Hier is ons voorstelle vir wat om vandeesmaand te kyk.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
The Miniature Wife
Weeklikse episodes vanaf Maandag 31 Augustus om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101).
Dié komediedrama, gegrond op ’n kortverhaal, is veel meer as net ’n sci-fi-storie met ’n skeut humor. Dit ontvou eerder as ’n skerpsinnige ondersoek na die magsdinamiek binne ’n huwelik, en spesifiek hoe dit hier tussen Les, ’n wetenskaplike, en sy vrou, Lindy, ’n romanskrywer, uitspeel.
Wanneer een van Les (gespeel deur Matthew Macfadyen) se eksperimente vir Lindy (Elizabeth Banks) laat krimp tot ’n skamele 15 cm lank (of kort?) raak die magsbalans in hul huwelik selfs meer ingewikkeld. Sien, Les verkleineer nou al vir ’n wyle vir Lindy soos sy met skrywersblok sukkel. Wanneer sy eksperiment skeefloop, word sy aanhoudende figuurlike verkleinering ’n letterlike werklikheid. Soos hy dan ’n oplossing probeer vind, word verborge geheime van ’n huwelik wat besig was om uitmekaar te val, blootgelê.
The Globe and Mail skryf in hul resensie oor die reeks: “Dit is verrassend insiggewend oor die verskillende maniere waarop mans en vroue ruimte in ’n huwelik inneem – en hoe ou idees oor mans en vroue steeds ’n groot invloed het.”
The Agency S2
Weeklikse episodes vanaf Woensdag 5 Augustus om 20:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101).
In die tweede seisoen van The Agency keer Michael Fassbender terug as Martian, ’n CIA-agent wat jare lank in ander mense se lewens verdwyn het. Die reeks, gegrond op die bekroonde Franse reeks The Bureau, is ’n stadig ontvouende spioenriller wat net soveel op karakterontwikkeling as op aksie steun.
In die tweede seisoen kruis Martian (óftewel Brandon Colby) se paaie weer met dié van Samia (Jodie Turner-Smith), die vrou van wie hy eens weggestap het. Dit terwyl Richard Gere as stasiehoof James Bradley en Jeffrey Wright as sy adjunk, Henry Ogletree, ’n al groter web van huursoldate, vyandige regerings en verraad moet navigeer.
Silwerskermtoekennings 2026
Sondag 23 Augustus om 19:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).
Jaco Bouwer se boeiende dramareeks Niggies spog met die meeste benoemings by vanjaar se Silwerskermtoekennings vir Film en TV. Onder die ander benoemdes tel Desiré Gardner en Hannes van Wyk vir hul vertolkings in Magda Louw, asook Arno Greeff as beste byspeler in ’n telenovela of sepie vir sy werk as Tristan in Suidooster.
Die wenners word op Saterdag 22 Augustus by die afsluiting van die Silwerskermfees in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangekondig. Die wenners van die beste speelfilm en beste filmakteurs wat by die fees gedebuteer het, word ook by dié geleentheid aangekondig.
Die toekenningsgeleentheid word Sondag 23 Augustus om 19:00 op kykNET uitgesaai. Die name van die aanbieders en spesiale kunstenaars wat gaan optree, sal later bekend gemaak word.
Springbokke vs All Blacks
Kyk die eerste toets Saterdag, 22 Augustus om 17:10, asook die tweede toets Saterdag, 29 Augustus om 17:10, op SuperSport en DStv Stream (DStv-kanaal 201).
Die grootste wedywering in wêreldrugby duur voort wanneer die Springbokke en die All Blacks mekaar in ’n reeks van vier toetse pak. Twee van dié toetse – op Ellispark en dan die DHL-stadion in Kaapstad – word vandeesmaand gespeel en op SuperSport uitgesaai.
Gesels S9
Weeklikse episodes vanaf Saterdag 8 Augustus om 18:00 op VIA en DStv Stream (DStv-kanaal 147).
Gesels keer terug vir ’n negende seisoen waarin motivering, vernuwing en persoonlike groei die botoon voer.
Dié geselsprogram se aanbieder, Leandie du Randt, verwelkom onder andere vir Daniëlla van Heerden, Anrich Herbst, Amalia Uys, Rolene Strauss, Melanie du Bois en Nicole Holm vir openhartige gesprekke oor hul lewens, loopbane en persoonlike groei. Die seisoen verken ook velsorg, mode, tegnologie en plaaslike ervarings.
Reacher S4
Vanaf Woensdag 12 Augustus op Prime Video.
Die vierdie seisoen van die aksiebelaaide Reacher is gegrond op Gone Tomorrow, die 13de boek in Lee Child se internasionale topverkoperreeks en begin met ’n toevallige ontmoeting met ’n ontstelde vreemdeling op ’n moltrein wat rampspoedig skeefloop. Jack Reacher (Alan Ritchson) word só betrek by ’n komplekse, en gevaarlike magspeletjie wat hom teen genadelose vyande uit die hoogste geledere te staan bring.
Ted Lasso S4
Vanaf Woensdag 5 Augustus op Apple TV.
In die vierde seisoen van Apple TV se kroonjuweel keer Ted (Jason Sudeikis) terug na Richmond om ’n heel nuwe uitdaging aan te pak. Dié keer moet die voormalige voetbalafrigter ’n tweedeliga-vrouesokkerspan onder hande neem.
Buiten Sudeikis keer nog kykergunstelinge terug: Hannah Waddingham as Rebecca, Juno Temple as Keeley, and Brett Goldstein as Roy Kent.
Dié komediedrama se eerste seisoen is vir ’n allemintige 20 Emmy-toekennings benoem – die meeste nog vir ’n komedie se eerste seisoen. Die reeks se sukses is deels te danke aan die lekkerte en volrondheid van die karakter en deels aan hoe Sudeikis dan vir Ted Lasso lewe gee.