Menu terloops
In Onderhoude [18 Jun 2026]

Uiteindelik tuis in sy eie vel én op die ‘Suidooster’-stel, vertel akteur Anrich Herbst


As Mike in ‘Suidooster’, loop Anrich Herbst gereeld onder aanhangers van dié gewilde sepie se kweperlat deur. En met goeie rede – die man se deurmekaar hart is soos ’n verdwaalde skaap. Tog, sê dié gesoute akteur, hy het baie begrip vir sy karakter wat so skeeftrap. 

Deur Rozanne Els
Uiteindelik tuis in sy eie vel én op die ‘Suidooster’-stel, vertel akteur Anrich Herbst

Dat Anrich Herbst verlede jaar die rol van Mike, Frankie (Mienke Ehlers) se pa, op Suidooster losgeslaan het, is dalk te danke aan manifestasie. Trouens, hy het reeds sedert 2018, toe hy permanent na die Kaap verhuis het, sy visier op Suidooster gehad. Deels, vertel Anrich, omdat ’n plekkie in dié kykNET-sepie se permanente rolverdeling voltyds werk in die Kaap sou beteken. Maar ook – en dalk meer belangrik – het die gehalte van die produksie hom beïndruk. 

“My ma is ’n groot televisiekyker en wanneer sy by my kom kuier het, het sy gewoonlik besluit wat ons kyk. Sy het gereeld Suidooster gekyk, en ek het saamgekyk. Ek was opreg beïndruk met wat ek gesien het: die spel, die skryfwerk, en die algemene standaard van die produksie.” 

Toe die rol van Mike dus geskep is, het sy agent gehelp om ’n oudisie te kry, en “die res is geskiedenis,” vertel Anrich.

Verhoudings en faux pas

“Ek het eintlik baie begrip vir Mike gehad,” deel hy sy eerste indrukke van dié karakter wat kykers so lekker ontstig. “As jy terugdink aan die oorspronklike storielyn van byna ’n jaar gelede, het Mike regtig probeer om dinge met sy vrou, Amanda (Lindie Strydom), reg te maak. Ja, hy het foute gemaak, maar sulke dinge gebeur in die regte lewe ook. Daarom was dit vir my maklik om simpatie met hom te hê.”

Sowat ’n jaar later, het Mike baie lesse geleer – maar dalk nie genoeg nie. Veral as dit by sy verhoudings en faux pas met vroue kom…

Anrich Herbst, suidooster, mike
“Dit bly moeilik vir hom om te aanvaar dat Amanda (vertolk deur Lindie Strydom) nie meer vir hom beskore is nie,” vertel Anrich Herbst oor sy Suidooster-karakter, Mike. Foto’s: Verskaf

“Ek het self al ’n paar ongelukkige besluite rondom vroue geneem!” sê Anrich laggend. “Die waarheid is dat ek nie karakters verskriklik diep probeer ontleed nie. Ek werk met wat die skrywers gee en probeer eerlik uitvoer wat die regisseur en vervaardiger van die rol verwag.

“As ek wel na Mike se reis kyk, dink ek hy het besef wat hy in Amanda gehad het. Sy dogter was nog altyd belangrik vir hom, maar ek dink hy besef nou wat hy verloor het. Dit bly moeilik vir hom om te aanvaar dat Amanda nie meer vir hom beskore is nie,” deel hy oor hoe Mike gegroei het.

“Ek was eintlik verras oor hoe vinnig sy verhouding met die sielkundige-karakter, Ilse, (vertolk deur Christia Visser) uitmekaar geval het. Vir ’n man van sy ouderdom sou mens dalk verwag dat hy meer versigtig sou wees. Maar dit wys ook dat hy dalk nog nie heeltemal oor Amanda was toe hy probeer aanbeweeg het nie.

“Hy moes beslis leer om beter besluite te neem wanneer emosies betrokke is. Maar terselfdertyd verstaan ek hom ook – die ou het opreg gevoel wat hy gevoel het.”

‘Hierdie dinge gebeur elke dag’

Dat Mike soveel reaksie by kykers ontlok, is egter tekenend van ’n karakter wat goed geskryf en ontwikkel is – én waarby die gehoor op die een of ander manier aanklank vind. “Mike is nie uniek nie. As mense dink sulke goed gebeur nie in die werklike lewe nie, moet hulle dalk net ’n paar tydskrifte oopmaak of bietjie meer rondkyk. Hierdie dinge gebeur elke dag,” sê hy. 

Daarom hoop Anrich ook dat sy vertolking weergee dat Mike nie kwaadwillig met sy optrede en besluite is nie. “Hy probeer sy bes. Hy gee nie maklik op nie. Daar is iets positiefs aan hom, en daar is ook liefde in hom. Hy bedoel nie slegte dinge nie. Hy maak foute, maar hy probeer steeds vorentoe beweeg.”

Dit is ook interessant om te sien hoe kykers se reaksie op Mike verander het namate sy storielyn ontvou. “Aanvanklik was kykers baie lief vir Mike, en later het hulle begin wonder of hulle hom heeltemal kan vertrou… Ons sal maar moet sien waarheen dit nog lei,” meen hy.

Altyd iets nuut om te leer

Die dinamiese Suidooster-rolverdeling het oor die afgelope jaar ook indruk op Anrich gemaak: “Hier is ‘n klomp sterk akteurs, voorwaar. Die waarheid is dat ek by almal leer. Dis een van die lekker dinge van hierdie beroep – ongeag hoe lank jy al toneelspeel nie, jy kry steeds mense wat jou verras, inspireer en iets nuuts leer.”

Suidooster, Augustus teasers, Frankie se familie Foto: Gys Loubser
Suidooster het verlede jaar vir Anrich Herbst as Mike en Lindie Strydom as Amanda – Frankie (Mienke Ehlers) se ouers – bekendgestel.

Hy sonder nie graag mense uit nie, “veral omdat ek nog nie met almal ewe diep storielyne gehad het nie,” maar wat hom uit die staanspoor opgeval het, is die ongelooflike werksetiek van die hele rolverdeling. “Almal met wie ek tot dusver gewerk het, daag voorbereid op en gee hulle beste,” sê hy. 

Anrich stuur egter ’n paar dae later ook ’n stemboodskap om te sê dat Mienke Ehlers, in die rol van Mike se dogter, Frankie, hom eindeloos beïndruk. “Ek wil nie eintlik iemand uitsonder nie, maar dit bly by my om net te sê sy doen baie, baie goeie werk. Sy doen goed met haar karakter en haar vertolking wat vir inspireer om my sokkies op te trek.”

‘Goeie stories, goeie spel’

Anrich, wat ná sy alombekende vertolking as Wimpie in Orkney Snork Nie later in onder meer Egoli en 7de Laan gespeel het, meen dat die sepie-genre nie eintlik soveel verander het oor die jare nie. “Die waarheid is dat baie meer dieselfde gebly het as wat mense dalk sou dink. Die grootste veranderinge lê waarskynlik in die logistiek en die manier waarop die dag beplan word. By Egoli het ons dikwels almal vroeg opgedaag, al die tonele vir die dag geblok en dan geskiet. Vandag is die proses meer verfyn. As jy eers later in die dag tonele het, hoef jy nie noodwendig van vroegoggend af op stel te wees nie,” verduidelik hy.

“Maar die kern van die werk het nie verander nie. Dit gaan steeds oor goeie stories, goeie spel en mense wat saamwerk om iets geloofwaardig te skep.”

Hy het wel oor die jare meer kieskeurig geraak oor die projekte waarvoor hy ja sê, meen Anrich. “Ek is gelukkig genoeg dat ek soms die voorreg het om te kan kies. Daar was natuurlik ook rolle wat ek baie graag wou speel en nie gekry het nie,” erken hy ook.

“Wat vir my interessant is, is dat dit amper voel asof ’n sirkel met Suidooster voltooi is. Ek was baie jare by Egoli en daarna het ek in ’n stadium amper ’n bietjie teen televisie gerebelleer. Maar ek is telkens weer teruggetrek.

Anrich Herbst, suidooster, mike
Mike (Anrich Herbst) het onlangs weer kykers op hol gehad ná hy sy soveelste romantiese faux pas, die keer met Lee-Ann (Portia Joel), begaan het.

“Met Suidooster, het ek weer daardie gevoel ontdek wat ek destyds by Egoli gehad het. Dit voel asof ek op die regte plek is, op die regte tyd. Daarom is hierdie rol vir my besonder spesiaal.”

En nou is dit vir hom so lekker om byna uitsluitlik met Suidooster besig te wees, hoewel hy ook steeds sy klankateljee het waaruit hy sy weeklikse Ontbytsake-program opneem. Hier en daar kry hy ook tyd vir ’n luisterboek opneem, of ’n bietjie oorklankingswerk. En dan is daar binnekort ook “ ’n klein rolletjie in ’n filmprojek van Willie Esterhuizen waaroor ek ongelukkig nog nie te veel kan sê nie…” 

Nog baie stories om te vertel…

Oor die jare heen het Anrich ’n vol en uiteenlopende loopbaan as akteur uitgekerf, en, sê hy, daar is nog baie stories vir hom om te vertel. “Ek dink nie ek sal ophou nie – tensy die bedryf my eendag uitskop! Daar is nog baie interessante rolle vir mans van my ouderdom en ouer. Ek het ook nog ’n droom om eendag weer ’n groot rol in musiekteater aan te pak.

“Toneelspel het my lewe diep beïnvloed,” deel hy dan. “Wat ’n voorreg is dit nie om ’n karakter te moet verstaan nie – om te vra hoekom hy doen wat hy doen, hoekom hy sê wat hy sê, en waarom hy reageer soos hy reageer.

“Iemand het jare gelede vir my gesê jy moet jou karakter liefhê, anders gaan jy hom nooit geloofwaardig speel nie. Ek dink daardie beginsel is ook in die regte lewe van toepassing,” deel hy.

Dieselfde… en ook nie

Wat die evolusie van sy inspirasie en dryfkragte betref, meen hy die konstante is dat hy steeds baie deur ander kunstenaars geïnspireer word. “Deur akteurs, stemkunstenaars en mense saam met wie ek werk. Ek dink aan mense soos Anton Schmidt, Richard van der Westhuizen, Marcel van Heerden, Don Lamprecht, Anton Dekker, Hans Strijdom, Frank Opperman, Robert Whitehead, Marius Weyers, Chris van Niekerk en Nik de Jager, om net ’n paar te noem.”

Wat wel verander het, is dat hy nou meer gemaklik met homself is. “Vandag voel ek meer tuis in my eie vel. Ek is van nature ’n positiewe mens, en ek dink daardie deel van my kry nou meer ruimte om deur te kom.”

En, voeg hy by, lewenservaring en groei dra ook “ontsaglik baie” by tot die vertolking wat hy uiteindelik voor die kamera lewer. “Hoe meer jy leef, hoe meer verstaan jy mense. En hoe meer jy mense verstaan, hoe beter verstaan jy karakters. Lewe gee vir jou perspektief. Dit gee vir jou wysheid, maar ook deernis. En al daardie dinge help wanneer jy voor die kamera staan en iemand anders se lewe moet vertolk.”

Hy dink ook terug aan sy vroeë twintigs tot vroeë dertigs as ’n besonder kreatiewe tyd in sy lewe, deel Anrich. “Ek het baie liedjies geskryf en ’n sterk geestelike vernuwing beleef wat my kreatiwiteit aangevuur het. Ek het nooit weer presies dieselfde oplewing van skryf ervaar nie, maar die liefde vir die werk het konstant gebly.”

Leerskole 

Toe hy begin toneelspeel het, onthou Anrich, moes hy leer om vir die kamera voor ’n gehoor te speel. “Toe kom Egoli met sy multikamera-opset. Later het Isidingo my geleer om in Engels te speel. Musiekteater het weer sy eie uitdagings gebring, en stemwerk en luisterboeke het my nóg nuwe vaardighede geleer,” sê hy oor die leerskole van sy loopbaan.

“As ek eerlik is, voel dit vir my asof ek steeds leer. Elke projek vra iets anders van jou.”

Ek wonder dan of die vlinders ooit weggaan; die opgewondenheid oor wat hy vir ’n lewe doen? “Jy’s reg! Ek het ‘n baie opwindende lewe! En ja, daar is steeds vlinders. Ek dink die dag wanneer die senuwees weg is, moet ’n mens dalk begin wonder.

“Daar is altyd daardie mengsel van opgewondenheid en onsekerheid wanneer jy iets nuuts aanpak. Vir my is daardie vlinders eintlik ’n goeie teken. Dit beteken die werk maak steeds saak.” 


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies