Menu terloops
In Recaps & Resensies [13 Nov 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr’: R1 miljoen-pryspot bly deelnemers ontwyk


Die vrae het die deelnemers in vandeesweek se episode van kykNET se ‘Wie word ’n miljoenêr’ so laat kopkrap dat slegs een van hulle tot by die R50 000-kerf gevorder het.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: R1 miljoen-pryspot bly deelnemers ontwyk

Deelnemers se optog na die groot prys van R1 miljoen word telkemale gekortwiek op kykNET se Wie word ’n miljoenêr,

Die ses deelnemers

  1. Theo Pistorius (Middelburg)
  2. Monique Stoffberg (Pretoria)
  3. Mia Venter (Randburg)
  4. Mike October (Kaapstad)
  5. Peter Bolink (Pretoria)
  6. Erik van der Merwe (Worcester)

Die eerste vinnigste vingers

Hoe goed is jy met windrigtings? Deelnemers moet Suid-Afrikaanse lughawens van wes na oos rangskik. Hierdie vraag het hulle behoorlik uitgeknikker en dit is net Erik van der Merwe wat die orde korrek het. Hy doen dit in 5.930 sekondes.

Die 32-jarige koste-rekenmeester van Worcester is slaggereed om die vrae wat programaanbieder Rian van Heerden het, te antwoord. Die tweede vraag oor wat bariatriese chirurgie impliseer, noop hom om sy eerste hulplyn in te span – en hy wend hom na die gehoor.

Dis natuurlik die maag wat verklein word tydens dié prosedure en Erik gaan akkoord met die oorgrote meerderheid van die gehoor se keuse.

Erik brand vas met die vraag oor wat aan die einde van die 19de eeu by Klapperkop, Schanskop, Wonderboompoort en Daspoortrand in Pretoria gebou is. Hy span sy volgende hulplyn in: die 50/50-opsie en hy moet kies tussen forte en museums. Dit laat geen liggies by hom opgaan nie.

Hy span sy laaste hulplyn in en vra vir Rian om met die antwoord te help. 

“Forte, klaar. Dis my finale antwoord,” kom sy antwoord en sê dat hy 150% seker is dat dit korrek is.

Erik het darem nou R10 000 in die sak. Hy besluit om sy volgende vangnet op vraag 8 vir R25 000 te stel.

Sou jy weet met watter rol in Mozart se Towerfluit Mimi Coertze in 1956 by die Weense Staatsopera gedebuteer het? Erik is onkant hierdeur betrap en, soos Rian tereg opmerk, het hy tegnies niks om te verloor as hy nie die antwoord ken  nie. 

Hy raai dat dit Koningin van Towerkuns is, maar die korrekte antwoord is Koningin van die Nag. Daarmee kom sy tyd op Wie word ’n miljoenêr tot ’n einde. 

Die tweede vinnigste vingers

Wie gaan die chronologiese orde reg insleutel rondom die chronologiese orde waarin wêreldstede die Nuwejaar met vuurwerke aankondig? Vier deelnemers is in die kol, maar dis Peter Bolink (62), ’n pensioenaris van Pretoria, wat die vinnigste is – hy het net 5.978 sekondes nodig gehad om die korrekte orde in te sleutel. 

Dit duur nie lank om die R10 000-vangnet te haal nie. Waar gaan hy sy volgende vangnet stel?

“Ek is hier om ’n R1 miljoen te wen, en ek wil vir my die beste kans gee om ’n miljoen [rand] te wen. So, ek is baie lus en sê vir jou by R500 000,” kom dit vasberade van Peter. Die vangnet word opgeskuif na vraag 14 vir daardie ooreenstemmende bedrag.

“Gaan groot, of gaan huis toe. R500 000,” is sy finale antwoord.

Hy besluit om die gehoor se hulp in te roep toe hy nie kan besluit of die tydverskil tussen SAST (South Africa Standard Time) en GMT (Greenwich Mean Time) +1 uur of +2 uur is nie. Die oorgrote meerderheid van die gehoor (76%) dink dis +2 uur, en Peter glo dis korrek. 

Hy skuif op na R15 000 en draf die daaropvolgende vrae kis sonder om hulplyne in te span. Maar die vraag oor daardie klein sakkie van Levi’s-jeans noop hom om weer ’n hulplyn in te span. Gaan Rian hom kan help? Rian dink dis vir ’n sakkie snuif bedoel . . . of dalk ’n sleutel. Peter voel ’n sleutel mag dalk net te groot wees vir die klein sakkie. Hy span sy laaste hulplyn in: die 50/50-opsie. Nou moet hy kies tussen ’n sleutel en ’n sakhorlosie.

Peter dink hy moet raai – en hy kies sakhorlosie. Dis in die kol, tot groot verligting van almal in die gehoor en hy kom op R50 000 te staan. Maar hy word uitgeknikker deur watter staat as The First State bekend staan. Dis Delaware en Peter erken hy sou geraai het dat dit die antwoord was, maar hy is gelukkig om op R50 000 halt te roep.

Die derde vinnigste vingers

Theo Pistorius (64), ’n prokureur, is die vinnigste om binne 6.555 sekondes koningin Elizabeth II se kinders van jonk na oud te rangskik. Hy span sy eerste hulplyn in toe hy nie uitsluitsel kan kry oor watter een van die Sewe Antieke Wonders van die Wêreld vandag nog bestaan nie.

Die gehoor is flink om te sê die Piramides van Giza – en Theo beweeg aan. Danksy sy kennis van Popeye behaal hy sy eerste vangnet van R10 000. Hy stel sy tweede vangnet op vraag 10 vir R50 000.

Hy is ook onseker oor in watter see die eilande Ciprus en Malta geleë is en span sy 50/50-hulplyn in. Theo besluit op die Middellandse See en hy is natuurlik reg.

Gerhard Berger wat die eerste atleet in 1989 met ’n Red Bull-borgskap geword het, noop Theo om sy laaste hulplyn in te span. Rian moet help . . .

Rian dink die antwoord is waarskynlik vlieërplankry, alhoewel hy erken hy is nie seker nie. Theo besluit om liewers die geld te vat as om te raai. R25 000 is nie te sleg vir ’n aand in die warm stoel nie!

Terloops, die regte antwoord is Formule 1.

Die R1 miljoen-pryspot bly deelnemers ontwyk. Wat gaan volgende week oplewer?


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies