Met Suits se aanvanklike première op die USA Network in 2011, was dié TV-uitsaaier besig om die sappigste vrugte van sy sogenaamde “blue sky”-era te pluk. Só genoem na aanleiding van USA se aanbod van sogenaamde “ligter” stories as die kompetisie – reekse wat jy kon kyk sonder om te veel van enigiets te voel of te dink; geen donker wolke nie, blue skies all around.
Suits het op reekse soos White Collar, Monk, en Psych gevolg, met die vertelling wat, ten spyte van die uitspeel van dikwels komplekse storielyne, deur ’n alomteenwoordige speelsheid gekenmerk is. In Suits is daardie speelsheid gebou op die baie stewige fondasie van Gabriel Macht se Harvey Spector, die eens-in-’n-leeftyd karakterdinamika tussen Harvey en Mike (Patrick J. Adams), en ’n premis gegrond op ’n geheim wat ewe verregaande as meeslepend was. Voeg dan ook daarby die will they/won’t they push and pull tussen Harvey en Donna (Sarah Rafferty) wat kykers hande in die hare (en later hande op ons harte) gehad het.
Dat dié reeks, wat in 2019 ten einde geloop het, in 2023 ’n herlewing met sy bekendstelling op Netflix gehad het, is nie verbasend nie. Die omvang daarvan was wel. Dit het etlike stromingsrekords gebreek en was vir maande lank bo-aan etlike ranglyste wat kykertalle meet. Dit was dus amper vanselfsprekend dat ’n spin-off sou volg. Niemand skep mos pap as dit reën soos Hollywood se mense nie.
Soos met enige spin-off is vergelykings met die oorspronklike storie onafwendbaar. Dís ’n dubbelsnydende swaard. Aan die een kant is daar ’n reeds bestaande gehoor wat meer waarskynlik is om die reeks ’n kans te gee. Aan die ander, kan daardie kykers ’n skepper se grootste nagmerrie word as die spin-off of té soortgelyk, of nie soortgelyk genoeg is nie. Dis dus te verstane dat prosedure-reekse soos NCIS, CSI en Law & Order ’n lang lys suksesvolle spin-offs het: dié reekse volg dieselfde resep, uiteindelik in ’n ander soort koekpan gebak.
Daar is dus genoeg andersheid daaraan om oorbodige vergelykings te vermy. Ander tipe narratiewe reekse het veel minder suksesverhale wat spin-offs betref. Vir elke Frasier (’n Cheers-spin-off), Angel (Buffy the Vampire Slayer), Private Practice (Grey’s Anatomy) en House of the Dragon (Game of Thrones) is daar driedubbel soveel flops. Joey (Friends), The Brady Brides (The Brady Bunch), Baywatch Nights (Baywatch), Gossip Girl (van die gelyknamige CW-reeks) is maar net enkele voorbeelde.

Dis nog te vroeg om te kan sê waar Suits L.A. op dié spektrum hoort. Daar is drie episodes aan die media vir resensies beskikbaar gestel, maar dit kon net sowel die loodsepisodes van drie verskillende reekse gewees het.
Herkenbare Suits-elemente is daar. Dieselfde kenwyse word gebruik, die kantore is groot glaskaste, die mense is almal onnatuurlik mooi, en ja, daar is kompetisie en konflik tussen kollegas. Maar waar ons in Suits die karakters en hul agtergrondstories oor die verloop van etlike seisoene leer ken het, voel die eerste drie episodes van Suits L.A. soos ’n worsmasjien wat plotpunte betref. Goeie genade, hier gaan baie aan! Die silwerrandjie hiervan is dat heelparty van dié storielyne groot potensiaal inhou. Een van die belowendste ankers is as ons hoofkarakter Ted Black (Stephen Amell), wat strafregprokureurs verafsku, dan self as een moet optree. Dis ’n pynlike opoffering van sy morele gryn. Die storiemoontlikhede hier is legio en lekker.
Daar is net soveel wat dié akteur, wat werklik een van die slam dunk leading men vir middlebrow-TV is, met ’n teks wat só on the nose is, kan doen.
Tog is daar ’n frustrerende identiteitskrisis. Dié reeks weet nie wie dit is of wil wees nie. Dit is asof skepper-skrywer Aaron Korsh nie kan besluit of hy die Suits-raamwerk moet omarm en of Suits L.A eerder as iets afsonderlik, met blote toevallige en subtiele eggo’s van die oorspronklike reeks, aangepak moet word nie. As ons immers vir Amell ontmoet as Ted Black, ’n voormalige staatsaanklaer van New York wat na Los Angeles verhuis het en nou as ’n prokureur vir die Hollywood elite werk, is dit gou duidelik dat dié sogenaamde “nuwe” Harvey Spector nie veel soos dié liefbare en arrogante, maar slinkse slim doos is nie. Nee, om Ted hang daar ’n donker wolk wat geensins strook met daardie speelse gevoel wat Suits so heerlik gemaak het nie.
Amell is ’n TV-veteraan, veral bekend vir sy rol op Arrow en meer onlangs, Heels. Die onmoontlike word egter van hom verwag. Hy probeer wraggies hard om sy karakter in iets Harvey-agtig te hervorm, maar die teks stel hom teleur. Daar is net soveel wat dié akteur, wat werklik een van die slam dunk leading men vir middlebrow-TV is, met ’n teks wat só on the nose is, kan doen. Boonop het Ted nie sy eie Mike nie. Sjoe, ’n mens mis daai chemie.
As ’n geheel, sal Suits L.A. beduidend baat by ’n beslissende poging om dit van sy voorganger te onderskei, veral omdat sy grondslag nie kan kers vashou by die indringende high stakes van Suits se premis nie. Die feit dat Mike nie ’n regsgraad gehad het nie, was ’n geheim wat beide hoofkarakters duur kon kos. By tye het dit hulle aan mekaar se kele gehad, andersyds het dit bygedra tot Harvey en Mike se diep vertroue in mekaar. Die uitbou van Mike as ’n amper geniale karakter wat met dié leuen kan wegkom omdat hy ’n perfekte geheue het, was effe absurd, ja, maar dit het gewerk.
Teen die einde van Suits L.A. se derde episode skemer daar ’n bietjie hoop deur as die storievertelling genoeg bedaar vir die karakters en die kykers om te kan asemskep. ’n Mens kan net hoop dat hulle die regte roete by dié kruispad inslaan.
Regstreeks Maandae vanaf 24 Februarie 2025 om 08:00 op Showmax en M-Net, of Donderdae om 19:00 vanaf 27 Februarie 2025 op M-Net en DStv Stream (kanaal 101).
Kyk ook die oorspronklike Suits op Showmax.