Menu terloops
In Redakteurskeuse [1 Okt 2026]

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober


Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. ‘Boer soek ’n vrou’ se liefdeskeuses sorg vir afwagting, ‘Haas se gat’ speel met woorde en feite, terwyl ‘Boekmerk’ by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Van plaasromanse en lekker lag tot vars perspektiewe op ons verlede: kykNET se Oktober-aanbod bied genoeg rede om die afstandbeheer nader te trek. Liefde en humor deel die skerm met verhale oor verlies, identiteit en nuwe beginne, terwyl boeke en boeiende persoonlikhede vir gespreksstof tussen die drama sorg.

Vir getroue Boer soek ’n vrou-kykers is Oktober dalk die mooiste maand Die boere maak hul finale keuses, ontmoet hul pasmaats se mense en verruil die plaas vir ’n vakansie saam.

Die reünie op 22 Oktober om 20:00 verklap wie in die agtiende seisoen liefde gevind het. Daarna skuif die aandag vorentoe: die nuwe aanbieder word dieselfde aand om 21:00 in Bravo! aangekondig, met seisoen 19 se toptienboere wat op 29 Oktober om 21:00 bekend gestel word.

Ook My f*k, Marelize! begin by iets bekends, maar soek die groter verhaal daaragter. Die fliek, wat op 20 Oktober om 20:00 wys, volg Marelize se droom om as au pair in Nederland te werk. Eers moet sy leer fietsry. Intussen hou haar ma ’n kankerdiagnose geheim. Met Zandélle Meyer en Je-ani Swiegelaar in die hoofrolle plaas die verhaal die berugte internetoomblik binne ’n gesin se vrese, drome en pogings om mekaar te beskerm.

Dié spanning tussen ’n nuwe begin en ou seer loop ook deur Sy, die meeue en die Heilige Gees. Simoné Pretorius speel ’n enkelma wat saam met haar dogter na Vishoek verhuis. Chanél Muller se driedelige drama ondersoek moederskap, geloof en die ruimte om onvolmaak te wees. Die oorblywende episodes word op 6 en 13 Oktober uitgesaai.

Vir kykers wat deur ander mense se stories wil reis, bied twee nuwe reekse genoeg aanknopingspunte. In Boekmerk, vanaf 14 Oktober om 21:00, kuier Danie Marais by skrywers, boekgesprekke en leeskringe. Nataniël en Dalene Matthee se nalatenskap kry vroeg reeds aandag. Die reeks plaas boekkultuur binne die geselligheid van mense wat graag oor stories praat.

Daar was ’n tyd, wat ook op 14 Oktober begin, ondersoek herinneringe wat generasies gevorm het. Die sirkus, diensplig, sensuur, uitsaaikultuur en kos tel onder die onderwerpe. Nostalgie is hier ’n vertrekpunt vir gesprekke wat waarskynlik nie oral dieselfde reaksie sal uitlok nie.

’n Bekende speletjie kry intussen nuwe lewe in Haas se gat, vanaf 10 Oktober om 19:30. Kabous Meiring bied dié speletjiesprogram in podsendingformaat aan, met Gerhard van Huyssteen en Liesl Gouws wat help koers hou. Saam met ’n bekende gas word Name, Vanne, Diere, Dorpe en Dinge ’n wegspringplek vir vreemde feite en onverwagse gesprekke oor taal, mense en geskiedenis.

Govan Whittles beweeg verder buite die bekende in die tweede seisoen van Govan ontbloot, vanaf 6 Oktober om 21:00. Sy ontmoetings met onder andere naturiste, Vrymesselaars en Onverwacht se Swart Afrikaners stel vrae oor identiteit en behoort. Sy eie aannames kom onderweg ook onder die vergrootglas.

Aan die ligter kant keer Molly en Wors op 27 Oktober terug met huweliksprobleme, geldsorge en ’n duur bootvakansie. Poeksie Woeksie volg op 31 Oktober om 20:00 en plaas Orkney snork nie se Ouboet agter tralies terwyl sy seun se troue nader kom.

Taktiek se tweede seisoen bring weer die ongewone personeel van ’n sekuriteitsmaatskappy in ’n besonder veilige dorp bymekaar.

Intussen laat die sepies hul aanhangers se bloeddruk opstoeet. Suidooster bring vetes en romantiese komplikasies, Binnelanders meng persoonlike krisisse met professionele konflik, en Diepe waters verwelkom nuwe gesigte met ontwrigtende ambisies.

Sondae bied Koortjies, vanaf 4 Oktober om 19:00 op kykNET&kie, ’n meer besinnende afspraak. Gospelmusiek en gesprekke oor verlies en heling sluit bydraes deur Veronique Jephtas en Moses Williams in. Tussen al die liefdeskeuses en familiegeheime is daar ook plek om stil te raak.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
Sien alle opsies