Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [10 Jul 2026]

‘Die Wynmeester’ keer terug na die kassie vir tweede seisoen


Ná afloop van ’n suksesvolle eerste seisoen, is dit weer tyd vir ‘Die Wynmeester’ op VIA om die land se wyntalent te ontkurk en te laat asemhaal, net soos ’n goeie wyn dit verdien.

Deur Redaksie
‘Die Wynmeester’ keer terug na die kassie vir tweede seisoen

Die nuwe seisoen van Die Wynmeester gaan wel oor veel meer as net die kuns om ’n wyn te skep waaroor almal praat. Daar word gesels oor die voorbereiding van grond, die rol van besproeiing en hoe daar op versnitte besluit word. Selfs die bottels, kunswerk en subtiele boodskappe van wynetikette word bespreek. 

Die aanbieder is ’n bekende gesig, en vir diegene in die Helderberg-streek in die Wes-Kaap ook ’n bekende stem. Dis weer Danie van der Merwe en hy gaan die reis van ses onafhanklike wynmakers met hope talent met die kykers deel – van die wingerd tot die bottel en wat ook al tussendeur op daardie reis mag gebeur.

In die tweede seisoen word daar selfs nog dieper in die fynere kuns van wynmaak gedelf. Kykers gaan meer leer oor terroir, kultivars, fermentasie, kos-en-wynparing, sosiale media, verkope en markposisionering – en dit gaan gewis vir interessante en insiggewende gesprekke oor ’n glasie wyn sorg. 

Die wynmeester Danie van der Merwe
Danie van der Merwe is weer die aanbieder van Die Wynmeester. Foto’s: Verskaf

Die wynmakers:

Andrew Mellish: Mellish Family Vineyards

Andrew Mellish, Die wynmeester
Andrew Mellish.

Andrew is die eienaar en wynmaker van die boetiekwynprodusent Mellish Family Vineyards in die Durbanville-wynvallei wat bekend is vir terroirgedrewe wyne wat deur antieke skaliegronde en ’n koel kusklimaat gevorm word. 

Andri Hanekom: DA Hanekom Familie Wyne

Andri Hanekom, Die wynmeester
Andri Hanekom.

DA Hanekom Familie Wyne is ook in die Durbanville-area geleë en dié etiket is gebou op ’n diep respek vir terroir en menslike inspanning. Ná ’n dekade se werk met wingerde en druiwe oor die Kaapse Wynland heen, fokus Andri en sy vrou, Yvette, op wyne wat in beperkte volumes gemaak word.

Anrico Solomons: Solomons Family Wines

Anrico Solomons, Die wynmeester
Anrico Solomons.

Anrico verteenwoordig Solomons Family Wines en hy bring die koelklimaat-invloed van Strandveld Cellar naby Elim en Kaap Agulhas na die kompetisie. As ’n jong wynmaker wat in Afrika se mees suidelike wynstreek werk, is Anrico deel van ’n span wat wyne maak wat gevorm word deur maritieme winde, lae opbrengste en intense geurontwikkeling.

Janco de Kock: Anco Wines 

Janco de Kock, Die wynmeester
Janco de Kock.

Janco is bekend vir sy gehaltegedrewe benadering en het reeds ’n 95-punt-gradering by die FedEx Next Generation Awards vir sy Anco 2023 behaal. Sy wyne weerspieël balans, varsheid, tekstuur en ’n kontemporêre uitdrukking van wingerdkarakter.

Lucinda Heyns: Illimis Wines

Lucinda Heyns, Die wynmeester
Lucinda Heyns.

Lucinda bring die perspektief van ’n wingerdboukundige na die reeks. Met ervaring in Suid-Afrika, Kalifornië en Italië, asook ’n dekade se praktiese werk in wingerde en kelders agter die rug, glo Lucinda dat elke wyn by die wingerdstok begin en dat elke oesjaar die potensiaal van sy spesifieke ligging moet eer.

Mahalia Kotjane: Three Quarters Wines 

Mahalia Kotjane, Die wynmeester
Mahalia Kotjane.

Mahalia se liefde vir wyn het begin met ’n skoolprojek oor mikroörganismes en fermentasie, waarna sy na die Wes-Kaap verhuis het om landbou te studeer en later haar loopbaan by wynplase soos Stark-Condé en Lievland Family Wines gebou het. Vandag werk sy onder haar eie etiket en fokus sy op wyne wat met so min ingryping as moontlik gemaak word.

Wat om van die reeks te verwag

Deur die loop van die seisoen word die wynmakers getoets met uitdagings wat die werklike eise van die wynbedryf weerspieël. 

Hulle moet onder meer: ’n Wyn by ’n geheime gereg pas; ’n etiket ontwerp en proe-nota skryf; ’n kaashappie voorberei wat by ’n Kleinood-wyn pas; ’n sosialemedia-video maak waarin hulle die seremoniële kuns van sabrage demonstreer met die bekende smaakmakers Janey en Waney wat byderhand is om raad te gee en hul video’s te beoordeel.

Kykers gaan ook die belangrike fases van wynmaak, van wingerde en besproeiing tot oestyd, fermentasie, bottelering, etikettering, bemarking, entrepreneurskap en verkope van naderby leer ken. 

Die onus gaan op 30 lede van die publiek lê om die wynmakers se wyne te proe en daarvoor te stem. Abrie Beeslaar, hoofbeoordelaar en die man wat as een van die grootste wynmakers in Suid-Afrika beskryf word, sal daarna sy finale punt aan elkeen van die wyne wat ingeskryf is, toeken sodat die Top-3-wynmakers bepaal kan word. 

Natuurlik wag daar nóg ’n finale interessante uitdaging op hierdie drie voordat die wynmeester van hierdie seisoen aangewys kan word.


Die Wynmeester begin op 16 Julie 2026 om 20:30 op VIA en DStv Stream (DStv-kanaal 147) uitsaai.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies