Theuns du Buisson (34), ’n ekonomiese navorser van die Jakarandastad moes verlede week die aftog teen die tyd-sirene blaas. Hy keer in vanaand se episode van kykNET se Wie word ’n miljoenêr terug met R25 000 in sy sak mits hy dit bank of sy vangnet haal. Gaan hy iets kan bylas? Hy het nog twee hulplyne tot sy beskikking.
“Dis lekker om terug te wees,” kom dit van Theuns en hy’s oorgehaal vir wat Rian van Heerden hom ook al mag vra.
Die diamantmagnaat Barney Barnato het in 1897 gesterf, maar die oorsaak van sy dood lei daartoe dat Theuns die gehoor nader vir rigting. Hy erken hy’t geneig na ’n slangbyt en dat die meerderheid van die gehoor ook so voel.
Maar daar kom sy opmars na die miljoen tot ’n einde want Barney het oorboord geval . . . Rian glo dat hy egter vermoor is en nie vrywilliglik oorboord geval het nie.
Theuns neem gelukkig R10 000 huis toe.
Die ses deelnemers
- Jaco van Zyl (Bellville)
- Ilani Heyns (Durbanville)
- Ronny Apollis (Worcester)
- Robert Burdett (Midrand)
- Sanet Strydom (Roodepoort)
- Robin Bradley (Centurion)
Die eerste vinnigste vingers
Die vier Rugby-wêreldbekerkampioene (mans) moet in chronologiese orde volgens hul titel rangskik word.
Net twee van die deelnemers het die orde korrek, maar dis Jaco van Zyl (37), ’n fisikus van Bellville, wat in 3.265 sekondes seker maak Robin Bradley (met 6.004 sekondes agter sy naam) word in hierdie ronde uitgeskakel.
Jaco mors nie tyd met die eerste vyf vrae nie, en kort voor lank haal hy sy eerste vangnet van R10 000. Hy stel sy tweede vangnet op R70 000 (vraag 11) omdat hy daarvan bewus is dat hy nog al sy hulplyne tot sy beskikking het.

Is Oeral die bergreeks wat as die grens tussen Asië en Europa beskou word? Dis ’n kolskoot vir Jaco en hy skuif op na R20 000. Andrea Bocelli is ook die regte antwoord en nou is daar R25 000 op die bord.
Het jy geweet die Protea-hokkiespeler Kayla Swarts se broer ’n bekende Springbok-atleet? Jaco kies die 50/50-hulplyn en na ’n lang gesprek met homself (en Rian!) kies hy reg. Inderdaad is Kayla en Wayde van Niekerk sibbes.
Die betekenis van die woord “Natal” in KwaZulu-Natal maak dat Jaco dit veilig wil speel en die gehoor om hulp wil vra. Is dit Kersfees of Groen Heuwels? Hy besluit op Groen Heuwels – en daarmee sink hy sy R70 000-vangnet. Dis Kersfees danksy die tyd toe die Portugese ontdekkingsreisigers hierdie deel van ons mooi land bereik het. Jaco groet met R10 000 in die sak.
Die tweede vinnigste vingers
Seediere moet van klein na groot rangskik word. Vier deelnemers het reg geantwoord, maar dis Robert Burdett (29, hooffoto), ’n administrasie-bestuurder van Midrand, wat met 4.324 sekondes op die klok die ander drie uitskakel.
Hy draf vinnig deur die vrae en haal die R10 000-vangnet sonder om hulplyne in te roep. Hy kies vraag 10 vir R50 000 as sy tweede vangnet. Tussendeur gesels hy en Rian oor sy groot passie: perde. Toe Rian by hom wil weet watter raad hy aan iemand sal gee wat vir die eerste keer perdry op die proef wil stel, kom sy antwoord kort en kragtig: “Moenie!… Of jy moet ’n baie groot bankbalans hê.”
Hy raai dat vitamien C deur verhitting of die kookproses vernietig word – en danksy Rian se interpretasie van Karel Kraai van Wielie Walie-faam, word daar bevestig dat dit die regte antwoord is. Robert kies die 50/50-hulplyn om hom te help kies watter hominiedskedels nie in Suid-Afrika gevind is nie. Lucy is een van die keuses wat oorbly, en dis die antwoord wat Robert kies. Hy skuif op na R25 000. Terloops, Lucy is in 1974 in Ethiopië gevind.
Het jy geweet ’n furlong is 2 400 meter? Robert vra die gehoor om hom te help want hy is onseker wat die antwoord daarop is. Die grootste groep glo dis 2 400 meter en dit is dan ook Robert se finale antwoord. En dis ’n wenner! Hy weet ’n markhor is ’n bok en dis die nasionale dier van Pakistan. Daarmee haal hy sy gekose vangnet van R50 000.
Robert besluit om vir Rian te vra wie Vincent Palotti was na die wie bekende hospitaal in Kaapstad vernoem is. Die antwoord is natuurlik ’n priester en dis Rian se finale antwoord. Nou het Robert R70 000 teen sy naam. En Robert belowe ’n groot porsie putanesca vir Rian – een van die disse wat hy, benewens sy eie pasta, graag self maak.
William Myers het Suid-Afrika se laaste bronsmedalje in 1960 by die Olimpiese Spele vir boks verower, en sy regte antwoord laat Robert opskuif na R125 000. Maar gaan sy raaiskoot dat Titan nie om die planeet Jupiter wentel nie, wel in die kol wees? Robert voel dis een van die grootste mane wat om Saturnus wentel, en volstaan daarby. Hy is reg, en daarmee wen hy die grootste pryspot van die huidige reeks: ’n hele kwartmiljoen rand!
Gaan hy die regte antwoord kan uitwerk rondom watter land die Internasionale Datumlyn in 1892 en 2011 geskuif het om onderskeidelik beter verhoudinge met die VSA en Australië te hê? Of gaan hy volstaan by R250 000? Hy kies die geld omdat hy nie seker is nie – en daarmee verdien hy die meeste geld van die huidige seisoen.
Rian wil by hom weet watter land hy sou kies as hy verplig was om te antwoord. Robert het gedink dis Papoea-Nieu-Guinee, maar sy gelukkige sterre was aan sy kant met sy finale keuse: die geld. Dit was toe Samoa wat die aanpassing gedoen het.
Volgende week
Moenie die spesiale episode van Wie word ’n miljoenêr volgende week misloop nie! Ses van die beste deelnemers uit vorige seisoene kom speel vir liefdadigheid.
Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.