Menu terloops
In TV [18 Feb 2026]

‘Mense moet weet hulle is nie alleen nie,’ sê ‘Een keer om die son’-skeppers oor verslawingstorielyn  


‘Ons voel baie passievol daaroor dat karakters en storielyne oor die vermoë beskik om gesprekke oop te breek en genesing te bring,’ vertel ‘Een keer om die son’-medeskepper en -skrywer Donnalee Roberts oor hoekom dit belangrik was om ’n verslawingstorielyn in dié seisoen in te sluit. 

Deur Redaksie
‘Mense moet weet hulle is nie alleen nie,’ sê ‘Een keer om die son’-skeppers oor verslawingstorielyn  

In die tweede seisoen van Een keer om die son, word dit vinnig duidelik dat Markus (Liam Bosman) aan pynpille verslaaf is. Hy sal enigiets doen om aan sy dansloopbaan te bou, maar met ’n enkel wat net nie wil saamspeel nie, voel hy pille is die enigste oplossing. Dis egter nie net die enkel nie. Markus sukkel met angsaanvalle – net soos sy ma, Lani (Jana Kruger), wat ook daarmee geworstel het. 

‘Alledaagse’ verslawing

Wanneer dit by verslawing kom, is Markus beslis nie die enigste een wat met hierdie probleem sukkel nie. Verslawing aan voorskrif-pynstillers is wêreldwyd ’n krisis en die dwelmprobleem wat die vinnigste in Amerika groei. Volgens die Suid-Afrikaanse Raad van Psigiaters sukkel een uit vyf volwassenes met chroniese pyn en is sowat sewe persent van mense wat in rehabilitasiesentrums opgeneem word daar omdat hulle aan voorskrifmedisyne verslaaf is.

Liam Bosman, Markus, Een keer om die son
“As skrywers voel ons sterk dat dramareekse kwessies soos hierdie moet aanspreek,” sê Ivan Botha, regisseur en mede-skrywer van Een keer om die son, oor hoekom hulle dié verslawingstorielyn vir Markus (vertolk deur Liam Bosman) ingesluit het. Foto’s: Verskaf

“Ons wou ’n storielyn van verslawing vir Markus skep – veral binne sy karakter wat ook met angs en depressie sukkel,” sê Ivan Botha, regisseur en mede-skrywer van Een keer om die son.

“Ons wou ’n verslawing vind wat nie algemeen is soos byvoorbeeld harde dwelms of drank is nie, maar iets wat alledaags is; ’n verslawing wat as’t ware maklik kan gebeur. Daar is verskeie mense waarvan ons weet wat amper onskuldig aan pille soos pynpille of slaappille verslaaf geraak het. Markus se storielyn was ook ’n manier om sy pa, Ruan (Jacques Bessenger), te betrek om hul verhouding te verdiep.”

Iemand sál aanklank vind

“Die relevantheid van verslawing vandag is in die klein gewoontetjies wat mense nie besef ’n probleem kan raak nie,” sê Donnalee Roberts, wat nie net die rol van Amé speel nie, maar ook mede-regisseur en -skrywer van dié reeks is. “Selfs sosiale media en die impak wat skermtyd op mense se lewens het, is verslawings wat amper ongesiens ’n probleem kan word.” 

“As skrywers voel ons sterk dat dramareekse kwessies soos hierdie moet aanspreek,” sê Ivan. “Dinge soos angs, depressie, selfdood, verslawing soos in hierdie geval, of die sonde van die vaders – óftewel hoe die verlede ’n invloed op jou lewe kan hê.

Nadat Markus (Liam Bosman) se meisie, Charlie (Simone Neethling) hom met pille betrap, besef hy dat hy hulp vir sy verslawing moet kry.

“ ’n Mens kan swaar kwessies aanspreek en daar sal altyd kykers wees wat daarby aanklank gaan vind. Ons wil nie lessies gee nie en het nie al die antwoorde nie. Ons hou net ’n spieël op vir die kykers om na te kyk en só begin ons gesprekke. Een keer om die son kry dit so mooi reg om die lig en donker van die lewe vas te vat en dit was nog altyd ons doel. Dis nie net swaar nie. Dis die vloei tussen die mooi en die seer van die lewe wat ons probeer uitbeeld,” benadruk Ivan. 

“Ons voel baie passievol daaroor dat karakters en storielyne, soos hierdie een met Markus, oor die vermoë beskik om gesprekke oop te breek en genesing te bring,” sê Donnalee. “Mense moet weet hulle is nie alleen nie.” 


Die tweede seisoen van Een keer om die son saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies