Suidooster se geliefde Mrs J het in ’n skokkende wending gesterf – 11 jaar nadat Theresa Sedras dié karakter in 2015 aan kykers bekendgestel het.
Mrs J se kuier by haar dogters het in tragedie geëindig toe sy TK (Jesse Frankson) in Bridgette (Denise Newman) se huis betrap het. Hy het in opdrag van Nazeem (Irvine van der Merwe) ingebreek om onwettige diamante daar te plant en só vir Bridgette in die moeilikheid te laat beland. Toe Mrs J hom verras, het hy haar trompop doodgeskiet.
Haar onverwagse dood het die Jacobs-gesin en die res van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, in rou gedompel.

Op 62 kry sy haar droomrol
Met die afsluit van Mrs J se storielyn, kyk Theresa terug op die rol wat ’n jarelange droom bewaarheid het. Ná dekades op die verhoog het Mrs J haar uiteindelik die kans gegee om haar talent in ’n uitdagende televisierol uit te leef.
Teen die tyd dat Suidooster oor haar pad gekom het, het sy al begin aanvaar dat dié geleentheid haar dalk sou ontwyk.
“En toe, op 62, kry ek haar! Ek het baie jare se ervaring saamgebring, maar ook nog soveel gehad om te leer.”
Op ’n ouderdom wanneer mense eerder oor aftrede begin uitvra, het Theresa die kans gekry om iets nuuts aan te pak. Mrs J het haar ruimte gegee om haar ervaring te gebruik, maar ook om haarself verder uit te daag.
Haar liefde vir toneelspel het reeds as kind begin toe sy haar ouers op die verhoog sien optree het. Later het sy self in kerkproduksies gespeel. Groot geleenthede vir akteurs van kleur was destyds skaars, maar haar begeerte om stories te vertel het gebly.
Met Mrs J het sy ’n karakter gekry met sterk oortuigings en ’n diep liefde vir haar familie. Agter die ferm optrede was daar egter ook ’n kwesbaarheid wat Theresa mettertyd beter leer verstaan het.
“Hoe langer jy met ’n karakter saamleef, hoe meer fasette van haar ontdek jy. Jy begin verstaan wat agter ’n skerp antwoord of ’n hardnekkige besluit sit.”
Mrs J se besorgdheid oor haar kinders het nie altyd op die sagste manier uitgekom nie. Juis daardie mengsel van liefde en hardkoppigheid het haar herkenbaar gemaak: die ma, ouma of tannie wat weet wat in die familie aangaan en nie huiwer om haar mening te gee nie.
“Sy het ’n mening en sy gaan dit waarskynlik vir jou gee, of jy gevra het of nie!”
Die verhouding tussen Mrs J en haar dogters, Bridgette en Lee-Ann (Portia Joel), was ’n belangrike deel van haar verhaal. Vir Theresa moes kykers kon aanvoel dat dié vroue ’n leeftyd se herinneringe, teleurstellings en liefde deel.
Daardie vertroudheid lê dikwels in klein oomblikke: ’n ma wat hoor iets skort, selfs wanneer haar kind volhou dat alles reg is. Die vroue kon mekaar liefhê en steeds diep seermaak. Hul verskille het gewig gedra omdat hulle vir mekaar saak gemaak het.
Besonderse storielyn
Van die vele uitdagings wat Mrs J gebring het, bly die bloedkankerstorielyn in 2018 vir Theresa besonder betekenisvol. Sy het geweet mense wat self met kanker leef, sou kyk, en sy wou hul ervaring met waardigheid uitbeeld.
Om haar voor te berei, het sy haar dogter, Olivia, wat in onkologie by Groote Schuur gewerk het, om hulp gevra.
“Ek wou hê hulle moes voel ons het met respek aan hierdie deel van hul lewens geraak.”
Die kykers se reaksie op Mrs J se siekte het haar laat besef hoe persoonlik hulle die karakter se verhaal beleef. Wat op die skerm gebeur het, het geraak aan ervarings wat baie mense uit hul eie lewens ken.
Daarin lê vir Theresa ook die waarde van Suidooster: die geleentheid om haar gemeenskap se stories te vertel en ruimte te help skep vir ouer mense se ervarings.
Mrs J het haar terselfdertyd gewys hoeveel sy self nog as aktrise kon ontdek.
“Ek dra daardie wete saam met my: jy hoef nie op ’n sekere ouderdom klaar te wees met jou drome nie.”
Haar grootste dank bly aan die mense wat die karakter oor die jare deel van hul daaglikse lewe gemaak het.“
Aan die kykers wat Mrs J in hul huise en harte ingenooi het: dankie. Om ná soveel jare se hoop ’n karakter te kon vertolk wat vir mense iets beteken, is ’n voorreg wat ek nie vanselfsprekend aanvaar nie.”