Menu terloops
In TV [24 Apr 2026]

‘Bravo!’ se Ewan kuier by Carmen + resepte


“Kos is die taal van die liefde, maar kos is ook die kuns van liefde en samesyn.” Met daardie woorde slaan Carmen Niehaus die spyker op die kop in die derde episode van ‘Lekker & goed’ op kykNET.

‘Bravo!’ se Ewan kuier by Carmen + resepte

“Kos is die taal van die liefde, maar kos is ook die kuns van liefde en samesyn.” Met daardie woorde slaan Carmen Niehaus die spyker op die kop in die derde episode van Lekker & goed op kykNET – want dis juis die liefde en samesyn wat sy week na week met spesiale gaste en die kykers deel.

Soms is dit familie, ander kere is dit weer bekende gesigte wat kykers so goed leer ken het op die kassie. Vandeesweek was dit Bravo! en Plaasjapie se aanbieder, Ewan Strydom, wat al te heerlik saam met Carmen aan die Weskus gekuier het. En sy het reeds uitgewerk wat sy vir hom gaan voorsit: Kos vir die langpad, kos wat hy kan saamneem ongeag waarheen hy koers inslaan of hoe vroeg in die oggend hy ’n vlug moet haal.

Soos kykers teen hierdie tyd weet, fokus Carmen nie net op dit wat lekker én goed is nie, maar wat ook die Olifantsriviervallei daar naby Lambertsbaai se ‘rooi goud’ (nee, nie kreef nie!) in die vorm van rooibostee uitstekend verteenwoordig.

“Ek is mál oor rooibostee . . . net so alleen, of met ’n bietjie heuning. En dis min of meer waar dit stop,” het Ewan verklap. En hy kon nie wag om Carmen se “fênsie” tee te proe nie. Tussendeur het daar herinneringe by Ewan opgeduik van Lucky Star se plaastyd-pilchards en Carmen het ’n plan vir hom daarmee gemaak in die vorm van ’n tunasmeer.

Ewan het al die wêreld deurkruis, en sy gunsteling bestemming is ongetwyfeld Thailand. Dis boonop waar hy op 10 April 2004 sy vrou, die Hongaars-gebore model en fotograaf Adrienn, ontmoet het. Ekstra spesiaal vir hom.

Hy was so senuweeagtig dat hy haar destyds vir ’n fliek genooi het – en toe sommer al sy vriende saamgenooi het! Die twee het nie eers langs mekaar gesit nie, al die vriende was tussen-in. Eind goed, als goed – en die liefde loop meer as twee dekades later duidelik nog baie sterk tussen die twee mooi mense.

Ystee vir die pad

Genoeg vir 4-6 mense
Bereiding: 10 min
Kooktyd: 5 min

1 liter (4 k) water
Groot stuk heel vars gemmer, in skywe gesny
2 heel steranys-peule
2 suurlemoene se sap en skil
45 ml (3 e) heuning
5 Carmién Pure rooibosteesakkies
ysblokkies
hand vol bessies van jou keuse

Metode

  1. Plaas al die bestanddele, behalwe die teesakkies, ys en bessies, in ’n groot kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat kook vir sowat 5 minute tot geurig.
  2. Verwyder van hitte en voeg teesakkies by. Laat staan om te trek totdat die vloeistof
    afgekoel is.
  3. Gooi deur ’n sif en plaas in yskas tot yskoud.
  4. Giet in flesse saam met ys en bessies.

Jogurtsaadblikbroodjies

Maak 1 broodjie
Bereiding: 10 min
Baktyd: sowat 35 minute

500 ml (2 k) hawermout
15 ml (1 e) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
180 ml (¾ k) gemengde sade (vlassaad, lynsaad, sesamsaad, pampoensaad en
sonneblomsaad)
30 ml (2 e) chia-saad
50 g heel amandels
3 eiers
250 ml (1 k) natuurlike jogurt (Lancewood, lactolite) of amasi
Sowat 125 ml (½ k) Carmién groen rooibostee, berei met 1 teesakkie
Sade en hawermout vir oorsprinkel

Metode
Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit ’n skoon blik goed met kossproei.

  1. Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak. Voeg die sade en
    neute by en meng weer goed
  2. Klits die eiers in ’n ander bak, voeg die jogurt en ’n bietjie tee by en klits tot goed
    gemeng.
  3. Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik
    gemeng en ’n sagte deeg gevorm is, voeg meer tee by soos nodig. Moenie die deeg óórmeng nie.
  4. Skep in die blik.
  5. Sprinkel hawermout en sade bo-oor.
  6. Bak 30 minute lank tot gaar en ’n toetspen skoon uit die broodjie kom, keer uit en
    bak nog sowat 5-10 minute of totdat die kante en onderkant ook drooggebak is.

