Menu terloops
In Silwerskermfees [14 Aug 2026]

Silwerskermfees 2026: Dié kort dokumentêre maak buiging op fees


Die kykNET Silwerskermfees sluit ’n kategorie vir kort dokumentêre in, waar sowel opkomende as gevestigde Suid-Afrikaanse filmmakers die geleentheid kry om menslike stories te vertel. Ons vertel jou meer oor vanjaar se keur.

Deur Redaksie
Silwerskermfees 2026: Dié kort dokumentêre maak buiging op fees

Die 14de kykNET Silwerskermfees vertoon vanjaar 22 rolprente, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Ook vollengte speelfilms word bekendgestel.

Hier is als wat jy moet weet oor die vyf kort dokumentêre films wat by vanjaar se fees première:

1

‘Druk dit!’ belig armdruk en die hegte gemeenskap betrokke by dié sport

Almiskie is dit nie so algemeen bekend dat armdruk ’n internasionale sport is nie, maar dit verg inderdaad harde werk en goeie tegniek, wat jy beslis nie saans laat in ’n kroeg gaan leer nie… Die kort dokumentêre prent Druk dit! lig die sluier en stel die kykers bekend aan die armdruk-gemeenskap. Die fokus is ook veral op Terence Opperman, bekend as “The Highlander”, ’n Suid-Afrikaanse kampioen wat sy teenstanders links en regs laat les opsê. 

Druk dit! is nie net ’n verhaal oor sport nie, maar oor ’n man wat uitdagings moes trotseer en ’n uitlaatklep in armdruk gevind het, sê dié kort dokumentêr se mede-regisseurs, Juandrè de Jager en Lara Lourens.

“Die armdruk-gemeenskap is een soos min. Hulle lyk baie intimiderend, maar hulle (en Terence) is gentle giants,” vertel Juandrè, wat self vanaf hoërskool af deel van die armdrukgemeenskap is. “Hulle is altyd bereid om te help in die gemeenskap en sommer by ’n kompetisie ook. Terence is die sterkste armdrukker in die Suidelike Halfrond en nommer een, links en regs. Bedags is hy ’n aanlegbestuurder by ’n myn. Hy is ook ’n pa en ’n man met ’n baie sagte hart.”

Volgens Lara gaan die dokkie oor meer as ’n vreemde sport – “dit gaan ook oor familie, oorwinning, gemeenskap en die strewe na ’n beter toekoms.”

2

‘Pappa Kitsch’ ondersoek die egtheid van ’n Tretchikoff-skildery

Eg of nie eg nie. ’n Storie is dit beslis. Dit is presies hoekom Stefanus Nel uit die staanspoor sy ondersoek gedokumenteer het om die egtheid van ’n Tretchikoff-skildery vas te stel wat hy aanlyn gekoop het.

Die kort dokumentêre film Pappa Kitsch vertel die verhaal van Nel se aankoop van ’n olieverfskildery van Vladimir Tretchikoff, destyds bekend as die vader van kitsch, maar wie se werk nou vir miljoene rand verkoop

Deel van sy aankoop was ’n plakboek van die vroeëre tydperk van Tretchikoff se loopbaan. Nel, eertydse joernalis en inhoudskepper, se nuuskierigheid was geprikkel. En tesame met sy angstige worshond, Rocky, het hy ’n lang reis aangepak en onder andere by kenners aangeklop om die egtheid van die skildery te ondersoek. In die proses wys hy ook vir die kyker dat die konsep van iets se waarde veel wyer strek as blote rand en sent.

Stefanus Nel, mede-regisseur (en hoofkarakter) vertel omdat die dokkie ’n ware ondersoek was, het hy geen idee gehad hoe die storie gaan ontvou nie. “Die enigste beplanning wat ons kon doen, was om onderhoude met mense op te stel en te hoop dat hulle instem.”

Hy vertel dat hy “van dag een af geweet daar is ’n storie agter die boek en skildery. Hoe meer navorsing ek gedoen het, hoe meer vrae het ontstaan. Ek het baie aande wakker gelê en gewonder hoe die legkaart in mekaar pas. Ek het alles gaan oplees oor Tretchikoff en sy storie het my net meer nuuskierig gemaak.”

3

Die verhaal van Protea Village en gedwonge verskuiwings belig in ‘Die grond onthou’ 

Die oorsprong van die storie strek ses dekades terug met gedwonge verskuiwings. Toe volg die grondeis van die 1990’s en uitgerekte wetlike prosesse. Protea Village neffens die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad neem nou uiteindelik stelselmatig gestalte aan met bouwerk wat na verwagting teen vroeg 2028 voltooi sal wees.

Die dokumentêre kortflim Die grond onthou fokus op die verhaal van bruin inwoners van die oorspronklike Protea Village wat tussen 1959 en 1970 ingevolge die Groepsgebiedewet verwyder en oor die dorre Kaapse Vlakte versprei is. 

Regisseur Mia Cilliers het kennis geneem van dié projek toe daar in Maart 2025 amptelik met die ontwikkeling begin is. Vroeg reeds het sy aanvoorwerk gedoen om kontak te maak met betrokkenes om beeldmateriaal in te samel. Onder andere met Sonia Roman (77).

“Ons sal baie graag die storie verder wil neem en het aansoek gedoen vir verdere befondsing by die Nasionale Rolprent- en Video-stigting (NFVF). ’n Vollengte-dokumentêr sal wys hoe die families intrek en hoe hulle aanpas by die nuwe lewe in Protea Village, asook enige uitdagings wat hulle moes navigate om te besluit wie trek terug.”

4

Wêreld – en uitdagings – van rooikoppe verken in dokkie ‘Rooi van aard’

Dit is die raarste haarkleur in die wêreld, met net 1% tot 2% van die bevolking wat rooi hare het. G’n wonder die rooikoppe staan so uit nie, en hulle moet soms ook maar allerlei vreemde opmerkings en gedrag verduur. 

Niël Coetzee, mederegisseur en medevervaardiger van Rooi van aard – en ’n rooikop, het tydens sy filmstudies vir ’n projek die kollig laat val op medestudente met rooi hare. Nooit sou hy kon dink hy sal eendag selwers die hoofkarakter in sy eie dokkie oor die onderwerp wees nie.

Maar toe sy voorstelle vir verhalende kortfilms nie die oog vang nie, het hy besluit om te fokus op ’n onderwerp wat hy weet ander gaan nie sommer aanpak nie. En as deel van die unieke groep met rooi hare, het hy uiteindelik ook nie net agter die kamera gestaan nie, maar ook sy eie verhaal deel van die dokumentêre kortfilm gemaak.

“Dit was ’n uitdaging omdat ek nie maklik praat oor my gevoelens nie,” vertel Niël. “Om dan nog die gevoelens met vreemde mense in die dokumentêr te deel, was moeilik. Juis weens my eie ondervindings wat ek aanspreek in Rooi van aard, moes ek tydens die verfilming hierdie gevoelens die eerste keer met my ma deel en ek kon sien hoe dit haar geraak het. So ja, dit was persoonlik en eintlik ook bevrydend om te hoor wat haar oogpunt is. Ek het ook besef ek sal verhale en belangrike oomblikke in my lewe moet deel, al is dit vir die eerste keer, anders sal dit ’n nuttelose film wees met lang ongemaklike stiltes. Boonop moes ek ook bereid wees om moeilike vrae te beantwoord wat dalk na vore kom oor identiteit, andersheid en uniekheid. Gelukkig kon ek steun op my span en hulle volkome vertrou.”

5

‘Die gees agter die spiere’ spreek tot ’n wye gehoor

’n Mens se jeugdrome kan verander, of jy kan later selfs besef daar is ’n ander aspek aan jou droom wat jy eerder wil uitleef. Pleks om self prestasies op die sportveld na te jaag, het dr. Henning Gericke besef hy wil inderwaarheid ander help om groot hoogtes te bereik en persoonlik te groei.

Die gees agter die spiere vertel die verhaal van ’n sportsielkundige wat op sy dag goed genoeg was om op die wêreldverhoog as naelloper mee te ding, maar uiteindelik ander gehelp het om hul drome te verwesenlik. Of om teleurstellings en terugslae te oorkom, want dit is immers deel van ’n pad na sukses.

Henning het te kampe gehad met ’n persoonlike uitdaging tydens die verfilming van die dokumentêr, wat nog meer diepte verleen aan die boodskap van hoop wat dit oordra. Dit sluit ook eerlike en openhartige onderhoude met sportlui soos Cameron van der Burgh, Marcell Coetzee en Os du Randt in.

Pierre Malan, regisseur, vertel dat Henning se vrou, Hennelie, gedurende verfilming met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is, wat die dokkie op beide ” ’n baie diep en persoonlike vlak” verander het. “Aanvanklik het ons gefokus op Henning se werk met top-sportlui en hoe hy mense help om uitdagings te oorkom. Toe Hennelie met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is, het ons skielik gesien hoe die temas van die dokumentêr in Henning se eie lewe uitspeel.

“Hier was iemand wat vir jare ander mense gehelp het om deur moeilike tye te kom, en nou moes hy self een van die grootste uitdagings van sy lewe hanteer. In baie opsigte is die beginsels waaroor hy altyd gepraat het, nou in sy eie lewe getoets. Dit het die dokumentêr meer menslik gemaak en gewys dat niemand vrygestel is van swaarkry nie, selfs nie die mense wat ander help om dit te verwerk nie,” vertel Pierre.


Die 14de kykNET Silwerskermfees word van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad, aangebied. Kaartjies vir die films, asook die toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket.

Vir die volledige program, besoek www.silwerskermfees.co.za.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies