Menu terloops
In Lysie-lysie [3 Jun 2022]

Die 80s het gebel om oor dié 5 onvergeetlike films te gesels


Sylvester Stallone het naam gemaak en aksie-satisfaksie was aan die orde van die dag: Hier is vyf ikoniese flieks uit die 80s wat op ons moet-kyk-lys is.

Deur Watkykjy
Die 80s het gebel om oor dié 5 onvergeetlike films te gesels

Meeste mense sal jou met oorgawe probeer oortuig dat die era waarin hulle grootgeword het, die beste een ooit was. Die sogenaamde vervloeë tye van ongekompliseerdheid. Kyk, ons lewe dalk nie tans in die beste tye (ek kyk vir jou, pestilensie-C) nie, maar dinge is steeds oraait-erig. Boonop kan ’n mens die klok ook net só ver terugdraai voor dinge goor raak. Ek dink nie enige van ons soek byvoorbeeld die Tweede Wêreldoorlog, die jaar 536 of pterodaktiele wat met ons kinders wegvlieg, terug nie. 

Laat my dus toe om my grootword-era aan julle te voor te lê: Die 1980s. Dit was ’n tydperk toe musiekvideos sy merk begin maak het, tegnologie van 0 tot ’n 100 in ’n oogwink gevorder het, daar slegs vier TV-kanale op ons plaaslike kassies was en jy jou beurt moes wag om ’n maatjie van die landlyn af te kon bel. Daar was geen sprake van druk om die hele tyd connected te wees nie. Daar was immers báie ander dinge om te doen wat gesorg het dat jy skaars by die huis was.       

Daar was wel slegte dinge ook – soos ooms met snorre en lelike bruin baadjies wat in die winkels en banke kon rook. (Redakteursnota: En natuurlik, you know, Apartheid.) Ek verkies egter om eerder die speelsheid en kreatiwiteit van die destydse popkultuur te koester – soos dié vyf ikoniese flieks uit die eighties.

1

Rocky (1976)

Ons skop af met ’n film wat, alhoewel dit in die laat-sewentigs vrygestel is, vierkantig in die 80s hoort en dus ’n ereplek in vandag se lys kry. Jy kan nie aan daardie era dink sonder dat Rocky by jou opkom nie, dalk omdat daar soveel vervolge was wat wél in die 80s gemaak is. Daar is altesaam sewe flieks in die Rocky-versameling (jy kan die hele stel op Showmax binge).

Sylvester Stallone
Jy kan die hele Rocky-versameling op Showmax kyk.

Sylvester Stallone het die draaiboek geskryf en die vervaardigers wat daarin belanggestel het, het hom $350000 vir die regte aangebied. Stallone het op daardie stadium geen kar gehad nie, $106 in sy bankrekening en het self sy hond probeer verkoop om aan die lewe te bly. Hy het dus, noodwendig, die aanbod aanvaar, mits hy die hoofrol kon speel. Stallone het nie nodig gehad om sy hond te verkoop nie – inteendeel, Butkis die hond het self ’n rol in die film losgeslaan.

Die storielyn loop so: Rocky Balboa, ’n amateurbokser van werkersklas-Philadelphia, word toevallig gekies om teen die wêreldkampioen, Apollo Creed, te boks toe dié se geskeduleerde teenstander ‘n besering opdoen. Die res van die film voel soos ware boksgeskiedenis!  

Beste dialoog:

Rocky: Adriaaaaaaaaaan!!!

2

National Lampoon’s Vacation (1983)

Met die verfilming van die tonele wat by ’n pretpark afspeel, het die ganse rolverdeling hondsiek  geraak toe hulle onder meer die roller coasters moes ry. Meeste akteurs het katte geskiet omdat sekere tonele van dié ritte, oor en oor (en oor) geskiet moes word.

Die film volg die maltrap Griswold-gesin, Clark en Ellen, en hul twee tieners Rusty en Audrey, soos hulle weswaarts toer vanaf die voorstede van Chicago na die Disneyland-agtige pretpark, Walley World. Pa Clark het die reis tot in die fynste besonderhede beplan, insluitend om die wêreld se grootste bol tou te sien. Maar hoe meer Clark die vakansie vir sy gesin probeer spesiaal maak, hoe meer ruk dinge hand uit. Dit sorg vir ’n onvergeetlike vakansie…vir al die verkeerde redes.

Beste dialoog:

Cousin Vicki: I’m going steady, and I French kiss.

Audrey Griswold: So? Everybody does that.

Cousin Vicki: Yeah, but Daddy says I’m the best at it.

3

Scarface (1983)

As Al Pacino tot vandag toe nog volhou dat Tony Montana een van sy gunsteling-karakters ooit was om te vertolk, beter jy die fliek kyk, want ek kan aan geen slegte blockbuster dink waarin  Pacino ooit was nie.

Al Pacino in Scarface on Showmax
Al Pacino in Scarface op Showmax.

Toe Fidel Castro die hawe by Mariel-hawe geopen het, het duisende Kubane na Amerika gevlug. Onder hulle is (die fiktiewe) Tony Montana wat saam met sy vriend Manny Ray op grootskaal met kokaïen in Miami begin handel dryf. Hy oorleef ’n aanval met ’n kettingsaag nadat ’n dwelmtransaksie sleg uitdraai, asook verskeie ander pogings deur ander dwelmbase om van hom ontslae te raak. Sy eie groeiende paranoia hou egter die meeste gevaar in…

Beste dialoog:

Frank Lopez: Lesson number one: Don’t underestimate the other guy’s greed!

Elvira Hancock: Lesson number two: Don’t get high on your own supply.

4

Cobra (1986)

Wat? Nog ’n Stallone movie? Ja-ja, ek weet, maar jy moet onthou dat daar net tien akteurs in Hollywood was toe ons kinders was. Daar was nie Tik-Tok nie.

Stallone was eintlik veronderstel om die hoofrol in Beverly Hills Cop (1984) te vertolk en was ook baie nou by die draaiboek se ontwikkeling betrokke. Hy wou dit in ’n moerse aksie-extravaganza verander wat die ateljee net nie kon bekostig nie. Hy het uiteindelik die pad gevat en al sy idees na dié fliek verplaas. 

Cobra draai om ’n taai polisieman wat opgesaal word met die veiligheid van die enigste oorlewende getuie van ’n moorddadige kultusgroep met goddelose planne. Dinge raak nog meer gespanne as ’n desperate Cobra (Stallone) tot ’n armdrukkompetisie uitgedaag word waar die prys sy seun se lewe is. 

Beste dialoog:

Night Slasher: The court is civilized, isn’t it, pig?

Marion Cobretti: But I’m not. This is where the law stops and I start, sucker!

5

Lethal Weapon (1987)

Mel Gibson kan ook, soos Sylvester Stallone, rolle met gemak van die hand wys. Hy het nee gesê vir groot rolle in beide The Fly (1986) en The Untouchables (1987) om eerder saam met Danny Glover die konings van ’n grensverskuiwende genre te word: die buddy-cop-fliek.  

Twee polisiemanne word met mekaar opgesaal en hulle kan nie méér van mekaar verskil nie! Martin Riggs (Gibson) is ’n polisieman wat nuwe betekenis aan living on the edge gee en Roger Murtaugh (Glover) se swakpunt is… wel… Riggs se vrot persoonlikheid. Hulle moet egter hul verskille opsy sit en hul trots in hul sakke steek om ’n gevaarlik bende van dwelmsmokkelaars aan die pen te laat ry. 

Beste dialoog:

Roger Murtaugh: Have you ever met anybody you didn’t kill?

Martin Riggs: Well, I haven’t killed you yet.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies