Menu terloops
In Recaps & Resensies [23 Okt 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr’: Die miljoen is nog (wraggies) veilig


In vanaand se episode van kykNET se ‘Wie word ’n miljoenêr’, is dit weer die gesoute aanbieder, Rian van Heerden, wat deelnemers met fassinerende vrae en feite gaan beproef. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: Die miljoen is nog (wraggies) veilig

CF Furstenburg (52), ’n makelaar van Fourways, was verlede week op die nippertjie om ’n vraag vir R50 000 gevra te word toe die sirene die episode van Wie word ’n miljoenêr stopgesit het. Gaan CF sy laaste hulplyn inspan?

Hy erken hy’t rustig gevoel tot waar hy weer in die warm stoel plaasgeneem het. Die vraag vir R50 000 is so reg in sy kraal, want CF is ’n gerekende rugbyskeidsregter. Hy besluit egter om wel die gehoor te vra watter speler net een keer in ’n toetswedstryd die kaptein van die Springbokke was. Sy aanvanklike gedagte was dat dit Schalk Burger kon wees. En meer as 40% van die gehoor dink ook so.

Schalk Burger is die korrekte antwoord en CF skuif op na R50 000. Vir R70 000 tref hy weer die kol met Oliver Stone wat twee Oscars gewen het vir rolprente wat handel oor die Viëtnam-oorlog.

Wie word 'n miljoener
CF het uiteindelik met R125 000 uit die stryd getree. Foto: Skermgreep

Het jy geweet dat Percy Fitzpatrick van Jock of the Bushveld-faam ná die Eerste Wêreldoorlog voorgestel het dat daar jaarliks op 11 November om 11:00 twee minute stilte sal wees ter herdenking aan Wapenstilstanddag? 

CF het gesukkel om tussen hom en Laurens van der Post te kies, maar hy’t reg gekies en sit nou op R125 000. 

Toe hy egter moet kies watter land het 37 amptelike tale (vir R250 000) besluit hy om liefs die aftog te blaas en met R125 000 huis toe te gaan. Hy het gedink dis Bolivië maar wou nie kans waag nie. Ai, CF, dit was die regte antwoord!

Die ses deelnemers

  1. Henry Johnson (Centurion)
  2. Janet Cole (Kaapstad)
  3. Rochelle van der Merwe (Randburg)
  4. Bernie van der Westhuizen (Kaapstad)
  5. Theuns du Buisson (Pretoria)
  6. Henmar Botha (Durbanville)

Die eerste vinnigste vingers

Eilande moet van noord na suid rangskik word. Vier van die deelnemers is korrek, maar dis Bernie van der Westhuizen (44), ’n analis van Kaapstad, wat hulle klop met die regte antwoord in net 6.442 sekondes.

Maar sy heel eerste antwoord oor wat sonsverduistering veroorsaak, is die verkeerde antwoord en dit lei tot Bernie se uittog – sonder ’n sent in die sak.

Die tweede vinnigste vingers

Henmar Botha (36), ’n psigiater, is die deelnemer wat net 3.649 sekondes nodig gehad het om rugby-posisies volgens nommers op die truie te rangskik.

Hy maak korte mette van die eerste paar vrae en beland gou op die eerste vangnet van R10 000. Hy maak vraag 10 vir R50 000 sy volgende vangnet. Henmar is flink met sy antwoorde van Batman tot krieket – met nog twee vrae oor voor hy by sy volgende vangnet kom. 

Wie het in 1916 dagligbesparingstyd ingestel? Henmar besluit om die 50/50-hulplyn te benut en dink dis eerder Duitsland as Brasilië. Maar hy twyfel en besluit om vir Rian ook as hulplyn te nader.

Rian neig ook na Duitsland alhoewel hy nie 100% seker is nie.

“As jy hom verkeerd het, leer jy ’n baie, baie interessante ding hier vandag. En dis fine… Seker,” kom dit van Henmar en bevestig dat hy by Duitsland gaan volstaan.

Danksy sy twee hulplyne en sy instink, kan Henmar nou R50 000 in sy sak steek. Maar hy besluit om vir Nak van der Merwe te bel – die “Bel ’n pel”-hulplyn wat nou sy laaste hulplyn is. 

Die by-kolibrie (bee humingbird) is inheems aan ’n eiland, maar Henmar kan nie tussen Kuba en Mauritius besluit nie. Nak se laaste vraag voor die oproep beëindig moet word, is of Kuba op die lys is…

Dit laat Henmar dink daardie vraag is om die regte rede gevra en hy kies vir Kuba. Dis sowaar in die kol! Dit bring hom op R70 000 te staan. 

Gaan hy R125 000 haal? Nie hierdie keer nie! Hy word uitgeknikker deur die vraag oor watter vrou nog leef wat in 1956 deel was van die opmars na die Uniegebou oor die pasboeke. Hy volstaan by R70 000.

Hy vertel vir Rian hy sou waarskynlik geraai het dat dit Sophie de Bruyn is. As hy daardie raaiskoot gewaag het, kon hy nou R125 000 in die sak gesteek het.

Die derde vinnigste vingers

Theuns du Buisson (34), ’n ekonomiese navorser, is die deelnemer wat voertuie in 5.966 sekondes in die regte orde volgens aantal passasiers wat dit mag vervoer, plaas. En hy is onstuitbaar tot by die eerste vangnet van R10 000.

Hy kies vraag 11 vir R70 000 as sy tweede vangnet.

Theuns erken sokker is nie sy sterkste punt nie en vra vir die 50/50-hulplyn toe die vraag opkom wie die meeste Ballon D’Or-toennings (8) in sy lewe gewen het. Die korrekte antwoord is natuurlik Lionel Messi – en Theuns skuif op na R25 000.

Die sirene val Rian in die rede voor hy die volgende vraag kan vra. Dit beteken Theuns keer volgende week weer terug.


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies