Wyn hoef nie ingewikkeld te wees om geniet te word nie. Dít is die gees waarmee die aanbieder JP Quickelberge die derde seisoen van Kelderklas op VIA aanpak. Dié keer lei die pad nie net na wingerde en kelders nie, maar ook na feeste waar wyn deel van die groter kuier is – van Innibos in die Laeveld tot Blomme & Bubbles aan die Weskus.
Langs die pad spring JP tydens parstyd in, ontmoet die mense agter die bottels en ontdek opnuut hoeveel werk en passie in elke glas skuil.
Hier gesels hy oor die nuwe seisoen, sy onverwagte ontdekkings en waarom ’n mens gerus jou eie smaak kan vertrou.
Kelderklas is terug vir ’n derde seisoen. Wat wou jy dié keer anders doen, en waarna kan kykers veral uitsien?
Ons het dié seisoen ’n bietjie aan Kelderklas se versnit gewerk! Ons het ’n skeut fees bygevoeg deur ’n paar van Suid-Afrika se bekende feeste te besoek. Ons wou sien wat daar gebeur en watter wyne mense daar geniet.
Ons het ook saam met ’n plaaslike sjef verder verken hoe kos en wyn mekaar kan aanvul. Maar kykers sal tot die laaste episode moet wag om te sien waarmee ons vorendag kom. Vir ’n verandering het ons die Wynland ook ’n bietjie in die winter beleef.
Julle begin die seisoen tydens parstyd by Creation en Benguela Cove. Hoe was dit om self hand by te sit, en wat het jou verras oor die werk agter ’n bottel wyn?
Elke keer wanneer ek tydens parstyd in ’n wingerd of kelder beland, tref dit my opnuut hoeveel tyd, moeite en aandag in wyn ingaan. Dis werklik ’n liefdestaak. Dit laat my ook besef hoe bevoorreg ons in Suid-Afrika is om sulke fenomenale wyne te hê.
Wynmakers en wingerdboukundiges swoeg en sweet die hele jaar om seker te maak dat net die beste eindproduk op die rak beland. Om jou vraag te beantwoord: alles verras my, elke keer! Dis indrukwekkend om te sien hoeveel vernuf, passie en trots elkeen na die proses bring – van die snoei van die wingerde tot die laaste etiket op ’n bottel.
Braam Steyn kuier saam met jou by Villion. Wat gebeur wanneer julle twee saam ’n wynplaas besoek, en is daar ’n oomblik uit dié episode wat jou steeds laat lag?
Ek en Braam speel graag saam gholf wanneer ons skedules dit toelaat. Dis altyd gesellig – totdat hy vertel van “daardie een keer” toe hy vir Italië gespeel het en hulle die Bokke geklop het.
Natuurlik moes hy dit ook tydens ons besoek aan Villion opper. Ek het hom sommer vinnig in die rede geval, en hy was nie juis beïndruk nie! Ek kon dit net nie nóg ’n keer aanhoor nie. ’n Mens wil tog nie ’n goeie glas wyn met so ’n bitter gedagte bederf nie.
Maar ons is goeie vriende, en dit was groot pret om die ervaring met hom te deel. Ons het gelag, wyn geniet en mekaar ’n bietjie lip gegee – soos ’n mens maar op Kelderklas doen.
Vir die eerste keer besoek Kelderklas ook feeste, waaronder Innibos, Blomme & Bubbles en die Woordfees. Wat het dié kuiers tot die reeks toegevoeg?
Vir my gee dit ’n ekstra dimensie aan die program. Ons wys kykers wat elders in die land gebeur en gee hulle hopelik ’n paar idees vir hul wenslys. Wyn hoef immers nie net op ’n wynplaas in die Kaap geniet te word nie.
Dis ook ’n lekker geleentheid om meer van die land te wys: wat daar is om te doen en watter plekke kykers dalk nog nie besoek het nie. Dit sluit mooi aan by wat ons met Kelderklas wil bereik: om wyn toegankliker en minder intimiderend te maak.
En natuurlik ontmoet jy ’n paar lekker karakters en leer jy iets op elke uitstappie. Of jy nou aan die Weskus blomme kyk en vonkelwyn drink, of in die Laeveld met jou tweekleurhemp en ’n glas rooiwyn na Juanita du Plessis luister – wyn kan deel van die kuier wees.
Watter wynmaker of persoon wat jy dié seisoen ontmoet het, se verhaal het jou die meeste geraak, en waarom?
Dis ’n moeilike vraag, maar die eienaars van Escape Wine se verhaal staan vir my uit. Hulle het saam met vriende in Hermanus vakansie gehou en ná ’n paar glase wyn besluit dit sal ’n goeie idee wees om grond in die Walkerbaai-gebied te koop.
Teen Februarie die volgende jaar het hulle ’n stuk grond by Karwyderskraal gekry en besluit om wyn te begin maak. Nou ja, wat weet ’n groep vriende van Pretoria van wynmaak? Maar hulle het dit laat werk. Met hulp van wynmakers in die omgewing, vriende se kennis en hope deursettingsvermoë produseer hulle vandag wyn uit hul eie wingerde en leef hulle hul droom uit.
Wat my tref, is dat hulle ’n visie gehad het, dit nagejaag het en ’n sukses daarvan gemaak het. Hul gesinne is betrokke en almal spring in wanneer daar hulp nodig is. Só het ’n paar ingenieurs van Pretoria die stadsliggies vir ’n plaas met ’n see-uitsig verruil.
Van die Hemel-en-Aarde-vallei tot Paternoster en Robertson: watter plek of wynervaring was vir jou die grootste ontdekking van die seisoen?
Spookfontein het my werklik verras. Dit lê in die pragtige Hemel-en-Aarde-vallei, maar die plaas self is ook besonders. Dis ’n juweel – die uitsig, die verblyf, die mense, die wyn en die kos.
Dis een van daardie plekke waar jy nie net gou kan inloer nie, want jy gaan spyt wees wanneer jy moet ry. Jy moet dit self besoek om te verstaan!
By Paul René leer jy hoe suiker vir die maak van Cap Classique getoets word. Wat het jy oor drie seisoene van wyn geleer wat die manier waarop jy dit proe en waardeer, verander het?
Die grootste les is dat smaak verskil. Net omdat ek nie van ’n wyn hou nie, beteken dit nie jy gaan ook nie daarvan hou nie. Dit is die goue draad deur my hele pad in die wynbedryf.
Moenie voel jy moet met iemand saamstem bloot omdat hul wynkennis jou intimideer nie. Drink wat vir jou lekker is. Geniet dit saam met lekker mense, goeie kos en ’n mooi uitsig – maar selfs daardie dinge is nie ’n vereiste nie. Wyn is ’n ervaring, en elkeen van ons mag dit op ons eie manier beleef.
Wat sou jy sê vir iemand wat van wyn hou, maar geïntimideer voel deur wynplase en wynproe? Hoe hoop jy help Kelderklas hulle om met meer selfvertroue saam te proe?
Daar is geen rede waarom wyn intimiderend hoef te wees nie. Mense wat met hul wynkennis spog, kan jou soms so laat voel. Maar mense wat wyn werklik ken en liefhet, wil jou gewoonlik welkom laat voel en hul kennis met jou deel.
Wynmense is passievol. Hulle verstaan dat wyn gemaak word om geniet te word en dat dit nie altyd so ernstig hoef te wees nie. Dis die gees wat ons met Kelderklas wil oordra.
Stap dus by die kelder in, proe die wyn en sê wat jy dink. En onthou: ek en jy gaan nie noodwendig dieselfde geure in ’n glas wyn herken nie. Dis heeltemal reg so.
Kelderklas word Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.







