Menu terloops
In TV [9 Mar 2026]

‘The Madison’: Daar’s ’n nuwe generasie cowboys op TV 


Die Wilde Weste is nog lank nie getem nie! Daar’s ’n nuwe generasie cowboys wat ewe gemaklik op ’n perd se rug doer in die veld as agter die stuur van ’n wildewragtig-sportnutsvoertuig in die geroesmoes van New York is in ‘Yellowstone’-skepper Taylor Sheridan se nuutste reeks, ‘The Madison’.

Deur Annelene Oberholzer
‘The Madison’: Daar’s ’n nuwe generasie cowboys op TV 
Kyk lokprent

Paramount Network was verantwoordelik vir Yellowstone en dié netwerk het reeds in Mei 2023 die groen lig gegee vir ’n reeks in dieselfde trant. Dít het tot The Madison gelei.

In kort handel dié reeks oor die welgestelde Clyburns. Hulle is oorspronklik van die Groot Appel, maar ’n hartverskeurende tragedie dryf hulle na die Madison River-vallei in Montana om van die emosionele wrak van hul lewens te herstel. 

Hoeveel geloof daar in hierdie reeks van ses episodes is, is dat Paramount+, na afloop van slegs die lokprent se vrystelling, besluit het The Madison is sterk genoeg om op sy eie bene te staan. Die reeks is toe in Augustus 2025 vir ’n tweede seisoen hernu – nog voordat die eerste reeks op 14 Maart vanjaar begin vertoon. 

Wat jy moet weet van The Madison:

Michelle Pfeiffer 

Sy is Stacy Clyburn, die matriarg van die Clyburn-familie. Die bekroonde 67-jarige aktrise is boonop ook die uitvoerende vervaardiger van die reeks. Sy is ook later vanjaar in nog ’n TV-reeks waarvan daar hoë verwagtinge is, Margo’s Got Money Troubles, te sien.

The Madison
Michelle Pfeiffer as Stacy Clyburn. Foto’s: Emerson Miller/Paramount +

Kurt Russell

Kurt (74) is die patriarg Preston Clyburn. Hy het as kinderakteur bekendheid verwerf in ’n Wilde Weste-reeks (The Travels of Jaime McPheeters) toe hy 12 jaar oud was. En dis geen wonder hy het sy voete voor die kameras gevind nie. Sy pa, Bing Russel, was ’n akteur (waaronder Clem Foster in Bonanza en Robert in The Magnificent Seven) en sy ma, Louise, was ’n danseres. 

The Madison
Kurt Russell as Preston Clyburn and Matthew Fox as Paul Clyburn.

Die familie

Elle Chapman (Sarah in A Man Called Otto) vertolk die rol van Paige, Stacy en Preston se jongste dogter. Patrick J. Adams (Mike Ross in Suits) is Russell McIntosh, hul skoonseun en Paige se man. 

The Madison
Patrick J Adams as Russell McIntosh en Elle Chapman as Paige McIntosh.

Matthew Fox (Jack Shephard in Lost) is Paul Clyburn, Preston se broer. Beau Garret (Gem in Tron: Legacy) is Stacy en Preston se oudste dogter. Die rol van haar ouer dogter word deur Amiah Miller (Nova in War for the Planet of the Apes) vertolk en Alaina Pollack (Abby in On Call) is Macy, haar jonger dogter.   

Ben Schnetzer (Ross in Punk’s Dead) is Van Davis, maar daar is nie meer oor sy karakter bekend nie.

The Madison
Ben Schnetzer as Van Davis.

Kevin Zegers  (FBI-agent Brendon Acres in The Rookie: Feds) is Cade Harris, die buurman. Danielle Vasinova (Ata Waipa in 1923) is Kestrell Harris. Rebecca Spence (Laura Christie in Utopia) is Stacy se vriendin.

Taylor Sheridan

Hy word deur talle as ’n kreatiewe meesterbrein bestempel. Sy regte naam is Sheridan Tyalor Gibler Jr – maar hy verkies die omgeruilde naam as professionele naam. Hy was die medeskepper van Yellowstone en die skepper van 1883 (2021) en 1923 (2022). 

Sy cowboy-liefde is glo te danke aan sy ma, Susan, wie oorspronklik van Waco, Texas afkomstig is. Sy het daarop aangedring om ’n plaas, oftewel ranch, in Granfills Gap te koop omdat sy wou hê haar kinders moet eerstehands leer van die vreedsame gevoel van vryheid in die natuur. Daar het hy geleer hoe om ’n cowboy te wees.

Christina Alexandra Voros

Christina, die dogter van Hongaarse vlugtelinge, het sedert 2017 vele kreatiewe stoele haar eie gemaak: kinematograaf, regisseur en vervaardiger. Nou is Christina een van die uitvoerende vervaardigers van The Madison. Sy was ook die uitvoerende vervaardiger van Yellowstone en die regisseur van 1883.

Maar is dit New York?

Vanaf September tot Oktober 2024 was die span in Montana. Maar moenie dat die New York-tonele jou flous nie, al is dit werklik oortuigend. Met vernuftige kamerawerk en fyn beplanning het Dallas, Texas, ingestaan vir New York. Laat November tot middel-Desember 2024 het die res van die verfilming in Fort Worth, Texas, plaasgevind. 

Die musiek

Die temamusiek kan ’n reeks of ’n fliek maak of breek. Dis hoekom Breton Vivian van Yellowstone-faam ook hier ingespan is. Die eertydse hardcore punk-kitaarspeler se musikale perspektief het verander toe hy in die rigting van flieks beweeg het. Soos sy werk vir Guan Hu se Black Dog (2024), waar sy musiek beskryf word as iets wat tussen minimalistiese ongemak en onderskatte lirieke beweeg.


Kykers kan naderskuif wanneer die eerste episode van The Madison Maandag 16 Maart 2026 om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) uitgesaai word.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies