dit sal altyd my ma se souttert wees. Ek het ook darem my ma se beesstertresep as ek regtig groot wil gaan en tyd het. Ek kan seker ’n paar geregte maak, máár (en dis ’n groot maar) dan moet die resep reg wees, want omdat ek nie so kundig in die kombuis is nie, volg ek ’n resep slaafs na.”
Die ma-en-dogter-span Caroline en Anél is nie net groot Kwêla-aanhangers nie, maar ook gek oor jou ma se souttert. Hoe het hulle terugvoer vir jou gevoel?
“Dit was so lekker om te hoor. Veral dat my ma se souttert iets is wat hulle aan die personeel en in hul snoepie voorsien. Ek dink ook Ma sou baie trots gewees het om te weet haar souttert is landwyd bekend.”

Kykers weet jy en jou ma het ’n ongelooflike band met mekaar gehad. Wat is van jou spesiaalste herinneringe van haar wat jou bybly?
“Daar is so baie spesiale herinneringe. Ma is nou amper drie jaar oorlede, en ek verlang so baie na haar. Die verlange word amper vir my erger en nie beter nie. Ek en Ma kon altyd so lekker saamlag en dinge geniet. Ons het ook alles met mekaar gedeel. Sy was die perfekte ma.”
Hoe sou jy jou ervaring op die Kokkedoor: Son & see-stel beskryf?
“Dit is was heerlik, en al is die episode reeds voor Kersfees verfilm, was daar ’n jolige Kersfees-atmosfeer op die stel.”
Wat is jou wens vir 2026?
“My groot wens vir 2026 is rustigheid vir ons almal. Waardeer die mooi klein dingetjies in die lewe. ’n Voëltjie wat in die tuin baljaar, honde se manewales wat jou laat lag. Waardeer en spandeer tyd saam met familie en hartsvriende.”
Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.