Ontmoetings met familie en vriende is ’n belangrike mylpaal in enige nuwe verhouding. Vir die boere van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou was dit in die 13de episode tyd om dié tree te gee en uit te vind hoe hulle met hul pasmaats se geliefdes oor die weg gaan kom.
Hier is die oomblikke wat uitgestaan het toe Arno, Jack, Francois en JD onderskeidelik met moontlike toekomstige skoonfamilie kennis gemaak het.
1. Sonel se mense keur haar pasmaat goed, maar die keuse bly hare

Francois het Hoedspruit vir Wellington verruil, waar Sonel hom op die padelbaan uitgedaag het. Die twee het hul kompeterende kante ontdek, maar dit was haar ma, Karin, se reaksie wat uitgestaan het.
“Ek het nie geweet hulle maak hulle nog so mooi nie,” het sy gesê.
Karin het ook die kyke tussen die twee raakgesien. Sonel se suster, Rozel, was ewe getref deur hoe stralend sy lyk, iets wat sy lanklaas gesien het.
Haar pa, Kobus, het egter die belangrikste besluit by die paartjie gelaat: “Ek glo en vertrou dat hulle gelukkig sal wees as hulle sélf besluit hulle is vir mekaar.”
2. Jack het die nefies se toets geslaag

Hanri was vol vertroue dat Jack by haar familie in Durbanville sou inpas. Haar ouers, Janneke en Henk, se eerste indrukke was positief, en haar broers het gevoel die paartjie is dieselfde tipe mense.
Maar die bondigste beoordelaars was haar drie nefies.
“Ek dink Jack is goed,” het Morné verklaar. Adrian het hom perfek vir Hanri geag, terwyl Simon sy eie maatstaf gehad het: “En ek dink Jack is mooi.”
3. Arno se ondersteuning het meer as sy geskenke gesê

Arno het nie met leë hande by Rosanne se familie opgedaag nie. Daar was blomme vir haar ma, Ilsé, sjokolade vir haar skoonsuster, Melissa-Leigh, en biltong vir haar broer, Ruan.
Die familie het hom op sy verjaardag met “Lekker verjaar” verwelkom. Toe Rosanne emosioneel raak, het hy gehelp om die ys te breek.
Dit het Ilsé diep geraak. Sy het hom as oop, eerlik en opreg beskryf en veral waardeer hoe hy haar dogter ondersteun het.
4. Leonè se kaalvoet skietery was vir JD ’n kolskoot

JD se senuwees was groter as wat Leonè se ouers besef het. Haar pa, Jan, het hom juis as kalm ervaar en hom ’n “mooi seun, ’n eerlike seun” genoem.
Met die kleiduifskiet het JD aanvanklik gesukkel voordat hy ’n teiken getref het. Leonè wat kaalvoet gaan skiet, het egter sy aandag behoorlik getrek.
“Haar persoonlikheid raak net vir my beter,” het hy glimlaggend erken.
In volgende week se voorlaaste episode van dié seisoen pak die boere en hul pasmaats hul tasse vir die vakansieweek. Weg van die plaas, familie en vriende kry hulle kans om mekaar nóg beter te leer ken.
Boer soek ’n Vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream en CatchUp beskikbaar.