Dinge het nogal warm geraak in verlede week se episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! met die voormalige rugbyspeler Ruan Smith (35) as die man wat na liefde soek.
Daar was vier meisies oor en benewens die romantiese afsprake met elkeen van hulle waar daar noue kontak plaasgevind het – moes een haar tasse pak. Ruan se aankondiging oor wie moes waai so, was beslis onkant-spel want sy was aanvanklik een van die gunstelinge . . . en hier’s sy nou nie eers op die reserwebank nie. Maar Minette het nie Ruan se besluit summier aanvaar nie. Daar het harde woorde tussen die twee geval toe sy na afloop van die bom wat Ruan gelos het, eenkant met hom wou praat.
Kort voor lank het Ruan opgestaan en in die donkerte van Minette af weggestap met: “Dis nie hoe hierdie k*k werk nie”.
Koebaai, Kilima en hallo, De Harte
Na al die weke van drama in die stryd om Ruan se hart, was dit Cindy, Charlene en Bejanke wat in Pretoria by De Harte naby Onderstepoort vir oulaas bymekaar gekom het. Soort van beseringstyd ook . . . want wie gaan bly en wie gaan gly?
“Van 12 na drie toe?” wou sy tweelingbroer en wingman JP by hom uitvis of hy die regte keuse gemaak het.
“Dis mentally nog die moeilikste ding wat ek in my lewe nog gedoen het,” het hy erken. Hy het wel vir JP verseker dat hy sy keuse gemaak het. Maar niemand sal weet nie. Wel, nie tot waar hy sélf dit aankondig nie.
Die drie ‘musketiers’

Charlene het gesê sy voel baie rustig want sy was vir ’n rukkie in haar eie spasie tuis. Maar Cindy was vir ’n verandering nie haar bekkige self nie.
“Ek is nie ge-chilled nie,” was haar effe onseker antwoord toe JP wou hoor hoe sy voel oor wat voorlê. Agter skerms het sy vertel dat sy ingeskryf het met die hoop om met Ruan weg te stap want sy het hom óók gekies, maar haar hart “stres so ’n bietjie”. Toe rol sy maar haar oë dramaties hemelwaarts in pure Cindy-styl.
Bejanke was verbaas dat sy wel tot die finale drie deurgedring het. Sy moes immers twee weke wag voordat sy op ’n afspraak met Ruan gegaan het.
Op haar beurt was Charlene nie baie verbaas dat sy in die finale groep beland het nie. Sy het gebid daarvoor en ook omdat sy glo sy ’n baie positiewe mens is.
Wie kom kuier?
JP het vir die drie vertel dat hy dit goedgedink het om een van elkeen van hulle se vriendinne te nooi om te kom kuier.
Cindy het haar niggie, Alta Argyle, op haar lysie gehad want dit is die een mens wie se oordeelsvermoë sy 100% vertrou.
Chantelle de Villiers, die ma van ’n pasgebore baba, ’n peuter en ’n besigheid, was die vriendin wat vir Charlene opgedaag het om vir Ruan te kom beloer. Vir Charlene is sy ’n “solid mens” wat haar net die beste gun.

Bejanke het haar vriendin, Sanet Geere, gevra om met Ruan te kom gesels want sy weet daar Sanet sou nie huiwer om vrae te vra nie.
Maar nog voordat die gaste hul kans gekry het om Ruan van naderby te leer ken, het JP nog ’n aap uit die mou gelaat . . . ’n aantreklike een boonop: Andries ‘Boeboes’ Coetzee wat oorwegend as heelagter vir die Leeus uitgedraf het.
Volgens JP kan hy dalk vir Ruan as “die mooiste man van Alberton” onttroon maar Ruan was gou om te wys dat Andries getroud is.
Die twee is al meer as 17 jaar lank vriende, lank saam rugby gespeel en Andries ken al sy dingetjies – goed en sleg – en hy is ’n goeie mens, aldus Ruan.
Andries in die losgemaal

Terwyl Ruan met die drie meisies se vriendinne eenkant gesels het, was dit Andries se beurt om die drietal se vrae te antwoord.
Watter soort meisie sal by Ruan pas, wou Charlene uit die wegspringblokke hoor. “ ’n Baie spontane meisie, maar ook iemand wat hom sy eie spasie sal gee. Hy hou nie van baklei nie. Hy’s ’n groot seun, maar hy het ’n klein hart,” het Andries vertel.
Hy het ook gevoel dat Ruan reg is vir ’n verhouding, maar dat dit nie ’n gejaagdheid moet wees om dit te bewerkstellig nie. Sy wyse raad was dat dit tyd neem om mekaar beter te leer ken.
“Sy kinders kom altyd eerste,” het Andries op Bejanke se vraag reageer oor die tipe pa wat Ruan is. “Alles wat hy doen, doen hy vir sy kinders.”
Cindy het half teleurgesteld gevoel omdat daar tydens hulle sessie met Andries nie veel nuwe inligting, of selfs geheime, uitgekom het waarvan hulle nie bewus was nie.
Aan die einde van die kuier, het Andries by die drietal gepleit dat, wie ook al die gekose een sou wees, net mooi na Ruan moet kyk. Asseblief. “Praat altyd met hom asof jy hom liefhet. Asof jy vir hom omgee.”
Ruan in die spervuur
Hoe lyk die toekoms vir hom, wou Alta by hom uitvind. Hy’s op soek na iemand wat hom verantwoordbaar kan hou omdat hy iemand is wat redelik gemaklik kan raak, was sy reaksie. “Dis iets wat ek weet, dis iets waaraan ek werk . . . maar dit gaan nie oornag verander nie.”
Hy het ook genoem dat hy soms aggressief mag oorkom, maar verduidelik dat hy moes opstaan vir sy regte in die industrie waarin hy homself bevind het. “Ek moet myself vulnerable maak,” het hy genoem.

Sanet het hom as heeltemal anders ervaar as wat sy gedink het. “Hy’t ’n baie groot hartjie en hy was baie eerlik en oop en opreg.”
En op haar beurt het Chantelle gevoel hy is ’n aangename ou wat gemaklik is met wie hy is. Ook sy het sy sagte hart raakgesien.
“Hy’s baie nicer as wat ek gedink het. Very nice, very very nice,” was Alta se reaksie.
En Ruan het weer vir Charlene in die bresse getree toe hy vir Chantelle vertel dat sy die “mees authentic-ste reguit mens” is.
Vir Sanet het hy gesê dat Bejanke die “mees grounded down to earth-mens” is wat ook saggeaard en ferm kan wees. Sanet was oortuig dat die twee mekaar baie gelukkig sal kan maak omdat hulle baie dieselfde soort mens is.
“Sy bullsh*t nie, she calls a spade a spade,” het Alta weggespring nog voordat Ruan oor Cindy kon uitwei. “En sy’t presies dieselfde persoonlikheid as wat jy is.”
“Maar . . . maar Cindy het ’n m**rse front ook. Dis haar defence mechanism. Sy’t eintlik een van die sagste hartjies,” het Ruan daarop reageer.
Nou word daar gebraai
“Dis nogal scary om te dink vanaand ontmoet jy ouers. Ek meen, in ’n normale proses is hierdie half like jam-packed . . . hierdie is iets wat heel later in ’n verhouding sou gebeur het,” het Charlene effe senuweeagtig opgemerk.
Onder die gaste was Annelda en Ané Senekal, Ruan en JP se sussies – en hulle het gedink die drie meisies is baie oulik, op hul eie manier. Maar hulle wou geen voorspelling waag oor wie die een kon wees wat “die mooiste man van Alberton” se hart verower het nie. Maar Charlene se naam het tog opgeduik.
Cindy het twee van haar mansvriende ook genooi: Dewald en Werner, haar selfaangestelde lyfwagte wat altyd seker maak dinge loop reg wanneer daar kaperjolle is. Maar daar het iets baie swaar op Cindy se hart gedruk – die feit dat Ruan feitlik glad nie met haar gepraat het nie. “Ek dink as hy 10 sinne met my gepraat het, was dit baie. Want ek het hom gelos. Jy weet ek gaan nie . . . jy geniet jouself . . . ek is nou nie ’n Venter-trailertjie wat sy g*t gaan volg die hele tyd nie.”
Nabetragting
Ruan het vir JP vertel dat hy die vorige dag ook die ander kant van die drie meisies gesien het, maar hy het nie geweet of daardie inligting hom van opinie oor sy keuse gaan laat verander nie. Maar een ding is seker en dit is dat Ruan uitsien na die blaas van die eindfluitjie, al is hy nie seker wat die telling gaan wees nie.
“Ek het nou bietjie tyd nou om te reflect, dan gaan ek maar besluit, ou. Dis maar moeilik.”
Die meisies kyk terug
“Hierdie proses was baie meer intens. Ek voel eintlik nie baie lekker nie,” het Cindy erken. “What if it’s not me?” het sy gewonder oor die keuse wat Ruan moes maak. Sy het weer genoem dat sy aan Op my eish! deelgeneem het vír Ruan.
“Ek dink ek slaat nou panick attack vyf of ses dalk nou hiersô vanoggend,” en Cindy het bevestig dat sy regtig baie vir Ruan omgee.
Op haar beurt het Charlene gevoel sy was minder op haar hoede en het Ruan nader aan haarself toegelaat. “Ek het definitief daai gevoelens van verliefdheid. Ek dink ek kan vir Ruan lief raak. Ja. Definitief. Maklik. Dit kan óf die begin wees van my love story . . .”
“Ek is happy hier waar ek is. En die smile op my gesig – ek dink is oor hoe ek voel oor Ruan. Ek smile want as ek van hom praat, smile ek ook,” het Bejanke gesê.
Uitgedos!
Vir die groot aand wat voorlê, is elkeen van die drie uitgedos in ontwerpersuitrustings deur niemand anders nie as die befaamde ontwerper Anel Botha. En hulle het behoorlik geskitter en gestraal. “So reg soos ’n roer,” het Cindy vir Anel gesê toe sy in haar swart halternek-aandrok met blinkertjies opgedaag het.
Bejanke was in roosgoud gedrapeer, een van Anel se gunsteling-kleure. En Bejanke het glad nie omgegee dat die korset effe knap was nie, want soos Anel gesê het: “Bietjie pyn, bietjie mooi”.
Bejanke, wat deur Anel as “absolute golden goddess, legs for days” beskryf is, kan ook ’n toekoms saam met Ruan sien.
“As Ruan my sal kies, weet ek nie hoe ek sal voel nie. Ek het nog nie daar gegaan in my gedagtes nie,” het Charlene laat hoor. Sy is in ’n woudgroen laerug-aandrok met blinkertjies geklee wat haar uitstekend gepas het.
“Maar ek dink wanneer ek finally daai woorde hoor dat ek is gekies, it’s literally a dream come true.”
Cindy het gesê sy het wel ’n gevoel van wat mag gebeur, maar diep in haar hart het sy bly hoop dat sy nie in die kol is met daai gevoel nie. “Ek voel dit gaan nie ek wees nie.”
Charlene het weer gehoop dat, sou dit nie sy wees nie, hy wel iemand sal vind wat sy hart sal raaksien en nie net na die white noise gaan kyk nie.
“As ek wegstap met Ruan, dan is dit ’n bonus,” was Bejanke se reaksie.
Hoe voel die meisies?
“As jy mooi lyk, voel jy goed, né? So, dis waar ek nou is,” het Cindy gesê toe sy Ruan tegemoet stap in haar pragtige uitrusting. Ruan lyk ook heel aantreklik in sy swart pak en bypassende swart hemp.
“Natuurlik hoop ek Ruan kies my aan die einde van hierdie journey. Hy’t my hart kom steel in ’n baie kort tydjie,” het Bejanke erken.
“Dit voel so half die grand finale want hierdie hele proses kom nou bottelnek tot op ’n halt en dis either going the one way or the other,” het dit van Charlene se gekom.
Moeilike gesprekke
“Jy is ’n ongelooflike mens, hoor my. En jy weet hoe ek voel oor jou. Ek is baie lief vir jou, baie baie lief vir jou. Rêrig,” was sy woorde aan Bejanke.

“Ek is mal oor jou. Jy weet presies hoe ek oor jou voel en ek weet jy glo my,” het hy vir Charlene gesê. “Jy tiek al die bokse vir my, elke liewe boks. As ’n vrou, tiek jy dit vir my.”

