Die eerste stop van In die sop: Gastehuisrevolusie, die nuwe weergawe van kykNET se gewilde werklikheidsreeks In die sop: Restaurant-evolusie, was ’n gastehuis in Pretoria.
Die aanbieder, Janie du Plessis, het gaan inloer by Susan Marais. Haar gastehuis, 3@Marion, is in Colbyn, ’n gevestigde buurt “waar mense saggies praat”, aldus Janie.
Dié gastehuis is reeds meer as tien jaar lank ’n bestemming vir besoekers aan die Jakarandastad. Dit spog met ’n lieflike ruim tuin, ’n verbleikte, karaktervolle rooi Kombi met ’n mooi storie en ’n reuse-wêreldkaart in die ontvangslokaal waarop gaste met plakkers kan aandui waar hulle vandaan kom. Dis soos ’n visuele registerboek, en vir die eienaars, Susan en Gerhard, is dit ook die plekke op hul emmerskoplysie wat hulle graag eendag sal wil besoek.
Janie se span vir In die sop: Gastehuisrevolusie bestaan uit ’n bekende lid van die vorige seisoene van In die sop, Misi Overturf, Griki Lubbe (’n binnehuisontwerper van Kaapstad) en Willus Bosch (eienaar van Maison Cape Town).
“Die gastehuise wat ons besoek het, was werklik almal diep in die sop,” het Janie voor die aanvang van die reeks gesê. “Maar die verskil wat ons in mense se lewens maak, tref jou diep. Dis ’n besonderse ervaring, en ek voel baie bevoorreg om deel te wees van hierdie program.”
‘Dis altyd ‘n voorreg’
Die radikale transformasie wat by 3@Marion plaasgevind het, het ook na die straat se kant oorgespoel. Die eens vaal muur is nou skitterwit.
“Dit maak so ’n verskil. Nou kan mense sê: ‘Jy weet, daai huis op die hoek met die wit muur? Dis waar jy moet stop,’ ” het dit van Janie gekom.
Misi het vertel dat sy lank reeds die prentjie gehad het van wat sy wou bewerkstellig, maar dit het drie dae “en ’n hele army mense” geneem om die wa deur die drif te trek en in hierdie geval ook die Kombi na ’n nuwe staanplek in die tuin te skuif.
“Maar dis altyd ’n voorreg – en ek is dankbaar daarvoor,” het Misi gesê.
Die finale stempel van goedkeuring was die besonderse kunswerk deur die bekende kunstenaar Theo Paul Vorster. Dit is op ’n ereplek in die ontvangslokaal gehang as simbool dat In die sop: Gastehuisrevolusie se klipharde handewerk hier afgehandel is.
Susan vertel meer van hul reis die afgelope dekade.
Tien jaar gelede het julle eerste gas hier aangeland. Was jy ooit spyt dat julle besluit het om ’n gastehuis te besit, en wat is vir jou die lekkerste daarvan om ’n gastehuis te hê?
Nee, ek was gelukkig nog nooit spyt nie. Ek het as student toerismebestuur geswot en my lewe lank in groot hotelgroepe en lodges gewerk. So, ek het nog altyd geweet dis wat ek met my lewe wil doen.
Die lekkerste van ’n gastehuis is vir my die verrassingselement van gaste verwelkom. Eerstens om Suid-Afrikaners met hul groot glimlagte en hartlikheid binne te nooi en vir hulle te beduie waar die lekkerste kos, mooiste parke en beste avonture in Pretoria is.
Hier is wonderlike staproetes, pragtige geskiedkundige skatte, kuns, inkopies en soveel meer. Keer op keer boek mense uit met ’n nuwe siening van ons stad en sy wonderlike mense.
Maar die heel grootste voorreg is om oorsese gaste te verwelkom. Sommige verwag grondpaaie of leeus in die strate, maar kort voor lank is hulle beïndruk deur ons pragtige stad en sy fasiliteite. Ander is erg bang gepraat voor hulle hier geland het en dan is hulle aangenaam verras deur ons vriendelike, hartlike Suid-Afrikaanse kultuur.
Ek weet menige Suid-Afrikaner maak graag grappies oor soveel goed wat tans nie reg werk nie, maar ons is steeds ’n wêreldklasstad vol ambassades, studente, navorsers, kuns, kultuur, sport en wonderlike restaurante.
Daar is niks lekkerder as om te hoor hoe lekker iemand by die Botaniese Tuine gaan stap het of skemerkelkies in Hazelwood geniet het nie.
Die wêreldkaart by ontvangs waar gaste hul plek van herkoms kan aandui, is ’n oulike idee en lekker interaktief. As jy uit al daai bestemmings net een mag kies, waarheen sal jy graag wil gaan? En hoekom?
Dis vir my onmoontlik om net een bestemming te kies. Reis wys vir jou dat ons eie probleme eintlik maar nietig is, en dit gee vir ons soveel meer deernis vir ander mense en kulture regoor die wêreld. Terwyl ek nie self nou op die oomblik kan reis nie, geniet ek intussen ons gaste van dwarsoor die wêreld se sienswyses, maar heel bo aan my persoonlike emmerskoplysie in hierdie stadium verskyn Viëtnam, Kroasië en Turkye.
“Maar die meeste van alles droom ek en my man om vir ons 20ste huweliksherdenking ons kinders Skotland te gaan wys, waar ek en hy as studente gebly en gewerk het.”
Oor watter gastehuis-ervaring het jy, Clenkey Moyo (perseelbestuurder) en Martha Ramala (gastehuisbestuurder) beskik toe jy 3@Marion begin het?
Ek het op 14 my eerste gasvryheidswerkie gekry: as kelnerin by die Wimpy in die Kolonnade. Nadat ek my graad by Tukkies voltooi het, het ek aangehou om in Suid-Afrika en Engeland in elke vorm van die gasvryheidsbedryf in hotelle en lodges te werk.
Ontvangs, besprekings, housekeeping, food and beverage, events en sommer alles tussenin. Ek ken elke aspek van die bedryf regtig goed, en ek kan met absolute oortuiging sê dat dit my baie gehelp het, maar niks in die wêreld kan jou ooit voorberei op, of so nederig hou soos, entrepreneurskap nie.
Ek het tien jaar gelede gedink ek weet redelik baie, maar hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoeveel daar nog is om te leer.
Ek het Martha ontmoet toe ons saam by ’n groot hotelgroep hier in Pretoria gewerk het, en sy was die eerste persoon wat ek gebel het toe ek die gastehuis begin het. Sy is my regterhand en linkerhand, en ons sou nie hier wees sonder haar kennis en wysheid nie. Sy is die personifikasie van gasvryheid.
Clenkey het in 2016 by ons aangesluit, en hy is die stil, standvastige een. Hy help ons gaste met ’n groot glimlag – enige tyd van die dag of nag – en jy hoor hom dikwels fluit hier iewers terwyl hy kamers skoonmaak. Maria en Andrea is ons staatmaker-span wat oor naweke seker maak alles is reg en gereed vir ons naweekgaste.”
Hoe moeilik was dit vir jou om na In die sop: Gastehuisrevolusie uit te reik en te erken julle is werklikwaar in die sop?
Dit is maar moeilik om jou trots in jou sak te steek en vir hulp te vra. ’n Groot deel van my werk is om ander te help, en dis erg moeilik om self uit te reik vir hulp. Ek het ’n paar weke met die inskrywingsvorm in my outbox gesit voor ek braaf genoeg was om dit te stuur.
Maar ek is ’n getroue kyker van die vorige reekse en was rustig dat die hart van die program goed is en dat hul regtig ongelooflike idees en kennis het om te help.
Toe Janie du Plessis vir jou sê sy dink hulle kan julle help, wat het deur jou gedagtes gegaan?
Oeps … En dankie tog! Ons het regtig hulp nodig gehad, veral in twee areas: regmaak en mooimaak. Oor die afgelope tien jaar het ons baie hard gewerk om die gastehuis aan die gang te hou, maar soos enige huis wat vol lewe is, begin dinge met tyd wys en jy sien party goed self later nie eers meer raak nie.
Ons was dus senuweeagtig, maar terselfdertyd was daar ook groot opgewondenheid oor iemand met ’n vars oog, nuwe idees en die regte ervaring wat kan help om weer nuwe energie en rigting te bring.
Daai weggaan van jou gastehuis af – wat was jou grootste bekommernis?
Gelukkig was ek nie te bekommerd hieroor nie. Ek het geweet ek laat alles in goeie hande. Ek weet uit vorige reekse dat almal kenners is; dat hulle vol vars idees is en dat hulle ’n ongelooflike hart vir die geskiedenis en karakter van elke plek het.
Ek kon ook vooraf vra dat hul byvoorbeeld nie ons wêreldkaart moet afhaal, die plankvloere moet verwyder of die Kombi moet wegvat nie. So, my hart was rustig.
Jy was duidelik oorweldig deur alles toe jy teruggekeer het na die “nuwe” gastehuis. Vertel meer?
Ek het nog nooit in my lewe self uit vrye wil enigiets wit geverf nie. Ha-ha, net ’n grappie … soort van. Ek was baie verbaas, maar na die verrassing en verbasing ingesink het, was dit regtig vir my die mooiste mooi.
Ons plek lyk ongelooflik, en al ons gaste stem saam. Dit is vars en skoon en steeds perfek vir die karakter van die ou huis en die pragtige area. Hul het ook ongelooflike werk aan die tuin gedoen, en dit is nou meer as ooit vantevore ’n klein oase in die middel van die stad.
Wat was een van die waardevolste lesse wat jy tydens die proses geleer het?
Vra vir hulp wanneer jy dit nodig het. Daar is mense met ongelooflike kennis en passie wat jou kan raad of ondersteuning gee. Ons almal maak asof ons als onder beheer het, maar eintlik het ons elkeen ons eie uitdagings en onsekerhede. Soms help dit net om jou uitdagings met iemand te bespreek. Dan voel jy klaar beter.
Wat is jou boodskap aan die In die sop-span? Het hulle jou oorspronklike visie uitgebou soos wat jy wou hê?
Die heel grootste dankie aan die hele span! Ek dink my dankbaarheid het darem opreg oorgekom op die program – soms, tot my verleentheid, met al die gepaardgaande emosie en ’n paar trane, maar hul doen regtig ongelooflike werk.
Die kykers sien bloot net ’n klein stukkie van die voorafbeplanning, maar nie die honderde ure agter die skerms en hoeveel mense betrokke is wat die hele proses in rekordtyd beplan, koördineer en implementeer nie.
Die uiteinde is mooier as waarvoor ons kon hoop, en dit het ons die nodige momentum gegee om self met nog ’n klomp goed voort te gaan ná die program.
Wat is jou wenke vir mense wat dalk oorweeg om ’n gastehuis te begin?
Dis ’n ongelooflike voorreg om na mense om te sien terwyl hulle weg is van hul eie huise, vir werk of vir ander redes. Maar dis beslis nie ’n deeltydse werk nie.
Jy gaan die kans kry om mense van alle kulture, opinies en agtergronde te ontmoet, en dit is wat dit so besonders maak. Party dae is maklik, ander dae ’n bietjie moeiliker, maar daar is altyd iets om van ander te leer.
My raad sal wees: Geniet dit. Moenie die voorreg as vanselfsprekend aanvaar nie. Kyk mooi na jou mense en na jou gaste, en wees trots op dit wat jy vir hulle kan wys van jou stad en jou land. Dis vir my die hart van toerisme en gasvryheid.
In die sop: Gastehuisrevolusie is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.







