Menu terloops
In Recaps [9 Jul 2026]

‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Nuwe vere in Kuilsrivier


In die voorlaaste episode van ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’ op kykNET was aanbieder Janie du Plessis oorgehaal om ’n gastehuis in die sop nie net met raad nie, maar ook met daad, nuwe hoop te bring.

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Nuwe vere in Kuilsrivier

Al wat In die sop: Gastehuisrevolusie-aanbieder Janie du Plessis van hierdie gastehuis in Kuilsrivier naby Kaapstad geweet het, is dat die eienaar van Eagle’s Nest B&B ’n enkelma van twee is. “Báie bedrywig, maar nou nog die gastehuis ook. Nou dít wil gedoen word,” het Janie laat hoor en sy kon nie wag om daar te gaan aanklop nie.

Raelene Arendse is die eienaar en sy is nie bietjie trots op Kuilsrivier nie. Benewens die feit dat sy baie van die area hou, is Kuilsrivier ook een van die voorstede wat die vinnigste besig is om groei te toon.

Sy het vertel dat Kuilsrivier destyds nie baie verblyfopsies gehad het nie. Daarom het Eagle’s Nest daar ’n goeie voet in die akkommodasiedeur gesit. ’n Paar jaar later het sy haar vlerke nog wyer gesprei en ’n tweede eiendom aangekoop. Vandag spog Eagle’s Nest met 17 kamers op twee persele – en die gastehuise is 24 uur oop.

Janie gaan kuier 

“O gaats, ek sien sommer al klaar baie werk sommer hier by die oprit,” was haar eerste gedagte toe sy by die gastehuis aankom. En sy het besluit om, strydig met haar gewone plan van aksie om alleen deur die kamers te loop, vir Raelene saam op die ontdekkingstog te neem.

“Ek kan sien die plek het net meer as dekor nodig. Dekor is net ’n pleister op ’n baie diep seer.”

Een ding staan uit soos ’n paal bo water – daar is baie werk nodig! Dis hoekom Janie weer vir Willus Bosch ingeroep het om te kom help. En Willus is lús om groot verandering teweeg te bring. “Hierdie is nie net ’n mooimaak-projek nie. Dis ’n régmaak-projek,” het hy vir Janie verduidelik. Mure en staalhekke gaan waai, terwyl ligte en ligte en ligte oral aangebring gaan word.

In die sop gastehuisrevolusie
Janie en dekorkenner Willus Bosch gesels met Raelene. Foto’s: Skermgrepe

Vrae vir Raeleen:

Hoe op dees aarde het jy in 2010 in die gastehuisbedryf beland? 

“Ek het van jongs af ’n liefde vir mense gehad en ek het gehou van die beplanning en organisering van ons huishouding en om mense te onthaal. Ek was ook van ’n jong ouderdom hier rondom 10 jaar oud reeds goed in die voorbereiding van kos.” 

Hoe het jou kinders, Zorelda (toe 5) en Leigh-Rae (toe 7) by hierdie nuwe avontuur in- en aangepas? Meer nog, hoe het jy dit reggekry om twee jong kinders en ’n veeleisende besigheid aan die gang te hou?

“Leigh- Rae en Zorelda was destyds nog in die laerskool en ons het dit baie geniet om die gastehuis oop te maak. Dit was werklik vir my ’n positiewe ervaring en ek kon by beide die eise van die besigheid én die grootmaak van my kinders aanpas.”

Jy het genoem dat jy vir In die sop ingeskryf het omdat dit vir jou lekker sal wees as iemand anders dalk ook iets vir jou kan doen. Vertel meer oor hoe hierdie proses jou geraak het en dalk tot ander insigte gebring het. Sal jy dalk nou makliker hulp vra eerder as om jouself onder werk en sukkel te begrawe?

“Dit was goed vir my dat ek ten minste net een keer ’n goeie span kon hê wat namens my Eagle’s Nest kon vernuwe en ook ’n nuwe dimensie aan die gastehuis kon verleen.

“Ja, dit het my geleer dat ek van ander bystand kan ontvang en nie alles op my eie hoef te doen nie. Dankie, Janie en die In die sop-span!”

In die sop gastehuisrevolusie
“My passie vir Eagle’s Nest het nuwe woema gekry,” het Raelene vertel nadat sy die transformasie vir die eerste keer gesien het.

Hoe was jou kennismaking met Janie vir jou? Was jy verbaas toe jy hoor dat sy ook ’n enkelma is? En hoe het jy haar terugvoer ervaar?

“My kennismaking met Janie was positief en sy is  regtig ’n aangename TV-persoonlikheid. En ja, ek was baie verbaas om te hoor sy is ook ’n enkelma.

“Ek het haar terugvoer deurgaans as positief aanvaar en het goeie bruikbare wenke by haar gekry.”

Wat was vir jou die waardevolste les wat jy uit hierdie proses geleer het?

“Goeie samewerking en goeie beplanning bring positiewe verandering mee. My passie vir Eagle’s Nest het nuwe woema gekry en dit het my van vooraf weer gemotiveer om die gastehuis meer effektief te bestuur.”

Wat sal jy vir gastehuiseienaars aanraai om te doen as hulle ook in die sop is?

My raad aan alle ander gastehuiseienaars is om deur te druk ten spyte van die omstandighede. Kry net jou passie terug vir jou besigheid.”


In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies