Hanna en Dirk. Andrew en Leoné. Deur die loop van die kompetisie, was dié twee spanne gereeld die wenners. Dit was dus nie ’n verrassing toe hulle teenoor mekaar in die finaal beland het nie.
Vir Andrew, ’n pastoor van Balito, en Leoné, ’n boervrou van Vryheid, was die hoogtepunt van die reeks toe hulle met “Muis se stack”, ’n dis wat uit onder meer steak en gebraaide eiers bestaan het, die een episode se uitdaging gewen het. Vir Leoné was dit ook ’n hoogtepunt om te sien haar pa kan koekies bak. “Om nie op dag 1 huistoe te gaan nie, was al klaar vir my ’n wen,” het Leonè gesê.
Dirk en Hanna se verhouding het beslis tydens die maak van die reeks gegroei. “Ons vetrou mekaar en gee mekaar spasie,” het Dirk gesê. “Hierdie hele Kokkedoor-reis is ’n ongelooflike ervaring, maar dit sit jou deur diepe, diepe waters.
Die uitdaging was om partytjiekos vir 50 gaste – 25 gaste per span en met nostalgie as die tema – te maak. Die kos is op ’n oestafel voorgesit en moes bestaan uit ’n vingerhappie, ’n hoofmaal met drie disse en natuurlik iets soet om dit alles mee af te sluit. Die spanne het drie ure gehad om dit alles te maak.
Elke span het twee studente van die Institute of Culinary Arts in Stellenbosch gekry om hand by te sit en het ook twee spesiale verrassingsgaste gekry. Taya, Hanna se pa se suster, en JC, Dirk se kêrel, was die ma-en-seun-span se gaste en Ciske, Leoné se niggie van Upington, en Leonie, Andrew se vrou en Leoné se ma, was dié span se gaste.
Op Andrew en Leoné se spyskaart
- Bobotie-springroll met borrie-aïoli
- Fillet met brosgebraaide uie, blomkoolslaai en kaaskrokette
- Roompoffertjies


Die beoordelaars se reaksie
Die aïoli was heerlik, maar die springroll is nie deurgebak nie. Die uieringe was iets wat Herman ’n tweede keer van sou gaan skep, maar Yolani het ’n sous by die fillet én die blomkoolslaai gesoek. Die krokette het nie genoeg sout gehad nie en Herman het gereken daar is te veel diepgebraaide elemente op die oestafel.
Op Hanna en Dirk se spyskaart
- Brosbeskuitjies met Karoobossie en gedroogde tamatie en geklopte feta
- Lamsvleis gevul met waterblommetjies en skaapstertjies, gestolde beet en koringslaai
- Wortelkoek met ’n verrassing van silwerversierde maltballetjies in die middel


Die beoordelaars se reaksie
“Dit is ’n bord wat sê somervakansie,” was Herman se eerste kommentaar. Hy en Yolani het van die brosbeskuitjies gehou, maar kon nie juis die Karoobossie proe nie. Die lamsvleis het hulle goedkeuring weggedra en die gestolde beetslaai met ’n romerige hoedjie was ’n wenner. Ook die koringslaai se tekstuur het komplimente van Herman en Yolani gekry.
Die wenners en hul pryse
Die wenners se prysgeld, geborg deur World Sports Betting, was R500 000 en die naaswenners het R180 000 van Spekko gekry. Al vier die spanlede het ook elkeen ’n eetservies van Mervyn Geers gewen.
Hanna en Dirk was die uiteindelike wenners en Hanna het opgewonde vertel van die boorduurmasjien wat sy met haar deel van die wengeld gaan koop. “Dit voel onwerklik. Dit beteken geweldig baie,” het Dirk gesê. “Sonder haar (Hanna) sou ek dit nie kon gedoen het nie.” “Ek sou dit ook nie sonder Dirk kon doen nie,” het Hanna gesê.
Vier wenke uit die Kokkedoor-kombuis in dié episode
- Wanneer jy iets soos bobotie-springrolls wil maak, moet jy die geur van die bobotie – wat die eiervla insluit – kan proe. – Herman
- “Jy gaan nie met mayo uit die spens R500 000 wen nie!” – Dirk
- As jy rou ui in ’n slaai gebruik soos Dirk en Hanna se koringslaai, gebruik eerder rooi ui omdat dit soeter is en onthou ook om dit fyn te sny sodat die uie-smaak nie oordonderend is nie.
- Wees versigtig om te veel soet elemente te gebruik wat die smaak kan beïnvloed. Herman het vir Andrew afgeraai om eerder nie Sprite vir sy uieringe te gebruik nie, maar eerder sodawater wat meer neutraal is.
Kokkedoor: Son & see is op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Kokkedoor Vuur & vlam op Showmax.