Menu terloops
In TV [26 Nov 2025]

Dis ’n Mondvol in dié week se ‘Kokkedoor: Son & See’ danksy Andriëtte


“Ek was so beïndruk met al die spanne se kreatiwiteit en braafheid om buite die boks uit te dink!” het ‘Masterchef South Africa’-naaswenner en skepper van Mondvol, Andriette Giorgiou, oor haar draai op die stel van ‘Kokkedoor: Son & See’ vertel.

Deur Annelene Oberholzer
Dis ’n Mondvol in dié week se ‘Kokkedoor: Son & See’ danksy Andriëtte

Kykers het verlede week kennis gemaak met Kokkedoor: Son & see, die opwindende nuwe koswerklikheidsreeks uit kykNET se stal. In hierdie reeks, die tiende aflewering van die immergroen reeks, moet agt spanne mekaar die stryd aansê – maar die stryd is nie net tot die verskillende spanne beperk nie. Daar is ook die generasieverband want elke span moet uit twee familielede bestaan wat minstens 20 jaar in ouderdom van mekaar verskil.

Soos in die verlede met vorige reekse, maak daar ook gereeld gerekende gasbeoordelaars hul verskyning. Behalwe vir hul kundige insette, is hierdie gasbeoordelaars ook van groot inspirasie-waarde vir die deelnemers. 

In Donderdag se tweede episode het die Kokkedore die Masterchef South Africa-naaswenner (2022 – toe nog de la Harpe), Instagram-sensasie en die stukrag agter Mondvol, Andriette Giorgiou beter leer ken. Sy’s gedrewe, kreatief en propvol energie. Onlangs het sy tydens ’n onderhoud gesê: “Soos daar ’n ouma van Suid-Afrikaanse beskuit is, sal ek die tannie van Suid-Afrikaanse koekies wees. Hoekom dan nou nie?” 

Inderdaad, hoekom dan nou nie?  

Kokkedoor
Andriette saam met die beoordelaars Herman Lensing en Yolani Abrahams. Foto’s: Verskaf

Jy is ’n Instagram-sensasie en die ma van twee woelwaters (waarvan die jongste so pas gearriveer het). En bakster van formaat. Hoe kry jy alles gebalanseer?

“Ek vra vir hulp! En ja, dit is so moeilik om te erken jy het hulp nodig. Veral as vrou is daar die narratief dat jy alles kan doen. Die waarheid is, ek kan nie. My ondersteuningsnetwerk is alles vir my. My ma hou Aimee vas as ek bak, my man, Andrew, hanteer die besigheid saam met my terwyl hy ook vir Annabelle by die skool optel. My span hou die fabriek aan die rol – it truly takes a village.”

Jy het so byna-byna met die kroon weggestap tydens die vierde seisoen van Masterchef South Africa. Was dit die oomblik wat die deurslag gegee het om Mondvol tot stand te bring?

“Ek wens ek het weggestap met die kroon vir die eerste plek! Maar naaswenner was net so ’n groot prestasie vir my. Die reis by Masterchef het vir my gewys ek kan dit doen. En dit het my geloof in myself gevestig. Die naam Masterchef het verseker vir my baie deure oopgemaak, maar dit is belangrik om te weet jy moet nog self opstaan en aan die deure gaan klop. Ek is diep dankbaar vir elke geleentheid.”

koKKEDOOR, ANDRIETTE
Die belangrikste kriteria vir innoverende koekiegeure? Dit moet lekker proe!

Jou Mondvol-reeks bestaan uit meer as 60 geure. Waar kry jy die inspirasie vir die geure, en wat is jou kriteria wanneer jy ’n geur kies?

“Ek is mal oor temas. Elke maand het sy eie een en die tema gee vir my ’n blank canvas en inspirasie om met nuwe unieke en vars idees na vore te kom. Die belangrikste kriteria: dit moet lekker proe.”

Wat is vir jou die heel lekkerste koekiegeur en hoekom?

“Ek is versot op my rooibostee-koekie. Dit proe soos ’n warm koppie tee, gedrink op ’n Sondagmiddag saam met my ouma se sny melktert. Nostalgie op sy beste.” 

Kokkedoor
Kyk, die deelnemers het hard probeer, maar niemand se koekies kon Andriette se Mondvol-koekies klop nie!

Gee vir ons ’n voorsmake van of die deelnemers jou beïndruk met hul skeppings in Donderdag se episode.

“Ek was so beïndruk met al die spanne se kreatiwiteit en braafheid om buite die boks uit te dink! ’n Mens moet kanse waag… Aan die einde van die dag was elkeen se koekies ’n toonbeeld van waag – en soms wen.”


Kokkedoor: Son & see bestaan uit agt episodes en begin op Donderdag 20 November om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies