Menu terloops
In TV [18 Mar 2026]

Van ‘Yellowstone’ tot ‘The Madison’ – dís Taylor Sheridan se TV-wêreld


‘The Madison’ is dalk storieskepper Taylor Sheridan se beste reeks nog – maar waar pas dit in die res van sy gerekende oeuvre?

Deur Rozanne Els
Van ‘Yellowstone’ tot ‘The Madison’ – dís Taylor Sheridan se TV-wêreld

Dit was die debuut van Yellowstone in 2018 wat ons laat regop sit het, en sedertdien het Taylor Sheridan se TV-rykdom werklik net van krag tot krag gegaan. Met sy nuutste dramareeks, die aangrypende The Madison met Michelle Pheiffer in die hoofrol met ’n waarlik loopbaanbeste vertolking, wikkel hy egter los van die tipe storievertel wat reekse soos Yellowstone en dié se voorverhale, 1883 en 1923, gewild gemaak en etlike miljoene kykers na elke episode gelok het. En Sheridan se ontginning van sy eie, nog ongerepte potensiaal, werp boeiende, boeiende vrugte af soos hy kykers se verwagtinge op hul kop keer… en dit steeds regkry om op jou volle aandag aan te dring. 

Een van Sheridan se sterkpunte is sy begrip van storie as geheel – juis daarom is hy so vaardig met die bou van wêrelde wat eweneens über-spesifiek én algemeen genoeg is vir kykers om by aanklank te vind. As skrywer het hy begin met films soos Sicario en gevierde Hell or High Water op sy CV, terwyl hy in die TV-wêreld vir reekse soos Yellowstone, 1883,  Landman, Lioness en Mayor of Kingstown veelvuldige rolle gehad het as skepper, draaiboekskrywer, regisseur en uitvoerende vervaardiger. 

Hy is ’n gesogte talent – mense wíl met hom werk. En buiten The Madison is daar nog ’n rits nuwe projekte wat of vanjaar première of in ontwikkeling is. Ons kyk terug na enkele Taylor Sheridan-reekse wat sy plek in televisie verewig het. 

Yellowstone 

Al vyf seisoene van Yellowstone is op DStv Stream beskikbaar. 

Hoewel Yellowstone in 2018 begin uitsaai het, het Sheridan reeds in 2013 daaraan begin skryf. Vir HBO het spyt egter te laat gekom – Sheridan het aanvanklik die reeks aan dié TV-netwerk probeer verkoop, maar hulle het dit van die hand gewys. Dís toe dat Paramount in die prentjie kom. 

Yellowstone vertel oor die genadelose patriarg John Dutton wat geen perke as dit by sy plaas in Montana en sy nalatenskap kom nie – hy sal dit van enigiets en alles beskerm, hetsy teen sy vyande, die inheemse gemeenskappe wat glo dat hulle op die grond geregtig is, of ambisieuse eiendomsontwikkelaars.

Yellowstone
Kevin Costner het ’n Golden Globe-toekenning vir sy spel as John Dutton in Yellowstone gewen.. Foto: Verskaf

Met die reeks se debuut is dit aanvanklik deur resensente as die hedendaagse Dallas beskryf. Wat drama – voor en agter die kameras – betref, het dié vergelyking raakgevat. Die reeks se eerste paar seisoene was beslis sy beste, maar soos die verhouding tussen Kevin Costner, wat die hoofrol as John Dutton vertolk het, en Sheridan versuur het, het die storie ook daaronder gelei. Soveel so dat die slot geheel en al onbevredigend uitgedraai het. 

Ook in die rolverdeling tel Luke Grimes, Kelly Reilly, Wes Bentley en Cole Hauser. Terwyl Luke Grimes nou in die spin-off Marshals te sien is, draai nog ’n verwante reeks, Dutton Ranch, om Reilly en Hauser se karakters. 

1883 

Die minireeks is op DStv Stream beskikbaar. 

1883, ’n minireeks en dus net bestaande uit ’n enkele seisoen, volg die Dutton-familie soos hulle armoede probeer ontsnap en van die Weste na Montana reis ná die Amerikaanse Burgeroorlog. Daar begin hulle wat weldra as die Yellowstone Ranch bekend sou staan. 1883 dien dus as ’n tipe oorsprongverhaal vir die Duttons soos ons hul wêreld in Yellowstone betree het. 

Die hoofrolle hier word vertolk deur Tim McGraw (James Dutton) en Faith Hill (Margaret Dutton) – dié twee is in die werklike lewe al vir jare getroud – met gasspelers wat onder andere Oscarwenners Tom Hanks en Billy Bob Thornton insluit. 

Dis egter Isabel May as Elsa Dutton, Margaret en James se tienerdogter, wat op jou aandag aandring. Die gesin se trek na Montana is immers hard en , ongenaakbaar, ’n reis van geweld en siekte en oorlewing. ’n Reis wat ’n lewensveranderende impak op Elsa het – só word sy in die hartverskeurende slotepisode dan ook die rede waarom die Duttons juis in daardie spesifieke vallei in Montana vestig. 

1883, Taylor Sheridan
Isabel May is aangrypend as Elsa Dutton in 1883. Foto: Verskaf

1923 

Die reeks se twee seisoene is tans op DStv Stream beskikbaar.

