Verlede week het Herman Bosman geskiedenis gemaak toe hy die eerste boerpot-wenner van kykNET se gewilde vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr geword het. Maar wat gebeur vanaand?
In dié episode is daar ses nuwe deelnemers wat wedywer om in die warm stoel te sit.
Die ses deelnemers
- Johan Rothman (Centurion)
- Chaté Kutalek (Potchefstroom)
- Hanneke Furstenberg (Roodepoort)
- Shafiek Mouton (Wellington)
- Louw van Biljon (Clarens)
- Dawid Brink (Kaapstad)
Die eerste vinnigste vingers
Wie gaan die vinnigste uit die wegspringblokke wees om lande volgens bevolking van groot na klein te rangskik? Vyf van die deelnemers is in die kol, maar dis Dawid Brink (32), ’n finansiële bestuurder, wat op die warm stoel plaasneem nadat hy die lande in 3.696 sekondes korrek rangskik het.
Dawid haal die eerste vangnet van R10 000 sonder sukkel. Hy stel sy volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000 want hy voel hy wil nie té waaghalsig wees nie. Dawid was vantevore die “Bel ’n pêl”-opsie vir sy swaer Richard Barnard, maar het ongelukkig toe nie die oproep ontvang nie. Hy het toe besluit om self in te skryf.
Weet jy in watter land koffie sy oorsprong gehad het omdat koffieplante natuurlik daar voorgekom het? Dawid is effe onseker oor twee lande en besluit om sy eerste hulplyn in te span en vra vir die 50/50-hulplyn. Hy is gemaklik om Ethiopië as sy finale antwoord te kies, en dis in die kol!
Vir die volgende vraag oor watter bekende nie op 90-jarige ouderdom gesterf het nie, besluit Dawid om vir Rian as sy volgende hulplyn in te span. “Lyk dit asof ek baie begrafnisse bywoon en kyk op die TV?” wil hy by Dawid hoor. Rian dink dis Desmond Tutu en Dawid se instink het ook vir hom na dieselfde antwoord gelei.
Maar altwee van hulle is verkeerd. Dis koningin Elizabeth II wat op 96-jarige ouderdom gesterf het. Dawid gaan met R10 000 huis toe.
Die tweede vinnigste vingers
Die deelnemers moet vorms rangskik van die meeste tot die minste hoeke. Drie deelnemers het die regte antwoord ingesleutel, maar dis Shafiek Mouton (42), ’n sportagent, wat die klok die vinnigste op 3.366 sekondes laat stilstaan het.
Kort voor lank kan Shafiek R10 000 in die sak steek. Hy stel sy volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000. Hy erken ruiterlik hy het nie ’n benul oor watter komeet weer in 2061 sy verskyning in die hemelruim gaan maak nie. Hy besluit om die gehoor-hulplyn in te span – en 97% van hulle glo dis Halley se komeet. Dis korrek.
Shafiek besluit om sy “Bel ’n pêl”-hulplyn te gebruik om vas te stel wat die UFC-struktuur genoem word. Hy gaan vir John, ’n aanlyn-sportverslaggewer, bel. Sonder om vir John die vier keuses te noem, kom die antwoord: The Octagon. En daarmee beding John ’n ronde gholf uit Dawid se sak.
Gaan Rian weet watter boek was ’n Wilbur Smith-topverkoper? Shafiek glo hy mag dalk weet en span sy laaste hulplyn in. Rian dink dis Birds of Prey en Shafiek besluit dis die regte antwoord – en dit bring hom op R30 000 te staan.
Met al sy hulplyne opgebruik, besluit Shafiek om halt te roep en nie die vangnetvraag vir R50 000 te antwoord nie. Hy wil nie raai oor watter Disney-hoofkarakter nooit in die oorspronklike rolprent gepraat het nie, al het hy gedink dit mag Dumbo wees. As hy gewaag het, sou hy R50 000 huis toe kon vat.
Die derde vinnigste vingers
Johan Rothman (46), ’n finansiële bestuurder, is die vinnigste speler wat die woorde vir die spreekwoord “Deur dik en dun” in 3.979 sekondes in die regte volgorde rangskik. En kort voor lank haal hy die eerste vangnet van R10 000.
Hy besluit om net soos sy twee voorgangers vanaand ook vraag 10 vir R50 000 as sy vangnet te stel. Johan is egter nie seker wat die naam is van die enigste plek in Suid-Afrika met Dark Sky-status nie en besluit om die 50/50-hulplyn in te span. Dit is die !Ae!Hai Kalahari-erfenispark. Het jy dit geweet?

Die Keniaanse marathon-legende Eliud Kipchoge het ’n bynaam wat verband hou met sy diepsinnige ingesteldheid tot die lewe en hardloop. Johan wil nie ’n kans waag nie en besluit om sy “Bel ’n pêl”-hulplyn in te span. Hy gaan vir MJ bel, iemand wat ook saam met hom draf.
MJ is nie seker nie, maar dink dit mag dalk Philosopher wees. Johan voel dat dit die regte antwoord kan wees omdat die leidraad wat verskaf is, ook dui op sy ingesteldheid tot die lewe. Met daardie antwoord skuif Johan op na R25 000.
Johan besluit om sy laaste hulplyn te benut vir sy vangnetvraag en wil hê die gehoor moet hom help met die antwoord op watter bekende historiese figuur se bynaam Mamelodi was. Die gehoor is ook onseker. Die sterkste twee kandidate is Paul Kruger en Cecil John Rhodes.
Hy bedank die gehoor maar besluit eerder om op te staan en weg te stap met R30 000 in die sak. As hy moes raai, sou hy Jan Smuts gekies het, maar dit was Paul Kruger se bynaam!
Nog ’n seisoen kom
Hierdie was die laaste episode van die huidige reeks. Rian beskryf dit as ’n reeks van eerstes: “Drie waaghalse wat die tweede vangnet by ’n halfmiljoen rand gestel het, ons grootste verloorder wat R240 000 geval het en ons eerste miljoenêr!”
Maar dis nie die laaste sien van Rian en daai blink masjien nie . . . hy belowe om binnekort weer terug te keer vir nog ’n seisoen.
Wie word ’n miljoenêr se episodes is tans op DStv Stream en DStv Catch Up beskikbaar.