In VIA se nuwe reeks, Erfenis in die grond, bring die aanbieder, Peter Pentz, ’n vars perspektief as jong stem in die landboubedryf, met die lens gefokus op hoe tradisie en innovasie tussen generasies dié veranderende bedryf versterk.
Medevervaardiger Nicolaas Viljoen sê dié reeks bring die ryk erfenisstories wat diep gewortel lê in ons land se grond na kykers. “Elke familie nooi die kyker na hul plaas en deel hul komvandaan en hoe hulle nalatenskap vier. Die reeks se aanbieder, Peter Pentz, is self ’n boorling van Darling en ons gaan maak ook ’n draai op sy familieplaas, Groote Post. Ons hoop die kykers raak weer van voor af verlief op ons mooi land, sy mense en hul besonderse stories van hoop, erfenis en ook deursettingsvermoë.”
‘Verrykende stories’
Dié reeks bestaan uit ses episodes en, luidens ’n mediaverklaring, word daar diep gedelf in die ryk, en diverse erfenis van Suid-Afrika se bekende familieplase – van wynlande tot vrugteboorde, groenteplase en veeplase. “Erfenis in die grond vertel die verrykende stories van ses suksesvolle boerderye se unieke geskiedenis, tradisies en watter bydraes elk tot Suid-Afrika se landboulandskap tot vandag toe maak,” luid die verklaring.
Volgens Peter is Erfenis in die grond ’n eerlike en hartlike kykie na die lewens van Suid-Afrikaanse boere en hul families. “Ek het grootgeword tussen wingerde op Groote Post, en dis waarskynlik hoekom die stories in hierdie reeks my so diep tref. Dis eerlike, rou, mooi stories. Dit wys regtigwaar die siel van ons landboubedryf,” meen hy.
“Die program is ook visueel pragtig. Ek het met so ’n ongelooflike span gewerk – hulle is kreatiewe, talentvolle mense en ons het saam duisende kilometers oor die land heen afgelê om al die besonderse stories te gaan soek; ook om almal te leer ken op die plaas.”
Die storie se wortels
Gerrie Janse van Vuuren, medevervaardiger van die reeks, sê die idee vir die storie het posgevat toe hy in die Nuy-vallei buite Worcester tuisgegaan het. “Ek het daar op die Conradie-plaas gebly terwyl ek besig was met ’n ander reeks. Ek het baie tyd gehad om al die mooi dinge op die plaas te bekyk – die indrukwekkende plaashuis, die foto’s van mense wat deel van die geskiedenis daarvan was, en ek het gewonder wat elkeen se storie is. Dís presies wat ons wil doen met Erfenis in die grond. Om die mense van die plase se stories en die pad wat hulle as familie al gestap het, met die res van die land te deel.”
Hy meen kykers gaan veral die geskiedenis van die mense geniet en om regtig ’n kykie te kry op die wisselwerking in hul binnekring.
Die plase wat in die reeks besoek word:
- Malanseuns Plesierplante (ses generasies) Magaliesberge, Pretoria-Noord: sierplante en -produkte
- Heuningkrans (ses generasies) Smithfield, Vrystaat: Merinoskape
- Allesverloren (vyf generasies) Riebeek-Kasteel, Wes-Kaap: Wyn
- Boompie Alleen (vyf generasies) Vrede, Vrystaat: Skaap, bees en soja
- Grootkaliesfontein (vier generasies) Philippolis, Vrystaat: Skaap
- Groote Post (vier generasies) Darling, Wes-Kaap: Wyn
Kyk Erfenis in die grond op VIA en DStv Stream (DStv-kanaal 147) vanaf Maandag 3 November om 20:00, met heruitsendings Dinsdae om 19:00.







