Menu terloops
In Onderhoude [17 Jan 2025]

‘Die Byl’ ’n loopbaanhoogtepunt, sê Waldemar Schultz oor ikoniese reeks en rol 


“Om met die spanne, spelers, die mense agter die kameras die kreatiewe journey van hierdie ses seisoene te kon deel, was deur en deur ’n hoogtepunt van my loopbaan,” vertel die akteur Waldemar Schultz oor die ikoniese Afrikaanse speurverhaal, ‘Die Byl’, wat pas sy sesde – en laaste – uittog op die kassie begin het. 

Stroom 'Die Byl'

‘Die Byl’ ’n loopbaanhoogtepunt, sê Waldemar Schultz oor ikoniese reeks en rol 

Die Byl se sesde seisoen het die afgelope Dinsdagaand op kykNET en DStv Stream begin (episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar). Met dié seisoen, die reeks se laaste, word dié gewilde misdaaddrama ook die dramareeks met die meeste seisoene in kykNET se geskiedenis. Reeksmoordenaars is steeds ’n uitdaging vir Byl en sy span, en dié keer is daar ’n genadelose moordenaar wat vasberade is om hulle alle hel op aarde te gee. Dít terwyl Byl en sy span met hul eie demone worstel.

“Dit was ’n baie spesiale ervaring,” vertel Waldemar oor die reeks waarin hy die titelrol vertolk. “Ons het nie destyds geweet ons, die spelers, sluit by ’n familie aan wat tien jaar lank saam gaan werk nie. Die mense en gevoel van kameraderie sal altyd by my bly.” 

Die byl, Waldemar Schultz
“Dit was vir my ontsettend belangrik om die stories geloofwaardig en met integriteit te vertel,” sê Waldemar Schultz oor die vertolking van hoofrol in Die Byl. Foto: Verskaf

Met Die Byl kon hy vir die eerste keer ’n produksie aanpak waarin hy werklik saam met die regisseurs, vervaardigers, skrywers en medespelers kon werk en bou aan die karakters en vertelling, deel hy. “Dit was vir my ongelooflik bevredigend, kreatief en natuurlik ook soms angswekkend,” voeg hy by. “Dit was vir my ontsettend belangrik om die stories geloofwaardig en met integriteit te vertel. Soms was dit ’n gespartel om al ’n mens se eendjies in ’n ry te hou, maar daar was altyd fantastiese samewerking en ondersteuning van die hele span.”

Gedaantewisselings en hoogtepunte  

“Elke seisoen het op een of ander manier ’n gedaanteverwisseling ondergaan en nuwe vrae, raaisels en uitdagings gebring,” sê Waldemar.

“Daar was so baie uitsonderlike herinneringe, oomblikke, verhoudings en magic spells. Te veel om te noem. Soms het ek op stel gestap vir ’n toneel waar ek net daardie een keer teenoor die ander speler speel, en dít het soms ’n onverwagse kreatiewe keuse en chemical cocktail gebring… Maar dan lóóp daardie toneel. Baie van daardie ervarings is vir my hoogtepunte. Maar dan ook: om met die spanne, spelers, die mense agter die kameras die kreatiewe journey van hierdie ses seisoene te kon deel, was deur en deur ’n hoogtepunt van my loopbaan.”

Onheil… vir oulaas

Daar is een storielyn wat deur die nuwe seisoen loop, met een reeksmoordenaar wat gesoek word. Maar dié seisoen van tien episodes het ook vyf ander sake wat oor twee episodes elk ondersoek word.

Waldemar sê die sesde seisoen is nie ligte musiek nie. “Dis donker, kompleks en hopelik beide angswekkend én boeiend. Oor storielyne wil ek niks sê nie, maar ek hoop en glo daar gaan menige vingernaels voor die kassie geknaag word. Van my gunstelingreaksies op sosiale media is as mense sê, ‘Ek kon nie meer kyk nie… Maar ek kon nie ophou kyk nie!’”

Seisoene 5 en 6 is vervaardig sonder Leon Kruger (hoofskrywer) en Herman Binge (hoofvervaardiger), wat beide in 2021 oorlede is. 

“Beide seisoen 5 en 6 is ons huldeblyk aan hulle,” meen Waldemar. “Ook aan ons Dok Fritz, Eric Nobbs, wat in 2022 oorlede is. Maar ek dink dis ’n goeie tyd om klaar te maak. Ek is darem al tien jaar ouer as toe ons begin het, en arme ou Van der Bijl is al deur só baie geweld, moord en doodslag in sy lang loopbaan. Dalk sal hy bly wees vir ’n bietjie vrede.” 

Maar, voeg hy by, “ek is nie so seker ek wíl koebaai sê nie. Dalk hoop ek nog hard vir ’n speelfilm,” sê Waldemar. 

Wie’s wie 

Byl en sy span 

Die Byl, Milan Murray as Nicky. Foto: Verskaf
Milan Murray as Nicky. Foto: Verskaf

Byl is die hoof van die eenheid. Hy word ondersteun deur die ondersoekers Juan (Marvin Lee Beukes), Lena (Lika Berning), die regskenner Nicki (Milan Murray) en Jo (Amalia Uys), ’n voormalige sluipmoordenaar wat nou as ’n wapenkenner werk. 

Die byl, Marvin-Lee Beukes
Marvin-Lee Beukes as Juan. Foto: Verskaf
Die Byl, Amalia Uys as Jo
Amalia Uys as Jo in Die Byl. Foto: Verskaf

Kapt. William Miller (Tyrone Keogh) is ’n profileerder, en dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is ’n patoloog wat in die vyfde seisoen by die span aangesluit het. 

Tyrone Keogh as kapt. William Miller en Marcel van Heerden as dr. Anton Fourie. Foto: Verskaf

En nog karakters dié seisoen

Eliaan Slee (Melissa Willering) is die geniale uitkoms van haar pa en ma se eksperimentering met genetika. Op die oog af is sy klein en tengerig, effens teruggetrokke en veilig in die wêreld van letterkunde, maar sy is hiperintelligent en vatbaar vir ideologie. 

Eliaan Slee (Melissa Willering)
Melissa Willering as Eliaan Slee. Foto: Verskaf

Dr. Elize Opperman (Roeline Daneel) is ’n gierige glyjakkals wat in die naam van wetenskap en vooruitgang eintlik net geld in haar eie sak wil steek. 

Daniël Weyers (Sherman Pharo) is ’n oud-polisieman wat uit die polisiemag geskors is nadat hy dwelms probeer steel het om te herverkoop. Hy het hierna ’n privaatspeurder geword en is al vir die laaste vyf jaar dr. Opperman se handlanger.

Ander deurlopende karakters is die skerminkel Benjamin Vlok (Danny Ross), die webontwikkelaar Stephen (Sean van Noordwyk) en kapt. Tarina Spies (Ronel Stander), wat haar oog op ’n plek in Byl se span het. 

Ander bekendes wat in die nuwe seisoen te sien is, sluit in Melanie du Bois, Hannes van Wyk, Pascual Wakefield, Antoinette Louw, Rika Sennett, Geon Nel, Cedwyn Joel, Carel Nel en die legendariese akteurspaar Johan en Lida Botha. 

Agter die skerms

Die reeks is geskryf deur Elmarie Botha, Berdene Burger en Lorraine Burger. Die regisseurs is Berdene Burger, Liezl Spies en Nina Swart. Die kinematograaf is Jay Marais, en die hoof van klank is Juan Kindo. Mary-Sue Morris is hoof van garderobe, en die produksieontwerper is Stefan Benade. Sulanie Saayman was vir die grimering verantwoordelik, wat ook al die wonde en spesiale effekte ingesluit het. Die reeks word deur Elmarie Botha vir Wolflight Films vervaardig. 

Die Byl se sesde seisoen het op 14 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin  en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies