Menu terloops
In Gons [12 Feb 2025]

‘Tiek Tok Boem!’: Omstrede Afrikaanse TikTokkers kom onder loep in nuwe dokkie


’n Nuwe dokumentêr delf diep in die donker van Suid-Afrika se grootste Afrikaanse TikTok-persoonlikhede se dramabesaaide lewens in ‘Tiek Tok Boem!’.

‘Tiek Tok Boem!’: Omstrede Afrikaanse TikTokkers kom onder loep in nuwe dokkie
Kyk lokprent

Kuberboeliery, dwelmmisbruik, geweld en selfs selfmoordpogings – TikTok is geensins ’n blote pret-platform nie. Inteendeel – in die lokprent vir Showmax se nuutste ondersoekende dokumentêre prent, Tiek Tok Boem!, word daar lig gewerp op die lewens van die grootste Afrikaanse TikTok-persoonlikhede.

Dié TikTokkers sluit in: Christiaan Otto (Christiaan met 2 A’s) met nagenoeg 300 000 volgelinge; Amelda Claassen (Queen Amelda) met sowat 80 000 volgelinge; Leigh Pascheka Husselman (Leigh Pascheka) met meer as 65 000 volgelinge; Johnny van Rensburg (King Binlaken) met meer as 50 000 volgelinge en Teresa van der Bergh (Terrible Tess) met sowat 35 000 volgelinge. 

Dié 90 minuut lange dokumentêr is deur Rian van Heerden en Provoco (wat ook die Safta-bekroonde Sex in Afrikaans geskep het) vervaardig en word Dinsdag, 18 Februarie 2025 op Showmax vrygestel. 

Tiek Tok Boem, Showmax, Queen Amelda
Amelda Claassen is as Queen Amelda op TikTok bekend. Foto: Verskaf

‘Dit reën geld’

Volgens Van Heerden ondersoek Tiek Tok Boem! nie net hoe TikTok dié Suid-Afrikaners se lewens verander het nie, maar ook die geestelike en emosionele koste en impak van die internetroem wat daarmee gepaardgaan. “Ons het mense ontmoet wat duisende rande elke week verdien om regstreeks op TikTok te gaan. Dit reën geld daarbuite op sosiale media.”

Daarmee saam is die dokkie ook ’n “bloedstollende blik op die donker kant van roem in die TikTok-era,” voeg hy by. Van Heerden wou ook weet hoekom die TikTok-fenoneem juis in Afrikaanse kultuur aftrek kry, vertel Van Heerden. “In Suid-Afrika is dit meer van ’n Afrikaanse ding. Hoekom raak Afrikaanse mense betrokke by dié tipe gedrag – kuberboeliery, konflik aanblaas – en hoekom beloon ons hulle dan met geld en roem as hulle dit doen?”

Oor wat hom die meeste tydens die projek geskok het, sê Van Heerden: “Die absolute haat wat meeste van die omstrede TikTokkers in die kommentaar-afdeling ontvang. Dit het amper onmenslik gevoel.”

Buiten die TikTokkers word daar ook met die joernalis Marizka Coetzer (Devilsdorp), sosiale media smaakmaker Themba Robin, komediant en skrywer Melanie du Toit, en die sielkundige Sanam Naran oor die kulturele en psigologiese impak van internetroem gesels. 


Vanaf Dinsdag, 18 Februarie 2025 op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies