Menu terloops
In Recaps [7 Jan 2026]

‘Kokkedoor: Son & see’: Volstoom vorentoe na die wenstreep vir die laaste twee spanne


Week ná week het ‘Kokkedoor: Son & see’-kykers saam met die spanne die sweet afgevee ná elke fenomenale uitdaging. En natuurlik saam ook ’n traan of twee gestort wanneer daardie gesogte voorskote finaal opgehang moes word. Ons kyk terug voordat die laaste episode vandeesweek uitgesaai word. 

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor: Son & see’: Volstoom vorentoe na die wenstreep vir die laaste twee spanne

Kokkedoor: Son & see het weliswaar kykers én deelnemers op ’n wipwarit van emosies, blydskap en verstommende disse geneem. 

Van die agt spanne wat aanvanklik in Struisbaai die hitte van die kompetisie moes trotseer, is daar nou net twee spanne oor: Andrew Anderson en sy dogter, Leoné Smit, en Hanna van der Westhuizen en haar seun, Dirk. Die twee spanne het deurentyd vir verrassende disse gesorg en gereeld óf die uitdagingsronde óf die Goue Middeweg-uitdaging gewen.

Hoe het hul pad tot hier geloop?

Andrew (57), die self-erkende “mal kamper” van Mtunzini, het aanvanklik gesukkel om na Leoné (30) te luister. Sommer met die intrapslag het dit begin toe sy hom berispe het oor te veel sout in hul dis. Hy wou nie bes gee nie, maar Leoné was reg. En die twee beoordelaars, Herman Lensing en Yolani Abrahams, het hulle aan Leoné se kant geskaar.

Kokkedoor Son & see
Andrew Anderson en sy dogter, Leoné Smit. Foto’s: Verskaf

Maar Andrew het gelukkig hierdie boodskap vinnig aan boord geneem. Hy het besef dat daar tye is dat hy wel op sy dogter se instink in die kombuis kan vertrou. In die tweede episode het dit vrug afgewerp en het hulle die koekie-proe en -bak gewen. 

En in die derde episode was dit hulle gesellige steak-ete wat hulle as die Goue Middeweg-wenners van die dag laat seëvier het.

Kokkedoor
Hanna van der Westhuizen (58) en haar seun, Dirk (29), het vanuit die staanspoor mekaar goed aangevul.

Aan die ander kant van die spektrum het Hanna (58) en haar seun, Dirk (29), vanuit die staanspoor mekaar goed aangevul. Kalmer op die oppervlak, minstens. Maar dit het tog soms gevoel of dit soos die eendjie op die dam-situasie is… Waar alles op die oog af kalm lyk, terwyl daai pootjies teen ’n wilde spoed onder die water rondtrap. 

Maar in die vierde aflewering het Hanna en Dirk hul ritme gevind. Hulle het, saam met Andrew en Leoné, die meeste pannekoeke binne ’n sekere tyd gebak. Hul vuurtjie het nog hoër gevlam toe hulle boonop die Goue Middeweg-wendis van die dag voorgesit het: ’n “Spaanse” pot en rooibostee-jellie saam met ryspoeding.

In die vyfde episode het dié twee boonop dit reggekry om 18 van die 22 bestanddele in die eerste Kokkedoor-wenner en glanssjef Mynhardt Joubert se Kersvrugtekoek te identifiseer. Loshande bo die res van die ander spanne.

Toe hulle in die sesde episode weer die uitdaging om gourmet-toebroodjie met oorskietkos te maak, gewen het, het Dirk begin erken dat daar nou verwagtinge begin bestaan oor die pad na die wenstreep toe.

Tussendeur het Andrew en Leoné se disse eweneens vir Herman en Yolani beïndruk. Dit was duidelik dat die twee se verstandhouding met rasse skrede gegroei het – op ’n baie mooi manier. In ’n stadium moes Andrew erken sy dogter kan wel goed kook, en daar het die twee soos ’n geoliede masjien elke uitdaging en Goue Middeweg-take seepglad aangedurf. 

Dit het vrug afgewerp, want die twee was in die sesde episode kop-aan-kop met Hanna en Dirk wat die top-2 disse in die Goue Middeweg-uitdaging aanbetref het. 

Die spanne moes vooraf ’n kleur-tema kies – en die twee het geel getref. Dit was toe einste hul geel aanbiedinge wat gesorg het dat hulle hierdie keer as wenners aangewys is. Andrew kon sy trane nie keer nie. Hy was baie ontroerd oor hoe Leoné volgens hom in sy oorlede ma se voetspore volg.

’n Plekkie in die finaal

En té gou was daar net drie spanne oor met die aanbreek van die sewende episode. Caroline Linde en haar dogter, Anél van Niekerk, het steeds vasgebyt met harte vol hoop vir ’n plekkie in die finaal.

Kokkedoor
Caroline en Anél het die finaal net-net misgeloop.

Maar weer was dit Hanna en Dirk wat met hul seekos-pizza en ouma Rita se klein viskoekies ’n Ooni-oond losgekook het. Die vreugde was groot… Tot waar die glanssjef en gas-beoordelaar van die dag, Reuben Riffel, sy Goue Middeweg met die spanne gedeel het: Sy Arniston-wegbreeknaweek-visbord met verskeie addisionele komponente. 

Die spanne se moed en spoed was byna gebroke. Andrew wou ewe ontsteld weet hoekom hy groente op die rooster moet braai. Waar’s die vleis? En hoe gaan hy dit aan sy vriende kan verduidelik?

Dit was ’n oorstelpte Hanna en Dirk wat moes hoor dat hulle Reuben en die ander beoordelaars die meeste beïndruk het. Hulle was verseker van hul plek in die finaal! 

Alhoewel Caroline en Anél hul absolute bes gelewer het, is hul droom van ’n plek in die finaal deur Andrew en Leoné uitgeknikker. Met ’n skewe glimlag het Andrew erken hy gaan dalk hierdie einste groente-besigheid op die vuur tuis probeer.

Nou het die tyd aangebreek om werklik klippe te kou!


Kokkedoor: Son & see saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies