Menu terloops
In TV [1 Okt 2026]

Dubbele skok vir Willie op ‘Boer soek ’n vrou’


Boer Willie se soeke na liefde in ‘Boer soek ‘n vrou’ het in ‘n doodloopstraat geëindig toe albei pasmaats besluit het om sy plaas te verlaat.

Dubbele skok vir Willie op ‘Boer soek ’n vrou’

Willie se soeke na liefde het in die twaalfde episode van Boer soek ’n vrou op ’n dubbele skok uitgeloop toe albei pasmaats besluit het om sy plaas te verlaat. Terwyl die ander boere hul keuses in dié gewilde kykNET-maatsoekreeks gemaak het, het spanning en teleurstelling op sy plaas tot twee afskeide gelei.

Die gort was reeds gaar ná die vorige aand se braai saam met familie en vriende. Willie het teenoor aanbieder Reandi Grey erken die kuier het nie verloop soos hy gehoop het nie.

Sy afwesigheid die volgende oggend en ’n lang wag daardie middag het sake verder vertroebel.

Hy het die pasmaats om verskoning gevra en verduidelik dat sy middagslapie veel langer geduur het as wat hy beplan het. Maar die verskoning kon nie die ongemak uit die daaropvolgende gesprek haal nie.

Reandi het hom reguit gevra of hy besef hoe dit vir sy gaste moes voel om wakker te word terwyl hul gasheer nêrens te vinde was nie. Daarna moes hulle boonop die middag twee uur lank op hom wag.

Ongelukkigheid

Toe die pasmaats hul sê kry, was dit duidelik dat hul ongelukkigheid oor meer as sy laatkommery gegaan het.

“Ek dink my tyd hiersô is verby . . . ek het eintlik nie meer woorde nie,” het Lezelle aan Willie gesê. Sy het bygevoeg dat sy iemand verdien wat haar alles kan gee wat sy verdien. Daarna het sy omgedraai en weggestap, terwyl Willie tevergeefs sy arms uitgestrek het om haar te groet.

Madelé het dit ook duidelik gemaak dat haar behoeftes nie buite rekening gelaat kon word nie.

“Ek het ook besef ek kan nie heeltyd dink aan wat jy soek en waarna jy kyk nie, want ek moet ook dink aan wat ek soek en wanneer gaan jy op die punt kom wanneer jy in ag neem hoe ék goed sien,” het sy gesê.

Dié keer was daar wel ’n afskeidsdrukkie. Willie se reaksie was: “Dan is dit nou maar so.”

Op pad weg van die plaas het die pasmaats en Reandi tot die slotsom gekom dat hy ’n goeie mens is, maar dalk nog nie gereed vir ’n verhouding nie.

Willie het erken dat hy sake beter kon hanteer het. “Ek was nie die persoon wat ek moes wees om hulle ‘op te pas’ nie,” het hy gesê. Hy het ook nie verwag dat dit vir almal so moeilik sou wees om bloot as vriende uitmekaar te gaan nie.

Ná die gebeure wou hy weer sy mure opbou. ’n Verhouding was volgens hom nie op die kaarte nie. “Mense stel jou teleur.”

Die ander boere se finale keuses

Op die ander plase was daar ook trane, maar groter sekerheid oor wie sou aanbly.

Jack het Anri huis toe gestuur en Hanli gekies. Hy was só emosioneel toe hy sy besluit bekend gemaak het dat Hanli die snikkende boer moes troos. Later het hy aan Reandi verduidelik dat Hanli “die hele vibe” is.

Francois het Beniska gegroet en Sonel gevra om aan te bly. Ook hy moes met die afskeid trane wegvee, maar hy het uitgesien daarna om Sonel beter te leer ken.

Hul besluite volg op dié van Arno, wat reeds die vorige week vir Rosanne gekies het, en JD, wie se kop en hart oor Leoné saamgestem het.

Boer soek ’n Vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream en CatchUp beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
Sien alle opsies