Kykers van die gewilde kykNET-telenovela Diepe Waters wonder al ’n ruk, en uiteindelik kan dit bevestig word – die vyfde seisoen skop op Maandag 28 September af! En nog goeie nuus – kykers kan uitsien na ’n rits nuwe karakters wat die lewens van die Boskruin-gemeenskap op sy kop gaan draai.
Diepe Waters se uitvoerende vervaardiger, Roberta Durrant, sien uit na die nuwe karakters wat aan kykers bekend gestel gaan word. “Ons het ’n paar opwindende nuwe karakters wat by die reeks aansluit – saam met ons geliefde hoofkarakters gaan hulle vir baie drama en intrigue sorg. Kykers kan ook na ’n goeie skeut liefde en romanse, met ’n tikkie komedie, uitsien,” sê sy.
Nuwe gesigte bring nuwe energie na Boskruin
Kykers gaan die volgende karakters in Oktober en November in Diepe Waters ontmoet:
Gihan Uys (vertolk deur André Lötter)

Gihan is ’n suksesvolle eiendoms- en kleinhandelontwikkelaar wat altyd stylvol geklee is in pasgemaakte pakke. Sy natuurlike sjarme, warmte en sin vir humor maak hom dadelik geliefd onder diegene wat hy ontmoet. As ’n gebore mensekenner weet hy presies hoe om met enigiemand ’n konneksie te vind en is hy oënskynlik altyd gereed om ’n helpende hand uit te reik. Maar onder hierdie gladde, berekende buitekant skuil daar meer ambisie en gedrewenheid as wat mense op die oog af besef…
Justus Uys (vertolk deur Ashton Muller)
’n 19-jarige kranige swemmer en atleet wat ná die verlies van sy ma sy tussenjaar deurbring onder dieselfde dak as sy pa, Gihan. Justus is stil, skaam en verkies die digitale wêreld, maar onder sy ingetoë voorkoms skuil baie onverwerkte emosies en innerlike turbulensie.
Zann “Zaz” Eloff (vertolk deur Anré Bouguenon)

Zann is Gihan se skerp, waaksame en professionele persoonlike assistent. Sy is een van die min mense wat die waarheid van haar baas ken. Sy is ’n onvoorspelbare, unieke wildkaart wat haar innerlike wêreld noukeurig beskerm.
Aiden Lourens (vertolk deur David Chevers)

’n Aardse, plat-op-die-aarde man wie se warmte, lojaliteit en eenvoudige lewensbeskouing ’n baken van lig bied. Sy deursigtige en oormatige vertroue in mense kan hom egter kwesbaar laat wanneer hy teenoor manipulerende kragte te staan kom.
Eurika Janse van Rensburg (vertolk deur Bertha le Roux-Wahl)
’n Over the top-weduwee en kleurvolle sosiale vlinder. Eurika is ’n onstuitbare storm van kleur, komedie en groot emosies, maar agter haar filterlose mond skuil ’n pleegma met ’n reusehart wat meedoënloos sal veg vir haar pleegseun se sukses.
Tobias Pereira (vertolk deur Jeandré Baard)
’n Stil, negejarige weeskind wat met disleksie worstel. Waar letters en woorde hom op land faal, beweeg hy in die swembad met natuurlike gemak. Met Eurika se onwrikbare geloof in hom, word hy die kompetisiewêreld van swem ingetrek op soek na ’n plek waar hy werklik hoort.
Alexander Smith (vertolk deur Waldemar Schultz)
’n Universiteitsdosent en skrywer wat die wêreld met ’n romantiese en poëtiese blik betrag. Agter sy sorgvuldig saamgestelde, elegante voorkoms skuil ’n man wat konflik vermy en ingewikkelde bande uit die verlede dra—veral wanneer dit kom by sy geskiedenis met Sanet en die onvoorspelbaarheid van Eureka.
Wat wag in Seisoen 5?
Die vyfde seisoen van Diepe Waters skop af met hope drama en kinkels in Oktober. Die Boskruin-gemeenskap word geraak wanneer ’n onverwagse voorval die kêffie tref, en ongenooide besoekers sorg vir spanning. Gihan probeer hard om sy plek by die klub te vind, maar dit laat die gemoedere styg. Intussen neem Zelda ’n gewaagde besluit, terwyl Gys introspeksie moet neem.
Liam se optrede laat almal kop krap en René is rasend van bekommernis, terwyl Aiden vir groot wrywing tussen Jacques en Gys sorg. Jacques vertrou glad nie die situasie nie en die manne kruis meer as een keer swaarde.
Karla probeer ’n nuwe identiteit bou weg van die swembad, maar haar besluite laat haar en Sanet koppe stamp. Henry se nuwe drome veroorsaak spanning tussen hom en Lettie, maar uiteindelik oortuig hy haar om sy drome te ondersteun. Daar is egter baie op die spel, so as dit nie uitwerk nie, kan hulle baie verloor.
Durrant is trots op hoe ver die telenovela al gekom het: “Toe ek sewe jaar gelede ’n reeks aan kykNET voorgestel het wat rondom ’n swemklub afspeel, kon ons nooit dink dat dit so ’n sterk aanklank by kykNET-kykers sou vind nie – en dat ons soveel jaar later met seisoen 5 sou begin nie.”Ek wil persoonlik vir al ons getroue kykers baie dankie sê. Ons maak Diepe Waters vir julle!”
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dis ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.