Hy het vir Cindy vertel dat die reeks vir hom ’n verstommende ervaring was. “Ek gaan jou nie bullsh*t nie, ek gaan dit nie kortknip nie. Daar’s baie wat ek moet uitsort vir myself. Ek en jy is connected, op ’n ander level. Ek gaan jou nie vandag kies nie,” het hy Cindy se voorgevoel verwoord.

“If it’s not meant to be . . . of daar’s iemand anders wat vir my wag,” was haar reaksie.
Wat het die wingman op die hart?
Terwyl Ruan met die meisies gepraat het, het die vriende en familie nader gestaan om na JP te luister. Hy het eerstens vir Anelia Marais van Kilima-wildreservaat bedank vir die vier weke wat die span daar spandeer het.
“Ek het gedink toe ek daar sit die eerste dag en die girls kom daar in – toe sê ek ‘Ruan, jou lucky bl*ksem’. Maar dit was nie so nie. Dit was ’n massive, massive emosionele rollercoaster,” het hy uitgekry voordat hy self deur sy eie emosies oorweldig is.
Besluite, besluite
Nadat Ruan vir Cindy gesê het dat hy haar nie gaan kies nie, het hy met Bejanke die volgende gesprek gehad.
“Ek kan nie nou vandag ’n besluit maak nie. Een, die risk is te groot vir my. Ek moet baie werk aan myself doen, en dis nie net ’n sê-ding nie. Dis ’n moet. Ek kan nie net iemand kies omdat ek moet kies nie. Jy weet hoe ek oor jou voel. Die tyd is té min vir my,” het dit van ’n beswaarde Ruan gekom.

“Ek moet tyd weg vat, en ek gaan nie die kans vat en jou deur k*k trek nie, want dis vir my ’n cycle. Oor en oor.”
Met Charlene langs hom op die rusbank, het hy weggespring met: “Ek sê nou vir jou, Charlene, die’s nie die einde van die journey nie. Dit ís nie. Dis net ons time frame… Ek kan nie hier wegstap en vir jou gee wat jy nou wil hê nie.

“Vandag, ek gaan jou nie kies nie – maar ek gaan ook niemand kies nie. In ’n opsig van ek kort tyd, ek kort vir myself . . .” kon hy uitkry voordat die emosies hom oorweldig het.
“Ek het ’n m**rse journey om te stap vir myself. En ek wens ek kan nou vir jou sê ek kan vir jou gee wat jy wil hê. Maar ek gaan nie net ’n besluit maak om ’n besluit te maak nie, verstaan?”
Cindy was tog wel hoopvol vir nog ’n kans toe sy besef het Ruan het nie een van hulle gekies nie. “Ek sal vir jou my nommer gee, dan dink jy daaroor en bel my oor ’n paar weke,” was haar woorde aan Ruan.

Charlene was wel hartseer, maar het gesê Ruan was die eerste man wat werklik verantwoordelik was met haar hart. “Eerder dit en sy eerlikheid as wat hy iets doen wat hy nog nie reg is voor nie,” het dit van ’n tranerige Charlene gekom. Maar tog gaan sy hom mis.
Met ’n “sorry” het Bejanke kliphard probeer om haar trane voor die kamera te keer. Net soos Ruan tevergeefs probeer het om sy eie trane te keer toe sy van die rusbank opgestaan en weggestap het.
“Natuurlik is my hart seer. Maar Ruan is ’n ongelooflike mens en ek waardeer sy eerlikheid en sy opregtheid oor dit. En ek wens hom net alles wat mooi is, toe op sy journey,” het sy deur die trane laat hoor.

“Op die einde van die dag”
‘Ouboet’ JP was ook nie onaangeraak deur die drama en trane nie. Hy het gesukkel om by tye sy sê te sê voor die gaste. “Op die einde van die dag stap Ruan nou nie met iemand weg nie.” Daarmee het hy vir Ruan, Charlene, Bejanke en Cindy genooi om by hulle aan te sluit.
Nykie Pretorius, wenner van Op my eish! (S2 met Francois Jacobs) het geglo dinge gaan baie mooi uitwerk.
“Eerder ’n besluit neem soos dit en jy weet vir ’n feit dat jy trek nie iemand saam nie en mors nie hulle tyd nie. Jy mors ook nie jou eie tyd nie.”
Die aktrise, Angelique Gerber, het vas geglo dat Charlene gekies sou word. En sy glo vas Ruan het ’n fout gemaak . . .
Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.