Tunasmeer

Maak sowat 500 ml (2 k)
Bereiding: 10 min

125 ml (½ k) mayonnaise (Light)
30 ml (2 e) tahini (opsioneel)
45 ml (3 e) kappertjiesaad
1 suurlemoen se sap en gerasperde skil
1 brandrissie, gekap (saadjies verwyder indien verkies)
Goeie skoot olyfolie
2-3 blikkies (170 g elk) Lucky Star-tuna, in soutwater verpak, gedreineer, maar
behou die vloeistof
1 soet ui van Wildeklawer, fyn gekap
Gesmelte botter
Paar takkies vars tiemie

Metode

  1. Plaas die mayonnaise, tahini, kappertjiesaad, suurlemoen se sap en skil en gekapte brandrissie in die voedselverwerker en kap fyn. Voeg die olie asook die tuna by. Verwerk tot glad, voeg van die vloeistof by indien die mengsel te droog is.
  2. Voeg ook die ui by en kap fyn.
  3. Skep in ’n bakkie met ’n deksel en giet die gesmelte botter bo-oor.
  4. Plaas ’n paar takkies tiemie bo-op en laat die botter stol.
  5. Sit voor saam met die hawermoutbroodjie.

Gutsy uiepiekels

Basiese piekelsous
500 ml (2 k) rou appelasyn
500 ml (2 k) water
15 ml (1 e) sout
125 ml (½ k) suiker
7,5 ml (1½ t) heel koljandersaad
5 ml (1 t) heel vinkelsaad
5 ml (1 t) mosterdsaad
1 sakkie elk Carmién GUT en Carmién groen rooibostee

Groente
6 rooi uie, in ringe gesny saam met 5 knoffelhuisies, geskil

Metode

  1. Was en steriliseer glasflesse en deksels.
  2. Giet die bestanddele vir die basiese piekelsous, buiten die teesakkies, in ’n kastrol
    en bring tot kookpunt en kook 5 minute. Voeg die teesakkies by, laat trek so 2 minute
    en verwyder die teesakkies.
  3. Pak intussen die uie en knoffel in die voorbereide flesse en giet die piekelmengel
    oor die groente, maak seker dat die groente heeltemal bedek is.
  4. Maak flesse toe en seël. Keer onderstebo en laat afkoel.

Hoender-“sosaties” met koljanderpesto

6 hoenderborsfilette, in klein blokkies gesny
sout

Sous
1 ui, gerasper
2 knoffelhuisies, gerasper
5 cm gemmer, gerasper
30 ml (2 e) olie
30 ml (2 e) brejani-masala
7,5 ml (1½ t) komyn
7,5 ml (1½ t) paprika
15 ml (1 e) borrie
45 ml (3 e) appelkooskonfyt
30 ml (2 e) soesji-asyn
15 ml (1 e) sojasous
Sout en peper na smaak
80 ml (⅓ k) koljanderblare, fyn gekap
160 ml (⅔ k) Carmién Spicy Rooibos Masala Chai Cooking Bags, gemaak met 1
sakkie
60 ml (¼ k) natuurlike jogurt

Metode

  1. Geur vleis liggies met sout. Ryg 4 blokkies hoender op klein sosatiestokkies. Plaas
    in ’n bak.
  2. Sous Plaas al die bestanddele vir die sous in ’n kastrol en bring tot kookpunt.
  3. Koel af en roer die jogurt by. Giet oor die hoendersosaties. Marineer vir sowat 2-3
    ure (nie te lank).
  4. Braai oor matige kole of in ’n riffelpan tot gaar en sappig. Sit voor met
    koljanderpesto.

Koljanderpesto

Maak 375 ml
Bereiding: 10 min

Sout
250 ml (1 k) pampoenpitte
120 g vars koljanderblare
2 groot knoffelhuisies, geskil
125 ml pecorinokaas, gerasper
Sowat 250 ml (1 k) olyfolie
5 ml (1 t) suurlemoensap
1,25 ml (¼ t) fyngerasperde suurlemoenskil

Metode

  • Verwerk tot ’n growwerige pasta.
  • Sprinkel sout oor pampoenpitte en rooster in ’n droë pan.
  • Plaas pampoenpitte, koljanderblare, knoffel en kaas in die NutriBullet en verwerk tot fyn, voeg die olyfolie stadig by saam met suurlemoensap en skil. 

Proteïen-brownie

Maak ’n medium koek
Bereiding: 10 min
Baktyd: 25 min

125 ml (½ k) warm Carmién Ashwagandha-rooibostee (2 sakkies)
80 ml (⅓ k) kakao
60 ml (¼ k) olie
1 blik (400 g) tertappels, verpulp
125 ml (½ k) bruinsuiker
250 ml (1 k) witbroodmeel
125 ml (½ k) soja-proteïen
2,5 ml (¼ t) sout
20 ml (4 t) bakpoeier
125 ml (½ k) hawermout
3 eiers
1 plak (80 g) donker sjokolade, gesmelt
5 ml (1 t) vanieljegeursel
Handvol frambose
Kakao vir bo-oor stuif

Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n losboom-koekpan met kossproei en voer die
bodem uit met bakpapier.

  1. Meng die rooibostee, olie en kakao saam en roer die appelpuree en suiker by.
  2. Sif die meel, proteïenpoeier, sout en bakpoeier saam en voeg die hawermout by.
  3. Klits die eiers, sjokolade en vanieljegeursel saam en klits die rooibosmengsel by.
  4. Vou die droë bestanddele in.
  5. Skep in die voorbereide koekpan, sprinkel die frambose oor en bak sowat 25
    minute of tot die brownie net-net gaar maar nog effe “gooey” is. Koel af en stuif met
    kakao indien verkies.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies