“Ek dink ek was een keer hier gewees . . . en ek dink dis omdat ek verkeerd gery het,” het Janie du Plessis, aanbieder van In die sop: Gastehuisrevolusie met die span se aankoms in Saldanha erken. “Máár – dis so mooi! Hierdie is die volgende Weskus-dorp wat sy kop gaan lig.”
Dis Lucresia en Jacques Geldenhuys se gastehuis, Die Strandloper, wat onder die In die sop: Gastehuisrevolusie-span se bekwame en kreatiewe hande gaan deurloop. Die twee besit die gastehuis al vir 26 jaar.
Lucresia, ’n plaasnooi, het vertel dat sy gewoond was aan baie gaste en familie – en dit was hoofsaaklik die beweegrede vir die totstandkoming van Die Strandloper. Vandag is daar sewe kamers met ’n see-uitsig en drie van die sewe is selfsorgeenhede.
Maar nie alles het seepglad vir die gesin verloop nie. ’n Nare ongeluk waartydens sy deur ’n bus getref is terwyl sy op haar fiets gery het, het ’n impak op haar mobiliteit gehad.
Maar natuurlik, voordat Janie en die In die sop: Gastehuisrevolusie-span arriveer het, was dit hul “gastehuis-spioen” se beurt om te kom inloer. Dirk Jacobs, die man in beheer van 21 Nettleton, een van Kaapstad se top-boetiekhotelle, het as gas ingeboek. En fyn kan die man kyk – want hy verstaan die gastehuisbedryf baie goed.
Toe hy die watervlak op die rusbank-arm gewaar het, kon hy homself nie keer nie. “Iemand het natuurlik ’n nat handdoek hier gegooi. Mense is so f*kken inconsiderate,” het hy laat hoor.
Janie het met haar aankoms gewonder hoekom die gastehuis in die sop kan wees. Die ligging is ideaal. Maar is dit Saldanha of die gastehuiseienaars se fout, het sy gewonder. Haar eerste indrukke van die gastekamer op die eerste vloer was “vervelig”. En “die dae van kitskoffie vir die gaste uitsit” is verby . . .
“Ek sal nooit onthou dat ek in so ’n kamer geslaap het nie. En dis nie wat jy wil hê nie.”
Gaan “waar daar ’n Willus, is daar ’n ‘way-us’” dalk die perfekte reddingsboei vir hierdie gastehuis wees? Ja, Janie het weer vir Willus Bosch, ’n professionele binnenshuisversierder en opknapper van Stellenbosch, nader gehark om vir Die Strandloper weer nuwe vlerke te gee.

Lucresia vertel:
Jy is ’n plaasmeisie. Waar het jy grootgeword, en wat het jou na Saldanha gebring?
“Ek het op ’n plaas in die Breëriviervallei grootgeword. My man het later ’n werksgeleentheid in Saldanha aanvaar, en dit het ons hierheen gebring.”
Hoe het jy gevoel toe jy uitvind dat jul seun Heinrich julle vir In die sop: Gastehuisrevolusie ingeskryf het? Was dit moeilik om te aanvaar?
“Ek was baie verbaas en, om eerlik te wees, aanvanklik ook ’n bietjie ontsteld. Ek hou nie daarvan om myself bloot te stel nie, en ek het ook nie regtig geweet wat die program behels nie. Ons het nooit gedink daar sou werklik iets van kom nie, en daarom het ons dit nie te ernstig opgeneem nie.”
Jy het genoem dat jy vir Janie op Kwêla! gesien het. Hoe was dit om haar te ontmoet, en hoe het julle haar terugvoer ervaar?
“Janie is ’n baie eerlike en reguit mens, en ek waardeer daardie eienskap. Wanneer jy haar beter leer ken, sien jy egter ook haar sagte en opregte kant. Sy is ’n aangename mens wat haar rol in die reeks met groot professionaliteit vervul het.”
Hoe moeilik was dit om die spreekwoordelike teuels aan die In die sop-span oor te gee, veral toe Janie en haar span begin het om matte en meubels uit die huis te verwyder?
“Ek was verstom oor hoe vinnig hulle die plek leeggemaak het! Tog het ek positief gebly en net gehoop hulle gaan nie die soliede houtmeubels en vloere verf nie. Om eerlik te wees, was ek teen daardie tyd so moeg en uitgeput dat ek my ook nie te veel bekommer het nie.”
Julle wou Die Strandloper verkoop. Het julle nou weer nuwe moed gekry?
“Sonder enige twyfel. Van al die wonderlike dinge wat die In die sop-span vir ons gedoen het, was die grootste geskenk waarskynlik die nuwe perspektief en moed wat hulle vir ons gegee het om weer vorentoe te kyk.”

Jacques vertel:
Was jy van die begin af oortuig dat die gastehuis die regte besluit was?
“Lucresia is ’n gekwalifiseerde onderwyseres wat haar loopbaan opsy geskuif het om ons kinders groot te maak.
“Toe die kinders ouer geword het, het sy die behoefte gehad om iets nuuts aan te pak. Ons het toe besluit om ’n gastehuis langs ons bestaande woning te bou. Ná deeglike marknavorsing het ons gevoel dit was ’n goeie sakegeleentheid.”
Hoe moeilik was dit om te erken dat julle “in die sop” was?
“Ons het verstaan wat gedoen moes word om die gastehuis weer op koers te kry, maar nadat Lucresia in ’n ernstige fietsongeluk deur ’n bus raakgery is, het sy eenvoudig nie meer die fisieke vermoë gehad om alles te bestuur nie.
“Ons het skielik ekstra uitgawes gehad, en verbeterings aan die gastehuis moes ongelukkig wag. Sonder ons medewete het ons seun die gastehuis vir die program ingeskryf omdat hy geglo het dit sou ons die hupstoot gee wat ons nodig gehad het.”
Janie is bekend vir haar reguit terugvoer. Hoe het jy dit ervaar, en het jy daarmee saamgestem?
“Ja, Janie was heeltemal reg in haar beoordeling van die tekortkominge by die gastehuis. Dit is natuurlik nooit lekker om kritiek te hoor nie, maar haar terugvoer was eerlik en waardevol.”
Toe Willus met pienk flamingo-bakstene gedreig het, het jou hart amper gaan staan. Wat sou jy gedoen het as dit regtig daardie kleur was?
“Ek het darem geweet hy kan nie heeltemal ernstig wees nie! Maar as hy dit wel gedoen het, sou ek waarskynlik dadelik die sterkste hoëdrukspuit gaan huur het om die pienk verf af te kry.”
Wat was vir jou persoonlik die grootste verrassing toe julle ná drie dae terugkeer?
“Daar was soveel verrassings, maar as ek een moet uitsonder, is dit beslis die eetkamer met die pragtige kaggel. Willus het die ruimte omskep in ’n warm, rustige area waar gaste graag wil ontspan en kuier.”
Het julle enige raad vir ander gastehuiseienaars wat dalk ook in dieselfde bootjie sit?
“Dit is nie ’n maklike bedryf om suksesvol te bestuur nie, veral as jy met jou hele hart daarin staan en werklik ’n verskil wil maak.
“Dit is maklik om só op jou gaste te fokus dat jy van jouself vergeet. Daarom is dit belangrik om ’n gesonde balans te handhaaf. Kies jou teikenmark sorgvuldig, gebruik doelgerigte bemarking en maak gebruik van die raad van mense wat reeds sukses in die bedryf behaal het.”
In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.