Sondag 8 Maart 19:00 op Carte Blanche (M-Net, DStv-kanaal 101) word die realiteite van die suikerbedryf in KwaZulu-Natal onder die loep geneem, daar word gekyk na hoe lag ’n reddingsboei vir siek kinders geword het, en die span se ondersoek na die verwoesting van die Limpopo-vloede duur voort.
Suikerbedekte ineenstorting
Vir meer as ’n eeu het suiker ’n ryk langs die noordkus van KwaZulu-Natal gebou, gemeenskappe gevorm en waardevolle grond beheer. Nou bedreig globale mededinging en die ineenstorting van ’n korporatiewe reus die bedryf se voortbestaan. Terwyl goedkoop invoere plaaslike produkte vervang en likwidasie dreig, staar boere die verlies in die gesig van ’n lewenswyse wat al geslagte lank in hul families is. Meer as ’n miljoen mense se lewensbestaan en dekades se geskiedenis wankel op die rand van die afgrond terwyl die bedryf voor ’n bitter afrekening staan.
Carte Blanche se uitvoerende vervaardiger, John Webb, vertel hieroor: “KwaZulu-Natal se suikerbedryf bevind hom nou in sy eie eksistensiële krisis. Hoewel vergelykings met die vroeë 2000’s in Zimbabwe dwaas sou wees, is grond weereens die katalisator.”
Limpopo-vloed herbesoek
Vir gemeenskappe regoor Limpopo en Mpumalanga het die jaar in chaos begin. Swaar reën het die noorde van die land getref: paaie is weggespoel, dienste is afgesny en families is ontruim. Terwyl die regering ’n nasionale ramp verklaar het, was die Carte Blanche-span daar om stories van noue ontkomings te hoor en die helde te vier wat brûe herbou en lewens red. ’n Maand later herbesoek die span die skade in die Nasionale Krugerwildtuin en kry ’n blik op die herstelpogings.
Die wetenskap van lag
In oorlaaide hospitale wys ’n klein groepie vermaaklikheidskunstenaars dat lag nie net komiese verligting is nie – eerder ’n onverwagse medisyne. Hulle betree emosioneel en fisiek veeleisende ruimtes met grappe, uitbundige energie en ’n eenvoudige doel: om siek kinders te laat lag. Vir hierdie kinders, wat lang en indringende mediese behandelings moet verduur, is dit meer as net ’n afleiding… Dit is ’n reddingsboei.
Carte Blanche word Sondae om 19:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) uitgesaai. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.







