As jy sowat ’n dekade gelede op die internet-dansbaan gedartel het, het jy moontlik op ’n vreemde web-reeks, Jozi Shore, afgekom. Jozi Shore was ’n parodie op die ongelooflik gewilde Amerikaanse reeks, Jersey Shore, wat oranje domkoppe se kuiwe en lywe verheerlik het. Die boet en die breins agter Jozi Shore is Anton Taylor, ’n super-veelsydige kalant wat sedert 2017 in die rol van Tali-babes se man, Darren, te sien is. Ook dan weer eersdaags in die nuwe seisoen, Tali’s Joburg Diary.
Behalwe vir skryf en toneelspel, beoefen hy joga (hy is ook ’n gekwalifiseerde instrukteur), flirt met ’n bietjie rugby hier en daar (wat hy soms ook op TV aanbied) en dan klim hy ook gereeld in die kryt om ’n appel of twee te swaai. Google ook gerus “International Man of Movember 2011” en jy sal Anton daar in al sy glorie vind en begin wonder oor die werklike definisie vir “snor”.
Ek het vrae…
Wat het dit vir jou beteken om die hoof manlike rol in Showmax se eerste oorspronklike TV-reeks ooit, Tali’s Wedding Diary, te kry?
“Dit was werklik een van die grootste oomblikke van my lewe! Ek het altyd daarvan gedroom om ’n akteur te word, en het vir jare lank YouTube-sketse en advertensies gemaak in die hoop om akteurwerk te kry. Soos ek ouer geword het, het dit al moeiliker geword om daardie vlam en daardie hoop lewendig te hou terwyl ek al meer begin wonder het of dit sou uitwerk. Om die manlike hoofrol in Tali te land? Ek het nie woorde nie. Ek onthou nog hoe verlig ek gevoel het daardie eerste dag op stel. Dit was onwerklik.”
Jy is nogal ’n sportiewe knaap wat jouself onder meer met joga, boks en rugby besig hou. In watter sport sou jou karakter, Darren, uitblink? En in watter sport sou hy die bal laat val?
“Darren het ’n groot hart, so ek dink hy sou waarskynlik uitblink in langafstandhardloop en dalk boks. In die nuutste seisoen is hy beslis behep met joga. Ek skat dat hy dalk in sekere balsporte soos krieket en sokker sou suig.”
Rael (gespeel deur Glen Biderman-Pam) is jou wingman in al drie seisoene. Sou julle vriende in regte lewe gewees het?
“Ja, ons sou beslis besties wees! Rael is ’n lojale vriend vir Darren en hy is skreeusnaaks. Om die waarheid te sê, hy is baie soortgelyk aan Glen, wat die rol vertolk. Ek en Glen is goeie vriende in die regte lewe. Ons het nou die dag saam uitgegaan vir ete – mense het ons herken en vir ons gesê dat hulle baie opgewonde is oor die reeks en groot aanhangers is.”
En wat van jou en jou eie karakter, Darren?
“Haha, ja ek sal beslis van Darren hou, want hy is gaaf en ’n goeie ou. Solank mense vriendelik is, hou ek van hulle. Ek dink die maniere waarop ek en hy verskil, is daarin dat hy dalk meer goeie eienskappe het as wat ek het. Hy is ’n bietjie meer geduldig as ek, en hy verdra mense makliker, hoewel ek dink dat ek redelik easygoing is.”
Het jy regtig daardie moerse indrukwekkende baard gekweek vir seisoen 3 of is dit ’n stukkie lockdown-oorskiet of ’n vals baard?
“Haha, nee die baard is fake! ’n Spesiale woord van dank aan die grimeerafdeling wat dit verskeie kere per dag op my bakkies moes plak. Daardie baard het baie deurgemaak! Ek het daarmee gaan swem en ek is daarmee in die grond begrawe. Om op stel te eet en te probeer om nie kos in my baard te kry nie, was interessant om die minste te sê.”
Waarheen is Suid-Afrika op pad in terme van plaaslik vervaardigde inhoud en waar sou jy ideaal wou inpas?
“Suid-Afrikaanse inhoud word net beter en beter en so ook die gehalte van ons produksievaardigheid. Ons het briljante professionele persone in elke veld van die bedryf. Ons het so baie interessante stories om van ons land te vertel en ek dink dit is ’n kwessie van tyd voordat internasionale gehore al meer by ons inhoud ingetrek word. Ek sal graag by meer flieks en reekse betrokke wil wees. Met die leer van isiXhosa, het ek ook baie Showmax-programme gekyk wat in ons plaaslike tale is, en ek geniet dit baie. Ek hou duim vas dat ek binnekort ’n rol in een van hulle sal kan kry!”
Jy is vlot in Xhosa? Hoeveel tale is jy magtig?
“Ek is inderdaad! Ek het Frans as vak in matriek gehad en was toe vlot, en ek dink as ek dalk nou ’n paar weke in Frankryk moes deurbring, dat ek vlot sou wees. Op die oomblik is my fokus eintlik daarop om my Afrikaans te verbeter. Ek het dit ook as vak in matriek gehad, maar ek het dit ongelukkig nie voldoende benut nie. Ek kry tans lesse en wat baie help is om Afrikaanse Showmax-produksies te kyk sodat julle my hopelik in 2023 dit op die kassie sal hoor praat!”
Wat kan die kykers van Tali’s Joburg Diary verwag? Wat onderskei hierdie seisoen van die voriges?
“Ek dink ons het regtig ons groove in hierdie seisoen gevind. Dis die derde keer wat ons dit doen, ons ken mekaar goed en weet hoe om saam te werk. Seisoen 1 was natuurlik ons eerste keer. Seisoen 2 was nogal stresvol toe ons tydens die Covid-pandemie verfilm het. Met hierdie derde seisoen het ek myself baie geniet en ek hoop dit kom so oor op skerm. Ek dink dat mense hierdie seisoen ’n groep akteurs sal sien wat op hul kruin werk. Ek dink ons het ons beste gegee en die seisoen is meer polished… Soos die Springbokke se vertoning in die 2019 Rugbywêreldbeker-eindstryd!