Menu terloops
In Recaps & Resensies [2 Okt 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr’: Student het goeie rede om groot te glimlag in dié episode


Die jong Tukkie-student Joshuan du Toit skop vanaand se episode af nadat hy aan die einde van die vorige episode van kykNET se vasvraprogram ‘Wie word ’n miljoenêr’ nog nie uitgeknikker is nie. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: Student het goeie rede om groot te glimlag in dié episode

Die groot vraag is natuurlik of Joshuan die pas kan volhou wanneer die nuutste episode van Wie word ’n miljoenêr begin. Met twee hulplyne oor tot sy beskikking, kan daar dalk groot dinge in hierdie episode gebeur.

Joshuan in die witwarm stoel

Joshuan staan nou op R70 000 en sê hy voel ’n bietjie beter as tydens die vorige episode waarin hy sy eerste verskyning gemaak het. Hy het besluit dat hy nou voluit vorentoe gaan en die proses wil geniet.

Alhoewel Joshuan erken sy kennis van Griekse gode is maar skraps, is hy in die kol met Nike as die godin wat sedert 1928 op alle Olimpiese goue medaljes verskyn. Dit bring sy potensiële prysgeld op R125 000 te staan.

Wie word 'n miljoener
Die ene konsentrasie… Foto: Skermgreep

Wie was bewus daarvan dat een van die Beatles in die Mount Nelson-hotel in Kaapstad onder die skuilnaam “Mr Greenwood” gebly het? Joshuan voel dis ’n bietjie voor sy tyd en besluit om sy volgende hulplyn te aktiveer: Rian . . .

Rian dink dit mag George Harrison wees, maar hy is glad nie seker nie. Dit laat Joshuan besluit om sy laaste hulplyn in te span en dis die “Bel ’n pêl”-opsie. Hy wil vir oom Jannie vra. 

Jannie dink ook nie dis John Lennon nie, maar raai dat dit moontlik Paul McCartney kan wees. 

Joshuan maak egter ’n ander keuse – en dis om met R125 000 huis toe te gaan wat hom die grootste wenner van die huidige seisoen maak. Terloops, die antwoord was John Lennon! 

Die ses spelers

  1. Leslie Ivings (Carletonville)
  2. Mamie du Plessis (Randburg)
  3. Martin Benjamin (Kaapstad)
  4. Henda van der Merwe (Pretoria)
  5. Eska Benda (Thabazimbi)
  6. Daantjie Badenhorst (Pretoria)

Die eerste vinnigste vingers

Wie gaan eerste wees om Springbokvleuels Carel du Plessis, Bryan Habana, Chester Williams en Cheslin Kolbe in chronologiese orde volgens hul debuuttoetse te rangskik? 

Vier van die deelnemers is reg, maar dis die skrywer Leslie (40) wat hulle met 5.105 sekondes in die stof laat byt.

Die simfonie-musiekliefhebber draf die eerste vyf vrae gou kaf om die eerste vangnet van R10 000 te haal. Maar hy is ook gou om te erken sy pogings om meisies van nader te leer ken, word vinnig deur homself gekelder.

Een van sy gunsteling-vrae is of ’n meisie sy toekomstige bankbalans gaan wees. As sy nee sê of wil weet hoekom, kom die seepgladde antwoord: “Because you’re outstanding!” en daarmee is sy kanse dood in die water, aldus Leslie.

Hy stel sy tweede vangnet op vraag 10 vir R50 000. 

Leslie is onseker oor watter gedeelte van die liggaam deur vitiligo aangetas word en besluit om sy eerste hulplyn in te span. Hy gaan die gehoor vra en 72% van hulle kies die vel. Leslie voel meer seker oor sy antwoord en hy kies inderdaad die regte antwoord: die vel.

Vir die antwoord op watter vasteland die enigste is wat in al vier halfronde lê, besluit Leslie om die 50/50-hulplyn te gebruik. Uit Afrika en Europa wat oorbly, kies hy Afrika – en hy skuif op na R20 000 se potensiële prysgeld.

Toe Leslie vasbrand met watter Springbokkaptein in al 29 van sy toetse op die veld gedraf het, span hy sy laaste hulplyn in – en hy vra vir Rian om te help. Rian dink dis Corné Krige en Leslie huiwer tussen Corné en Gary Teichmann.

Leslie besluit op Rian se antwoord. Voordat die resultate bekendgemaak word, vertel Rian vir die gehoor dat Leslie binnekort ’n boek gaan uitgee. En as hy hom verkeerd gelei het met Corné Krige, belowe hy dat hy Leslie se boek sal koop. Hy sal selfs vir Leslie help soek na ’n meisie . . .

Rian het ’n lat vir homself gepluk – die antwoord is Francois Pienaar! 

“Verdomp!” is Rian se reaksie. Maar Leslie kla nie, hy gaan immers huis toe met R10 000 in sy sak.

Die tweede vinnigste vingers

Suid-Afrikaanse sangers moet ouderdomsgewys van oud na jonk rangskik word. Drie deelnemers is in die kol. Dis egter die vryskut-joernalis Daantjie Badenhorst (56), ’n ou bekende op vasvra-gebied, wat met 4.872 sekondes die vinnigste is.

Daantjie, wat al aan feitlik elke speletjie-reeks op TV deelgeneem het, sê hy dink ná Wie word ’n miljoenêr gaan hy uittree. Hy het al vantevore vir die reeks ingeskryf, maar sy vingers was net nie vinnig genoeg nie.

“Aanhouer wen,” sê hy glimlaggend.

Nadat hy die vraag oor wyle Dana Niehaus, akteur en radio-omroeper, korrek geantwoord het, vertel Daantjie dat die einste Dana Afrikaanse terme vir krieket uitgedink het, van die veldwerkersposisies tot waar Afrikaans ook nodig was.

Dit duur nie lank voordat Daantjie sy eerste vangnet van R10 000 haal nie. Hy kies vraag 10 vir R50 000 as sy tweede vangnet.

Die vraag oor watter padingenieur verantwoordelik was vir die meeste paaie wat die destydse Kaapprovinsie met die binneland verbind het, laat Daantjie een van sy hulplyne inspan. Hy versoek die 50/50-opsie en hy moet tussen Bartle Frere en Thomas Bain kies. Thomas Bain lyk vir hom reg – en vir R30 000 is dit die regte antwoord.

Sy vangnet-vraag vir R50 000 oor Koos du Plessis en die lied wat hy nooit op ’n solo-album opgeneem het nie, is reg in Daantjie se kraal. “Gebed” is die regte antwoord en daarmee kan Daantjie R50 000 in sy sak steek.

Met die volgende vraag oor ’n Anglo-Boereoorlog-veldslag besluit Daantjie om die gehoor te vra. Louis Botha, Winston Churchill en Mahatma Gandhi was volgens die meerderheid van die gehoor almal byeen tydens die veldslag van Spioenkop. Tot Daantjie se groot verligting is dit wel die regte antwoord.

Met die potensiële prysgeld op R125 000 besluit Daantjie om sy laaste hulplyn in te span vir die antwoord oor watter Afrika-hoofstad as “al-Mogran” onder die plaaslike bevolking bekendstaan. Dit is waar die Blou Nyl en die Wit Nyl by mekaar aansluit. 

Hy kies die “Bel ’n pêl”-opsie en vra om vir Francois Marais te bel, sy broer se swaer. 

“O, jitte,” kom dit van Daantjie toe die tyd uitloop voordat Francois ’n antwoord kan gee. Daantjie besluit op Addis Abeba. Maar dis verkeerd, die regte antwoord is Khartoem. 


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies