Menu terloops
In Sepies [7 Jul 2026]

‘Skemergrond’ se Cheryl het ‘so baie lae’, vertel aktrise Robyn Rossouw


‘Skemergrond’-kykers het Robyn Rossouw se karakter, Cheryl, eers onlangs ontmoet, maar dié aktrise het al maande gelede besef dat dié rol haar álles gaan verg.

Deur Redaksie
‘Skemergrond’ se Cheryl het ‘so baie lae’, vertel aktrise Robyn Rossouw

Vir Robyn Rossouw is haar rol as Skemergrond se Cheryl ewe intimiderend as opwindend. “Ek het vir my ma gesê: ‘O, nee. Nou moet ek dit behoorlik gaan doen, en voor almal op stel!’ Ek was sommer instantly moeg!” 

Sy lag vandag daaroor, maar Cheryl was een van die mees veeleisende karakters wat sy nog aangepak het. “Cheryl het so baie lae. Sy’s ’n ma, sy’s stil, sy’s deur baie trauma, en sy word maklik ge-trigger wanneer mense oor haar verlede praat. Dan raak sy defensive, en dit gebeur so vinnig.” 

Selfs die oudisie was vir uitdagend omdat Cheryl se emosionele kompleksiteit reeds van die eerste toneel af geloofwaardig moes wees.

Vir Robyn is Cheryl se aankoms besonder interessant omdat dit kykers uiteindelik iets van Ruan se verlede wys. “Ons hoor nooit van Ruan se verlede nie, en nou pop Cheryl en haar dogter drie seisoene later op. Jy begin dadelik vrae vra.” 

Cheryl se dryfkragte

Volgens Robyn word Cheryl deur twee dinge gedryf: haar liefde vir haar dogter en haar onvermoë om haar verlede in die oë te kyk. “Sy’s ’n ma. Sy leef vir haar dogter. Sy probeer hard om vir haar ’n goeie lewe te gee. Maar sy face nie dinge nie – sy hardloop elke keer weg.” 

Cheryl se aankoms in Gemoedsdrif plaas ook Ruan en Lily se verhouding onder druk. “Lily ken nie Cheryl en Ruan se geskiedenis nie, so dit is maklik vir haar om suspicious te raak. Cheryl se teenwoordigheid toets of Ruan en Lily mekaar rêrig vertrou. Die goed waarmee hulle nie deal nie, kom nou aan die lig.” 

Vir Robyn was die verhouding tussen Cheryl en haar dogter, Josie, die hart van die storie. “Ek het al voorheen ’n paar keer ’n ma gespeel, maar hierdie keer was dit anders. Dalk omdat ek ouer is. Ek voel ek het meer van myself om te gee. Saam met Lamiyah Barnard, wat Josie speel, het daar ’n nurturing kant van my uitgekom. Sy het die hele ervaring besonders gemaak.” 

Agter die skerms

In Robyn se vertolking van Cheryl het die grimeerkamer ’n sleutelrol gespeel. “Waldi [van Rensbrug], Skemergrond se hoof van grimering en hare, het my op my eerste dag gevra hoe ék wil lyk. Ek was so geskok, want amper niemand vra dit nie. Ek het gesê ek wil geen grimering hê nie, en my hare moet natuurlik bly. Die kostuums was ook baie eenvoudig. Om so ‘kaal’ voor die kamera te wees, het my gehelp om Cheryl se kwesbaarheid te vind.” 

Emosionele intensiteit

Nie al die uitdagendste oomblikke het egter voor die kamera afgespeel nie. “Ek was so in my kop. Ons moes ’n paar tonele doen waar Cheryl net wil weghardloop, en ek het ge-panic dat ek nie die intensiteit van die emosies sou regkry nie.

“Hildegardt Whites (wat Lily vertolk) het my tussen takes net vasgehou. Elke keer wanneer hulle ‘Action!’ gesê het, kon ek sterker teruggaan. Ek was ongelooflik dankbaar vir haar.” 

Behalwe vir die emosioneel moeilike dae was daar ook oomblikke wat haar kreatief uitgedaag het. Een daarvan was om saam met die regisseur Bobby Stuurman te werk. “Ons doen eers die toneel soos dit geskryf is, en dan gee Bobby vir jou ’n heeltemal ander nota wat alles verander. Dit hou jou op jou tone en laat jou nuwe dinge oor jou karakter én jouself ontdek.” 

Hoewel sy nie veel oor Cheryl se reis wil verklap nie, hoop sy kykers sien die karakter se menslikheid raak. “Ek hoop hulle dink sy is ’n goeie ma. Sy probeer regtig haar ou patrone breek. Sy mag dalk stubborn en bang wees, maar sy kom elke keer terug en probeer weer.” 

Volsirkeloomblik

Vir Robyn het haar Skemergrond-debuut uiteindelik veel meer beteken as net nog ’n rol. “Dit het full circle gevoel. Ons het weer by Atlantic Studios verfilm, waar ek amper sewe jaar gelede met Arendsvlei begin het.

“Ek kon daardie 21-jarige Robyn weer sien wat destyds deur dieselfde gebou geloop het. Nou staan ek hier as ’n 28-jarige aktrise met baie meer ervaring en baie meer diepte. Ek het besef hoe ver ek gekom het. Ek het dit nodig gehad.” 


Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies