Menu terloops
In TV [28 Mei 2026]

‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Dekorkenner Griki Lubbe skrik vir niks 


Dit was vir haar ongelooflik lekker om ’n verskil in mense se lewens te maak as deel van ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’ se transformasiespan, vertel dekorkenner Griki Lubbe.

Deur Annelene Oberholzer
‘In die sop: Gastehuisrevolusie’: Dekorkenner Griki Lubbe skrik vir niks 

Drie dae. Dis hoe lank kykNET se In die sop: Gastehuisrevolusie-span het om verandering teweeg te bring by gastehuise wat in die sop is. 

Sedert die instelling van hierdie unieke kinkel in die In die sop-reeks, met Janie du Plessis as die aanbieder, het kykers nou vir die eerste keer met die dekorkenner Griki Lubbe kennis gemaak. En dis hoog tyd om hierdie onblusbare gees, vir wie drie dae skynbaar geen groot struikelblok is nie, ’n bietjie beter te leer ken.

Vertel vir ons meer van Griki, die mens, en haar hartsmense.

“Ek is lief vir avontuur, veral om in die natuur te wees, en ek skram nie maklik weg van ’n uitdaging nie. Ek’s diep geïnteresseerd in verskillende kulture, reis en die wêreld. Daarmee saam is ek ook na aan my familie en vriende. My happy place is op die oop pad saam met my man en ons dogtertjie.” 

Griki Lubbe in die sop
“Die spanwerk was iets wat werklik vir my uitgestaan het. Almal het sommer net ingespring om te help,” vertel Griki oor haar In die sop-ervaring. Foto’s: Gys Loubser

Wat was vir jou die lekkerste daarvan om deel van die In die sop-span te wees?

“Die spanwerk was iets wat werklik vir my uitgestaan het. Almal het sommer net ingespring om te help. Dit was ook baie lekker om tyd in die Vrystaat te spandeer.” 

En die uitdagendste deel van die reeks?

“Om nie heeltemal in beheer te wees van die eindresultaat nie. Met so min tyd en ’n beperkte begroting neem die projek sommer gou ’n identiteit van sy eie aan.” 

Het jy ’n spesifieke aspek waarop jy fokus wanneer jy by ’n projek betrokke raak, of kyk jy na die geheel? Wat ontketen jou kreatiwiteit?

“Ek kyk na die basiese beginsels van ontwerp: balans, kontras, fokuspunt, proporsie, skaal, herhaling en hoe dit saam in die spasie werk. Ek hou baie daarvan om te sien hoe jy met dieselfde boublokkies iets kan skep wat werk in die plek van iets wat nie werk nie. 

“Om iets te skep wat die kliënt se storie ook vertel, maak my baie opgewonde.”

Jy beskik oor nagenoeg 20 jaar se ervaring in die bedryf. Hoe het jy op hierdie rigting besluit? En as jy weer kon kies, sou jy dieselfde rigting kies?

“Ek was van kleins af omring deur kuns. So, ek het geweet ek sal iewers in ’n kreatiewe veld opeindig. Ek dink ek was tussen argitektuur en skone kunste en het toe by interieurontwerp beland. Snaaks genoeg het ek ander dag my aanlegtoetse van hoërskool gesien en interieurs was een van die voorstelle. Dit was spot on.” 

in DIE SOP, GRIKI LUBBE
Griki saam met aanbieder Janie du Plessis op In die sop: Gastehuisrevolusie. Foto: Skermgreep

Jy het bemarking en binnehuisversiering studeer. Werk hierdie twee goed saam in jou gekose loopbaan, of sal jy dit oorweeg om eendag net op bemarking te fokus?

“Interieurs het ’n goeie balans tussen linker- en regterbrein-vaardighede, wat my goed pas, maar ek is net té lief vir lap, kleur en om iets moois te skep om net bemarking te wil doen.” 

Wat is vir jou die grootste struikelblok(ke) wanneer jy met ’n projek besig is? Is dit, byvoorbeeld, die beskikbaarheid van materiale, vakmanne en tyd? En indien daar wel ’n paar hekkies opdaag wat jy moet oor, hoe hanteer jy daardie uitdaging?

“Oor die algemeen sou ek sê die grootste uitdaging is om kreatiewe idees te versoen met ’n beperkte tydlyn en ’n klein begroting. Beskikbaarheid van materiale en vakmanskap raak gewoonweg eers ’n probleem as jy nie tyd of geld het nie. 

“Ek sorg altyd dat daar ’n werkbare plan A, B en C is as ek weet daar is ’n tyd- of begrotingstekort. Só kan mens dan afhangende van die tekortkominge by ’n soortgelyke einddoel kom sonder om heel van voor te begin of heeltemal jou idee prys te moet gee.” 

Het jy enige raad vir sukkelende gastehuise oor hoe hulle hul verblyf met nuwe oë kan bekyk en dit hopelik weer winsgewend kan maak?

“Wit mure en wit beddegoed vat jou baie ver. Skoon en netjies is ’n moet. ’n Vars blommetjie of takkie in ’n vaas is so maklik om te doen en laat ’n gas al klaar spesiaal voel.” 


In die sop: Gastehuisrevolusie word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer
Sien alle opsies