1923 spog met veteraan- en bekroonde akteurs soos Helen Mirren, Harrison Ford en Timothy Dalton en dien as ’n prequel vir Yellowstone. Soos met Yellowstone en 1883, draai die verhaal in 1923 om die Dutton-gesin – merkbaar in ’n periode van geweldige broekskeur. En nie net vir die Duttons nie, maar ook in die groter Amerikaanse konteks. Daar is onder meer die beginstadium van die Groot Depressie en die Prohibisie-tydperk wat ook deel van die storie vorm. 

1923
Helen Mirren as Cara Dutton in 1923. Foto: Emerson Miller/Paramount+

Die reeks het ’n punt van 94% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes met talle kritici wat Mirren en Ford se gemaklike chemie uitwys as genoegsame rede om te kyk. Sheridan se skryfwerk steek egter nie af nie – die Sydney Morning Herald het sy tekste geloof  en beskryf as “so styf dit voel asof die spanning enige oomblik kan breek.”

Lioness 

Lioness
Zoe Saldaña as Joe in Lioness. Foto: Lynsey Addario/Paramount+

Die tweede seisoen is tans op Showmax beskikbaar om te stroom. 

Hierdie aksiereeks hunker terug na Sheridan se Sicario-wortels. (As jy nog nie die fliek gesien het nie, maak ’n plan – Emily Blunt is in ’n gatskop-hoofrol en die regie is deur die bekroonde en skitterende Dune-filmmaker Denis Villeneuve). Die storie volg Zoe Saldaña as CIA-agent Joe McNamara wat ’n span (bekend as Lionesses) in die oorlog teen terreur lei. Die vertelling is deels op die ware verhaal van ’n soortgelyke span geskoei, maar Sheridan, verweef emosie met aksie deur die fokus te herlei na Joe se konstante innerlike konflik soos sy sukkel om ’n balans tussen haar verantwoordelikhede te vind.

Daar is wel ’n swak skakel in die storie: Nicole Kidman. Haar spel as Joe se baas is so stomp soos die afwesigheid van enige tipe emosie in haar gesig. Gelukkig is Saldaña se spel kolskoot – dit tref harder as wat ’n vuis ooit sal kan (…en die vuiste vlieg).  

Die reeks se derde seisoen begin na verwagting in Oktober vanjaar uitsaai.

The Madison 

Die reeks saai Maandae om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) uit.  

“Staan op aandag vir Michelle Pheiffer wat ’n meesterklas in toneelspel lewer as die matriarg van ’n gesin wat ná ’n hartverskeurende tragedie die gedruis en wêreldse weelde van New York vir die ongerepte prag en genade van Montana verruil in The Madison.”

The Madison
Michelle Pfeiffer as Stacy Clyburn in The Madison. Foto:: Emerson Miller /Paramount+

Só skryf ek in my resensie oor The Madison, wat oor die verloop van ses episodes wys net hoeveel meer daar nog in Sheridan se vermoëns steek. Dis ’n besonderse reeks – en ook dramaties anders as enigiets wat Sheridan al aangepak het.

Soos ek verder skryf: “Sheridan is hier soos ’n lui kat wat sy hele lyf in ’n sonkol uitstrek. Dis ’n veel meer intieme vertelling, ’n verhaal wat stilweg amok maak, eerder as met geweld en allesoorheersende magstryde. Dis nie te sê die karakters is nie bloedbedrup as die eindtitels ná die slotepisode speel nie. Maar dié wonde, teer en seer en diep en ongenaakbaar, is eerder innerlik van aard. Eers weggesteek, later nie. Dié is ’n karaktergedrewe vertelling, fynbesnaard, geduldig en gedryf deur kontras. Soos ’n amperse argeologiese opgrawing van ’n gebroke familie se beendere wat van jare en jare se grond en stof en wortels en en en bevry moet word.

“Wanneer die Clyburns in Montana aankom, is hulle heeltemal uit hul diepte uit. Hulle is, as’t ware, vasgevang tussen twee wêrelde soos hulle probeer om hul lewens in New York te versoen met hul ontdekkings in Montana. Maar dis nie net die omgewing wat wildvreemd is nie – dis ook die weergawes van hulself wat hulle hier ontmoet. Niks, werklik niks, is mos ooit soos dit lyk op die oppervlak nie.”

Die reeks se tweede seisoen is reeds verfilm, maar uitsaaibesonderhede is nog nie vasgestel nie.

Kyk ook: 

Nog Sheridan-reekse sluit in Tulsa King met Sylvester Stallone in die hoofrol, asook Mayor of Kingstown met Jeremy Renner. 

Tulsa King, Taylor Sheridan
Sylvester Stallone as Dwight “The General” Manfredi in Taylor Sheridan se Tulsa King. Foto: Brian Douglas/Paramount+

Sheridan se Landman is ook onlangs in Afrikaans oorgeklank vir kykNET, terwyl die oorspronklike Engelse weergawe se eerste twee seisoene nog op Showmax beskikbaar is. 

Vroeër vandeesmaand het nog ’n Yellowstone-vertakking, Marshals, première. Nog een, Dutton Ranch, sal ná verwagting later vanjaar begin uitsaai.

Landman
Billy Bob Thornton as Tommy Norris in Landman. Foto:: Emerson Miller/Paramount+

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies