Menu terloops
In Recaps [2 Jul 2026]

‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Janie en haar span gee vir dié lodge sy ‘nuwe begin’


Janie du Plessis en die res van die ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’-span kies in vandeesweek se episode koers na Walkerville.

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Janie en haar span gee vir dié lodge sy ‘nuwe begin’

“Dit lyk soos ’n wegbreeknaweek-tipe huis. Ek het ’n bietjie navorsing gaan doen oor hierdie plek en kon bitter min kry. So, ek het op hierdie stadium baie meer vrae as antwoorde,” sê In die sop: Gastehuisrevolusie-aanbieder Janie du Plessis met die span se aankoms by Tswalu Grove Safari Lodge in Walkerville. Walkerville is net so buitekant Johannesburg daar na Vereeniging se kant toe.

Die eienaar, Chrystelle Grove, het gesê Tswalu Grove is vir haar ’n gedeelde droom. Dit het begin met ’n boekgeskenk in 2001 deur manlief Johan getiteld Simply Safari, ’n boek deur Daryl en Sharna Balfour. 

Sy het ook verduidelik dat Tswalu “nuwe begin” beteken. Dis ook heel gepas oor hoe sy die dekor getakel het. Ou goed, soos emaljebakkies en ou swart ysterpotte, word op ’n nuwe manier aangewend. Van weggooi is daar nie sprake nie. Dan is sy ook danig knap met haar hande. Botter, sagte kase, jogurt, klasse om ander te leer om hierdie vaardighede hul eie te maak . . . noem maar op en Chrystelle kan dit doen.

Tswalu Grove het uit ses eenhede bestaan waarvan twee alleenstaande was. Dan, vertel Johan, dat hulle ook wildritte bied en oor ’n waenhuis beskik wat vir funksies ingespan word.

Terwyl die twee hul toekoms gebou het op die lodge as die plek wat na hulle sal omsien, het Johan onverwags baie ernstig siek geword het nadat hy verlede jaar ’n standaard-operasie moes ondergaan. Twaalf dae later het hy bloedklonte deur sy longe gekry. Johan het genadiglik herstel, maar hul lewe het soos ’n handomkeer verander. En die pad na volledige herstel lê nog lank voor hulle uitgestrek.

In die sop gastehuisrevolusie, Janie du plessis
Janie gesels met Tswalu Grove Safari Lodge se eienaar, Chrystelle Grove. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Janie se eerste indrukke

“Ek kan nie gló . . . dis soos ’n paradys. Elke plekkie, elke hoekie, elke tuintjie is so ’n verrassing,” het dit van Janie gekom wat duidelik baie beïndruk met hierdie groen aarde was.

“Jy kan vir ’n hele naweek hier rondloop en elke hoekie gaan vir jou ietsie wys wat jy die vorige ronde nie gesien het nie.”

En sy was stomgeslaan toe sy hoor dat daar in 2003 geen bome – en dus geen voëls – hier was nie. Johan het nie op hom laat wag nie en een boom na die ander is aangeplant. ’n Onlangse besoek deur ’n voëlkyker het die egpaar behoorlik verslae gehad toe hy vertel dat hy nie minder nie as 58 verskillende voëlsoorte hier kon identifiseer. 

Alhoewel Janie nie baie kritiek op die kamers gehad het nie, het sy gevoel dis ’n bietjie te beknop. “Dis asof daar te veel goed is. Ek sou graag so bietjie met ’n kam deur daai kamers wou krap en net ’n bietjie van die goed uithaal,” was haar versugting. 

Dis net daar en dan dat Janie vir dekorkenner Misi Overturf laat kom het om sake hier te help beredder. Op haar beurt het Misi erken sy het senuweeagtig gevoel, asof sy peuter aan iemand se kunswerk.

Met groot deernis het sy verskeie van Chrystelle se kunswerke verwyder – maar nie weggemaak nie! Dis weer elders aangewend.

Maar hoe voel Chrystelle en Johan oor al die veranderinge en die toekoms?

Chrystelle vertel:

Julle het in 2003 die stad gegroet en hiernatoe gekom. Waar het julle voorheen gebly? En hoe moeilik was die sprong om te maak?

“Ons het voorheen in die suide van Johannesburg gewoon en ons het ook albei daar grootgeword. Dit was ’n maklike sprong om te maak omdat ons in ons harte oortuig was dat dit die plek was waar ons wou wees.  

“My oupa en ouma het ’n plaas in die suide van Namibië gehad en ons het baie vakansies daar deurgebring. Dit is sekerlik maar waar my liefde vir die plaaslewe en skape vandaan kom. Ek was ook bevoorreg dat Johan en ons twee seuns saam met my plaas toe kon gaan voor my oupa se afsterwe in 2007. 

“Vandat ek hom ken, was Johan nog altyd ’n mens wat lief was vir die plaaslewe en die natuur. Ons het natuurlik nie besef hoeveel werk vir ons voorgelê het toe ons hiermee begin het nie!” 

Julle het besef dat alles nie klopdisselboom is wat jul besettings betref het nie. Hoe lank het dit gevat voordat julle dit besef het – en hoe het dit gevoel toe daardie wete ingesink het?

“Ná Johan se terugslag met sy gesondheid het ons gou besef dat ons iets sal moet doen om die besetting van die lodge te verbeter. Die gastehuis was ons ‘eendag-plan’ en toe dit skielik ’n ‘vandag- plan’ moes word, het ons besef, ons is nou maar in die sop.

“Jou realiteit en jou droom vir jou gastehuis voel by tye onoorbrugbaar. Die uitdagings is groot en ’n mens voel moedeloos en radeloos by tye.”

Jul seun was baie verbaas toe hy uitgevind het julle het vir In die sop omdat hy julle nog nooit vantevore om hulp sien vra het nie. Hoe moeilik was dit werklik om tot daardie stap oor te gaan?

“My inskrywing was absoluut ’n geloofstap. Ek glo dat die Heilige Gees my gelei het om dit te doen. Gelukkig het Johan hy my hierin ondersteun. Ek het my inskrywing vir die Here gegee en geglo dat as dié Sy wil was, ons gekies sou word vir die program. 

“Om tot hierdie stap oor te gaan, was seker een van die grootste uitdagings van my lewe. Ons het eers ons kinders vertel van ons inskrywing nadat ons gekies is.”  

Dit was duidelik vir jou ’n diep-emosionele tyd toe jy besef het julle moes alles nou vir eers aan die In die sop-span se hande oorlaat. Vertel meer hoe dit vir jou gevoel het toe julle so wegry en die lodge verdwyn in die tru-spieëltjie?

“Sjoe, dit was emosioneel vir my – en ek dink vir Johan ook! Ons was nog altyd gewoond daaraan om alles self te doen. Ons rol ons moue op, spring in en sit saam skouer aan die wiel. Die gastehuis was nog altyd net ‘ons’. Ons droom, ons werk, ons idees, ons planne.

“Ek en Johan albei is maar redelike beheervrate en om te laat gaan, was aan die een kant moeilik en uitdagend, maar ek kan ook onomwonde sê dat ek ’n vrede in my gehad het, Ek het net geweet dat ek die Here en die span wat Hy vir ons gekies het, vertrou het. 

“Die mengelmoes emosies het soos die lagies van ’n koekstruif op mekaar gelê, maar vir ons albei was die gevoel van opgewondenheid die heel boonste lagie!”

Janie het die gesprek met jou oor die nuwe strategie en ’n kopskuif van jou kant af as een van die moeilikste take wat vir haar voorgelê het, beskryf. Hoe het hierdie gesprek by Melville Mudroom vir jou verloop, en het dit jou nuwe insig gegee?

“Jammer, Janie! Eerstens moet ek erken – om my na die Melville Mudroom toe te vat, was ’n groot bederf. Ek het voorheen pottebakkery beoefen en dit was vir my nog altyd ’n gelukkige en veilige spasie.

“Janie het ’n wonderlike manier om ’n ongemaklike onderwerp aan te raak en met medemenslikheid en empatie vir jou ’n ander insig te bied. Sy kies haar woorde omsigtig en gee jou stof tot nadenke. ’n Mens kan maklik té gemaklik in jou spasie raak en sy het net ’n manier om jou met haar woorde uit te daag om groot kopskuiwe te maak. 

“Ek het haar woorde ter harte geneem en baie van haar raad gevolg. Janie en die span mag dalk net drie dae hier by ons gehad het, maar die impak wat hulle op ons gehad het. sal vir lank nog met ons wees.”  

In die sop gastehuisrevolusie
Chrystelle Grove en haar man, Johan, gesels met dekorkenner Misi Overturf en In die sop: Gastehuisrevolusie se aanbieder Janie du Plessis.

Johan vertel:

Johan, jy word beskryf as ’n baie harde werker en hierdie is ’n baie moeilike vraag – maar hoe het jy dit verwerk dat jy (nog) nie op volle stoom weer kan funksioneer nie? Watter impak het dit op jul lodge en jul lewens gehad? En hoe lyk die pad vorentoe?

“Ja, ek het in 2024 veelvoudige bloedklonte in my longe ontwikkel na ’n operasie en dit was ’n  baie moeilike tyd vir my. Ek was amper twee weke in die intensiewesorgeenheid en na my ontslag uit die hospitaal, was my hersteltyd lank en moeilik.  

“Ek moes baie rustig wees en ek kon nie baie doen nie. Gelukkig het die Here, my vrou en ons Jack Russel, Maxi (of Miemie soos ons haar genoem het), my bygestaan en deurgedra. 

“Wanneer jy klonte in jou longe gehad het, is daar maar skade. Jou asemhaling is nie na wense nie en jy raak gou moeg. Dit is by tye bitter frustrerend omdat ek nie kan werk soos ek altyd gedoen het nie. Dit het ’n groot impak op ‘n mens se besigheid en jou planne wat jy vir die toekoms gehad het.  

“Die werk op ’n plaas hou ook nie op nie en dit is maar frustrerend as jy nie volstoom daarbuite kan wees nie. En ek kan nie volstoom funksioneer nie. Ons moes ’n paar moeilike besluite neem en dit was nie maklik nie. Met God se genade sal alles ten goede meewerk vorentoe.”

Wat was jou reaksie toe jy uitgevind het dat Chrystelle die lodge vir In die sop: Gastehuisrevolusie ingeskryf het? Was dit dalk iets wat jy ook self in ’n stadium oorweeg het?

“Toe Chrystelle vir my sê sy wil ons inskryf vir In die sop en dat sy dit van die Here af gekry het, het ek tot my én haar verbasing bloot net gesê: ‘OK, my liefie.’ Ek het jou werklikwaar nie gedink ons sou gekies word nie, want ’n mens dink mos nie so iets kan met jou gebeur nie. Ek is boonop maar ’n skaam mens om voor baie mense te wees en dan nog erger om te dink jy moet voor ’n kamera praat en op TV verskyn!

“Toe ons hoor dat ons gekies is, het ek dit rustig aanvaar en was ek verbasend, vir my, nogal opgewonde daaroor!

Jy wou nie bling bling vir die lodge hê nie. Was jy in ’n stadium bekommerd dat dinge dalk in daardie rigting sou neig? En hoe voel jy oor die finale projek asook die nuwe rigting wat ingeslaan gaan word?

“Ja, ek was nogal bekommerd daaroor, maar toe die In die sop-span hier opdaag en met ons begin gesels het, het ek die gevoel gekry dat hulle nogal van ons lodge en sy voorkoms hou en dat hul ons outydse styl sal behou op ’n nuwe manier.  

“Die span was wonderlik en hulle het ’n wonderlike taak verrig om ons plek op te gradeer. Die eindproduk was in alle opsigte in die kol. Ons kon nie vir beter gevra het nie! Ek is bitter opgewonde om die nuwe rigting saam met die In die sop-span in te slaan.”

Wat was vir julle die waardevolste les uit hierdie ervaring? 

“Moenie bang wees om ’n kans te waag nie. Dit mag net die beste ding wees wat jy ooit kon doen.”

Enige raad vir ander gastehuiseienaars wat dalk ook nie heeltemal die mas opkom nie?

“Erken dit eerstens teenoor jouself en wéét, daar is ’n uitkoms en ’n antwoord. Ek dink meeste gastehuiseienaars is passievolle, sentimentele mense wat hul eiendomme en omgewing met ander wil deel. Die besigheid is hul ‘baba’. 

“Opgee en mislukking sit nie sommer in ons woordeskat nie, maar moenie bang wees om raad te vra nie. Soms het jy iemand nodig wat met vars oë en minder betrokkenheid na jou situasie te kyk. Daardie mense kom met ‘n nuwe en vars benadering en hul idees en raad gee jou nuwe hoop. Jy het weer lus om aan te gaan en iets nuuts te probeer.  

“Jy raak net soms so intens betrokke by jou besigheid en wil net veg om hom lewensvatbaar te hou dat jy die groter prentjie miskyk. Dinge en tye verander en ons kan nie altyd dieselfde wil bly of dieselfde benadering behou nie. 

“Ons kan onomwonde sê dat hierdie ervaring nie net ’n gastehuisrevolusie was nie, maar ook ’n persoonlike een!” 


In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer
Sien alle opsies