Bethlehem-boer Junior het dalk nie seisoen 18 se top-5 gehaal nie, maar een van sy briefskrywers het intussen sy verloofde geword!
Boer soek ’n Vrou se 18de seisoen het sy eerste suksesverhaal: Junior (35), van Bethlehem in die Vrystaat, en een van sy briefskrywers, Denisé, gaan in September vanjaar trou. Junior het die top-10 gehaal, maar nie genoeg briewe ontvang om tot die top-5 deur te dring nie.

Hy het wel Denisé (33), ’n rekenkunde-onderwyseres, se brief opgevolg en hul eerste ontmoeting het tot ’n verlowing gelei.
Junior sê Denisé se briewe-pakkie het onmiddellik vir hom uitgestaan. “Dit was absoluut die manier waarop sy haar brief saamgestel het. En, heel eerstens is sy boonop pragtig,” sê hy.
“Sy het kaartjies met baie foto’s van haarself ingesluit en die brief opgebou rondom wie sy is, waarvan sy hou en die tipe dinge wat sy doen. Dit het gevoel asof ek haar reeds ken nadat ek haar brief gelees het. Sy was outomaties my eerste keuse.”
Vat ’n kans op die liefde
Denise erken dit was vir haar ongewoon om daardie brief te stuur. “Dit was heeltemal buite my gemaksone want ek is eintlik skaam en ’n baie private mens,” sê sy.
Haar leerders het vroeër geskerts dat hulle “Juffrou” vir die program sou inskryf, en ook haar ma het haar aangemoedig. “Toe ek Junior se foto sien, het ek net ‘wow!’ gedink. En nadat ek sy video gekyk en sy profiel gelees het, het die vlinders behoorlik begin rondfladder.”
Sy sê dit was veral Junior se passie, ambisie, geloof en begeerte om ander te help wat haar oortuig het om te skryf. “Junior het vir my soos ’n raakvatter geklink: ’n man wat enigiets wat die lewe na hom toe gooi, sal aanpak en ’n sukses daarvan maak.”
Sy het ’n Pioneer 1197 PW-pakkie mieliesaad by haar briewe-pakkie aan Junior ingesluit. Dit was haar “ek hou van jou, Junior”-saadjie.

Eerste ontmoeting
Hulle het mekaar vir die eerste keer op 22 Desember by ’n restaurant in Nelspruit ontmoet.
“Denisé het my van agter af bekruip en laat skrik. Dit het dinge onmiddellik spontaan gemaak en die ys was gebreek,” sê Junior.
“Ons kon net nie ophou gesels nie. Ons het die restaurant daardie aand toegemaak, toe deur McDonald’s se drive-thru gery en daarna op my bakkie se enjinkap gesit en roomys geëet. Daar was van die eerste oomblik af ’n vonk tussen ons.”
Denisé sê Junior het in persoon haar verwagtinge oortref. “Hy het regtig mooi kuite, en hy is langer as wat ek verwag het,” vertel sy laggend. “Ek sou nie sê hy het verskil van die man wat ek op televisie gesien het nie. Die prentjie was eerder volmaak en natuurlik 100 keer beter as wat ek gedink het.”
Ná hul ontmoeting het Junior twee ander briefskrywers, met wie hy ook reeds kontak gemaak het, laat weet dat hy eers sy verhouding met Denisé ’n kans wou gee. Dié besluit het gou ernstig geraak.
“Ek het dit redelik vroeg besef,” sê hy. “Ek het reeds in Maart die ring bestel omdat ek geweet het sy is die persoon saam met wie ek die res van my lewe wil deurbring. Sy is regtig my beste maatjie.”
Verlowing

Junior het haar op 22 Mei, presies vyf maande ná hul eerste ontmoeting, tydens ’n piekniek langs die Vaalrivier by Broadwaters-restaurant in Douglas, waar Denisé skool gehou het, gevra om te trou.
“Sy het gedink dit is net ’n gewone afspraak en het dit glad nie sien kom nie,” sê hy.
Denisé beaam dit: “Ek kon dit nie glo nie! Hy het my heeltemal onkant gevang, en dit nogal in my sweetpakbroek!”
Denisé het intussen Bethlehem toe getrek waar sy ’n werk én ’n woonstel gevind het. “My hele lewe het in ’n oogwink verander en alles het soos ’n sprokie vir ons in plek geval,” sê sy.
“Dit is vir my weer ’n bevestiging dat wanneer God werk, alles net in plek val. Die lekkerste deel is dat ons sommer net spontaan saam laf kan wees.”
Trouplanne
Die paartjie trou in September. “Die seremonie is in ’n kerkie op die dorp en die makietie is op die plaas,” sê Denisé.
“Ons doen alles self, van die kroeg tot die blomme wat ons probeer plant. Dit is harde werk om ’n plaasskuur skoon en gereed te kry, maar ons hou daarvan om dinge interessant en uitdagend te maak.”
Junior sê hy is opgewonde om hul lewe saam op die plaas te begin. “Ek sien uit daarna dat ons die pad vorentoe saam kan aanpak, saam besluite kan neem en ons huis kan inrig. Ek sien ook daarna uit om ’n maatjie te hê met wie ek my lewe kan deel, iemand wat my kan ondersteun en met moeilike besluite kan help.”
Boer soek ’n vrou S18 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.