Daar is beslis nie ’n tekort aan mense met ongelooflike algemene kennis nie, dis net dat die geluksgodin tot nou toe gereeld ’n troefkaart gespeel het met vlymskerp vrae wat die Wie word ’n miljoenêr-spelers se hoop op die pryspot uitgeknikker het.
Maar het Rian van Heerden se gaste in die 11de episode dalk nader aan die pryspot gekom?
Die ses deelnemers in hierdie episode:
- Jana Lamprecht (Heidelberg, Gauteng)
- David Hugo (Bryanston)
- Wayne Smith (Bloubergstrand)
- Walter Williams (Ceres)
- Arno van der Merwe (Stellenbosch)
- Rolé van der Merwe (Potchefstroom)
Die eerste vinnigste vingers
Deelnemers moes Afrika-mere van noord na suid rangskik. Die korrekte orde is: Victoria, Malawi, Kariba en dan St. Lucia. Drie deelnemers was in die kol, maar dit was Arno van der Merwe wat na die vuurwarm stoel moes stap toe hy die regte orde binne 5.737 sekondes ingesleutel het.
Arno (28) is ’n elektroniese ingenieur en sy meisie, Suné de Lange, het hom kom ondersteun. Hy het seepglad tot by die eerste vangnet gevorder en sy volgende vangnet op vraag 11 vir R70 000 gestel.
Alhoewel hy effens onseker was oor waar die Tour de France in 2024 geëindig het, het hy besluit om Nice te kies as antwoord. Tot sy groot verligting was dit die regte keuse en het hy nou opgeskuif na die R30 000-kerf.
Toe Arno ’n antwoord moes kies oor wat die amptelike naam van Australië is, het hy wel die gehoor as ’n hulplyn ingespan. En nee, Doer Onder was nie een van die opsies nie . . . 43% van die gehoor het die Statebond van Australië gekies, en Arno het hom deur hulle laat lei.
Gelukkig was dit die korrekte antwoord en die vangnet-vraag was volgende. Maar Arno het besluit om die 50/50-hulplyn in te span toe hy moes aandui na watter eiland Napoleon Bonaparte in 1814 verban is. Was dit Elba of Majorka? Arno het steeds getwyfel. Hy het sy laaste hulplyn, die “Bel ’n pel”-opsie, ingespan om sy pa, Pierre, te bel. Pierre was nie seker nie, maar hy het gedink dis Majorka.
Die regte antwoord was egter Elba, en hy is met R10 000 daar weg.
Die tweede vinnigste vingers
Deelnemers moes die Olimpiese gasheerstede rangskik in die volgorde waarin Suid-Afrikaanse atlete sedert hertoetrede daar sou deelneem. Dit was Atlanta, Sydney, Londen en dan Tokio. Net een deelnemer, Jana Lamprecht, het die korrekte volgorde binne 7.455 sekondes ingesleutel.
Jana (30) is ’n rekenmeester van beroep. En haar ma, Tertia, was in die gehoor om haar te ondersteun. Sy het die eerste vangnet in ’n japtrap bereik en het haar volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel.
Met die eerste vraag op pad na haar vangnet, het sy die gehoor se hulp ingeroep met die vraag oor watter riviermonding tussen Mosselbaai en Stilbaai is. 44% het Gourits gekies en Jana het daarmee akkoord gegaan. En dit was korrek.
Ook die volgende vraag oor wie in 2019 die eerste vroue-atleet was wat die Comrades-marathon se opwedloop in minder as ses uur voltooi het, het haar effe onkant betrap. Sy het besluit om die “Bel ’n pêl”-hulplyn te aktiveer. Japie, haar man, was die persoon aan die anderkant van die lyn en hy het vir Gerda Steyn gekies. Japie was in die kol en Jana het nou opgeskuif na R20 000.
Jana kon egter nie uitwerk watter aktrise nie die rol van koningin Elizabeth II in The Crown vertolk het nie. Sy het haar na Rian as haar laaste hulplyn gewend en hy het gedink dis Helena Bonham Carter. Selfs nadat Rian gesê het hy is 70% seker van sy antwoord, het Jana besluit om dit as haar finale antwoord te aanvaar. En hulle was reg – daarmee skuif sy op na R30 000.
Haar vangnet-vraag oor watter Suid-Afrikaanse fietsryer al ’n skof in die Tour de France gewen het, het haar egter heeltemal onkant betrap en sy het besluit om die geld te kies (R30 000). Die korrekte antwoord was Robbie Hunter wat in 2007 die 11de skof van Marseille na Montpellier gewen het.
Die derde vinnigste vingers
Voëls moes van grootste tot kleinste rangskik word en dit was Rolé van der Merwe wat volstruis, aasvoël, hoender en suikerbekkie korrek ingesleutel het. Al vier deelnemers was in die kol, maar Rolé het dit binne ’n verstommende 2.880 sekondes reggekry!
Rolé (39) is ’n senior lektrise in Ouditkunde in Potch. Sy het heel toevallig ook vir einste Jana wat so pas R30 000 in haar sak kon steek, klas gegee en sy ken ook vir Gideon Wentink (episode 7 van die huidige seisoen) wat saam met haar in die koor sing. Haar ma, Riette, het haar kom ondersteun.
Rolé het besluit om die gehoor se hulp in te roep toe sy moes antwoord watter musiekinstrument oudpresident Bill Clinton en die karakter Lisa Simpson speel. 98% van die gehoor het die saksofoon gekies en Rolé het erken dat sy dit vermoed het. Sy het haar eerste vangnet gehaal en die tweede een op vraag 9 vir R30 000 vasgepen.
Toe sy moes besluit wat die woord “Rio” in Rio de Janeiro, Rio Grande en Rio de la Plata beteken, het sy haar tweede hulplyn ingespan. Maar gaan Rian die antwoord ken?
“Ek gaan gáán met rivier,” het hy aangekondig en Rolé het dit as haar finale antwoord aangedui. Daarmee het sy opgeskuif na R15 000. Maar ook die volgende vraag het haar onkant betrap en sy het besluit om haar pa, Lourie, te bel vir hulp oor wat die bekende vertoonwedstryd tussen Billie Jean King en Bobby Riggs in 1973 genoem word.

Lourie was nie seker nie, maar Battle of the Sexes het vir hom half bekend geklink. Maar Rolé het gedink dit klink so ’n bietjie soos ’n musiekkonsert en sy het nie geweet of Billie Jean King ’n man of ’n vrou is nie. Sy het SmackDown gekies omdat dit “sporterig” geklink het.
Dit het ongelukkig haar soeke na die R1 m-prysgeld kortgeknip, maar daar was darem R10 000 in haar beursie.
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.