Menu terloops
In TV [20 Jan 2026]

Moenie misloop! 7 redes om ‘Een keer om die son’ S2 te kyk


Die Van Wyk-familie van ‘Een keer om die son’ is terug vir ’n tweede omwenteling om die son. Hier is sewe redes om dit nie mis te loop nie.

Moenie misloop! 7 redes om ‘Een keer om die son’ S2 te kyk

Die besonderse dramareeks Een keer om die son, wat onder die leiding van akteurs en storieskeppers Ivan Botha en Donnalee Roberts vervaardig is, se tweede seisoen saai vanaf Dinsdag 20 Januarie om 20:00 op kykNET uit. 

As jy die eerste seisoen misgeloop het, kan jy hier op Showmax opvang, want daar is ’n hele rits goeie redes om vir die tweede seisoen voor ’n skerm in te skuif. 

1

Wen-bestanddele

Dié reeks was ’n reusetreffer met die eerste seisoen se bekendstelling in 2024. Die tweede seisoen beloof nog meer emosie en intrige, met oomblikke van humor wat die donker in balans hou – soos ook in ons werklike dag in en dag uit gebeur. Die hoofrolspelers is ook almal terug in hul onderskeie rolle. Jacques Bessenger is dr. Ruan van Wyk, en sy kinders word gespeel deur Liam Bosman (Markus), Alma van Heerden (Leandri) en Klara van Zyl (Sophia). Jana Kruger (Lani), wie se dood Ruan en die kinders steeds verwerk, is weer in terugflitse te sien. Amé (Donnalee Roberts), Ruan se jonger suster, se huwelik het in die eerste seisoen in die hek geduik. Albert Maritz is te sien as Sebastian, ’n afgetrede professor in insektekunde, en Joanie Combrink is Elma, die Van Wyks se matriarg wat in die eerste seisoen met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.

Een keer om die son
Jacques Bessenger keer terug as die wewenaar dr. Ruan van Wyk, wat nou die lewe as enkelpa aanpak. Foto’s: Verskaf
Een keer om die son
Toe is dit nie die einde van die paniekaanvalle vir Markus (Liam Bosman) nie…
2

Storielyne wat raakvat

Een keer om die son
’n Deurlopende tema deur die reeks kyk na die verhoudings tussen ouers en kinders en wat ouers aan hul kinders verskuldig is – al dan nie. Soos wanneer Sophia (Klara van Zyl) in ’n mate ’n belofte uit Ruan (Jacques Bessenger) dwing dat hy nie van haar ma sal aanbeweeg wat romantiese verhoudings betref nie.

Die karakters kom oor die loop van die seisoen se 13 episodes voor etlike uitdagings te staan. Maar wat die vertellings van verslawing, tweede kanse, lewensveranderende gesondheidsprobleme, ontkenning, rou en meer onderskraag, is elke liewe karakter se soeke na verbintenis en aanvaarding, hetsy as deel van hul gesin of in die breë. 

Een keer om die son
Is hulle op ’n avontuur of probeer Elma (Joanie Combrink) en Sebastian (Albert Maritz) net hul probleme vermy?
3

Vonke wat spat

EEN KEER OM DIE SON
Ruan (Jacques Bessenger) en Erika (Cindy Swanepoel) se eerste ontmoeting in die hospitaal se onbetroubare hyser.

Een van die tweede seisoen se nuwe karakters is Erika du Randt, vertolk deur die bekroonde Binnelanders– en Koek-aktrise, Cindy Swanepoel. Erika is ’n maatskaplike werker en ongelooflik toegewyd aan haar rol. Haar paaie kruis in die eerste episode van die nuwe seisoen met Ruan en een hysbak-krisis later is hul chemie reeds tasbaar. Maar hoe gemaak met kleine Sophia wat vas oortuig is haar pa sal nooit van haar ma aanbeweeg nie?

4

Amé se hart, integriteit op die spel

Charl Boshoff (Ivan Botha), Amé se kollega en liefdesbelangstelling, speel ’n groter rol in die tweede seisoen… Maar daar is ’n paar rooi vlae wat begin wapper wat sy gedrag betref. Veral as ’n joernalis begin vrae vra oor moontlike bedrog by die maatskappy waarvoor Amé werk. 

Een keer om die son
Ivan Botha as Charl en Donnalee Roberts as Amé.
5

Ontmoetings

Die jong akteur Heinrich Wentzel, bekend vir sy rolle in Niggies en Die nuusmakers, speel Elijah Smith. Elijah en Leandri ontmoet op ’n ongewone manier.

Een keer om die son
Alma van Heerden as Leandri.
6

Heerlike gasspeler

In die eerste episode van die tweede seisoen is Mandri Sutherland te sien as Niggie, ’n vrou op soek na liefde. Net dalk ’n bietjie te hard op soek… Nietemin, Mandri se rol is klein, maar dis ’n heerlike stukkie komiese televisie. 

Een keer om die son
Mandri Sutherland se kort tydjie op die skerm gaan kykers laat skater.
7

Gedugte span byspelers

Een keer om die son
Salie en Jan word deur Susanne Beyers en Pierre van Pletzen vertolk.

Dan is daar ook nog die gereelde byspelers – waarlik ’n gedugte span. Onder die karakters wat terugkeer, tel Sebastian en Elma se goeie vriende Salie en Jan Wessels (Susanne Beyers en Pierre van Pletzen), Markus se dansmaat en meisie, Charlie (Simone Neethling), Leandri se kêrel, Xavier (Alex van Dyk), en Lani se pa, Trevor de Kock (Deon Lotz). Die verpleegsuster Karen (Isadora Verwey) en Sophia se maatjie Dougie (Johannes Jordaan) kry ook lekker lugtyd in. 

Een keer om die son
Alex van Dyk keer ook terug as Xavier, Leandri (Alma van Heerden) se kêrel. Maar met Xavier nou op universiteit en Leandri nog op skool, word dit gou duidelik dat hul prioriteite al meer verskil.

Die tweede seisoen van Een keer om die son begin op Dinsdag 20 Januarie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitsaai. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer
Sien alle opsies