Is jy gek oor die classics of chick-lit, of sommer allerhande genres tussendeur? Verskeie epiese boeke wat op jou boekrak is, is nou ook as TV-reekse beskikbaar. Stroomkyk dié lys stories nou.
Big Little Lies is gegrond op ’n gelyknamige topverkoperboek deur Liane Moriarty.
Die eerste seisoen skop op ’n vreemde noot af. Wat soek ’n groep middelklas-ma’s in ’n polisiestasie? Daar was ’n moord, maar wie is die hoofverdagte – en meer nog, wie is die slagoffer?
Mettertyd in die reeks word daar nog vele donker geheime onthul en dit raak duidelik dat die prentjie-mooi seedorp waar die reeks afspeel allesbehalwe prentjie-perfek is. Die ikoniese Meryl Streep is in die tweede seisoen van die reeks te sien as ’n treurende ma wat alles in die stryd werp om die waarheid oor haar seun se dood uit te vind.
Die hoogsaangeskrewe reeks spog met 16 Emmy-benoemings en het ook agt Emmy-toekennings ingepalm. Kyk dit op Showmax.
Atticus kies in die 1950’s koers saam met sy oom en ’n vriend op soek na sy vermiste pa. Die drietal eindig op in ’n stryd om oorlewing in die rassistiese Jim Crow-era Amerika met skrikwekkende monsters wat net so goed uit een van die gruwelskrywer HP Lovecraft se verhale kon ontsnap het.
Lovecraft Country is gegrond op Matt Ruff se gelyknamige kultusboek en is deur Misha Green (skepper van Underground) en Oscar-wenner Jordan Peele (Us, Get Out) vir televisie verwerk. JJ Abrams (Star Wars, Lost) is die uitvoerende vervaardiger.
Kritici op Rotten Tomatoes het Lovecraft Country ’n punt van 90% toegeken. Newsday beskryf die reeks as volg: “Om Lovecraft Country as wildly original te beskryf, is byna ’n koddige veronderstelling. Maar dit is wild. En oorspronklik. Geen twyfel daaroor nie.”
Kyk dit op Showmax.
House of the Dragon
House of the Dragon, gegrond op die skrywer George R.R. Martin se Fire & Blood, speel sowat 200 jaar voor die gebeure van die epiese Game of Thrones af. Dis terselfdertyd geweldig anders én soortgelyk aan sy voorganger; ook epies, maar op ’n ander manier. (Lees ook ons resensie.)
Die begin van die tweede seisoen is ook die begin van die volskaalse oorlog tussen Rhaenyra Targaryen (Emma D’Darcy) en Alicent Hightower (Olivia Cooke) vir die kroon en troon ná die grusame dood van Rhaenyra se seun Lucerys in die vorige seisoen se finale.
Vanaf 17 Junie op Showmax en M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Stream). Dié reeks word dieselfde tyd as in die VSA uitgesaai, maar as jy dit nie 03:00 wil kyk nie, kan jy ook 21:00 op M-Net inskakel of op Showmax stroom.
Presumed Innocent
Die eerste twee episodes is vanaf 12 Junie op Apple TV+ beskikbaar. Nuwe episodes word daarna weekliks beskikbaar gestel.
Dié reeks is gegrond op die gelyknamige topverkoperboek deur Scott Turow. Kykers word gelei deur die verhaal van ’n moord wat groot moleste in die staatsaanklaer se kantoor veroorsaak. Jake Gyllenhaal vertolk hier Rusty Sabich, een van die hoofstaatsaanklaers in Chicago. As Rusty dan egter van ’n moord verdink word, kom die gevolge en duur prys van politiek en mag aan die lig soos hy poog om sy onskuld te bewys, en meer belangrik, sy gesin en huwelik te red.
Al agt seisoene is op Showmax beskikbaar.
Dié verwerking van George RR Martin se boeke is in alle waarskynlik die mees epiese TV-verwerking nog. Martin se boeke het van 2011 tot 2019 televisiegeskiedenis herskryf.
Al die elemente is daar: ’n Byna onbeperkte begroting, fokus op detail en asemrowende plekke waar verfilming plaasgevind het, vermeng met ’n verhaal van konings en koninginne, van oorlog en verraad, bloedskande en liefde asook moord om die land van Westeros te beheer . . .
En asof dit nie genoeg is nie – is daar zombies én drake!
Kyk dit op Showmax.
Tannie Maria is verantwoordelik vir ’n resepte-adviesrubriek. Toe ’n vrou wat aan haar geskryf het om raad te vra, dood gevind word, is die vet in die vuur. Tannie Maria en haar kollega, rookie-joernalis Jessie, besluit net daar en dan om die moord op die klein dorpie op te los en die moordenaar te vind.
Die reeks is gegrond op die eerste van Sally Andrew se topverkoper-boeke in die Tannie Maria-reeks.
Die Ierse bekroonde aktrise Maria Doyle Kennedy (The Tudors, Outlander, Orphan Black) vertolk die rol van Maria Purvus, aldus Tannie Maria. Die res van die span is almal Suid-Afrikaners. Kylie Fisher (Zamanti in Troukoors) is groot lof toegeswaai deur Variety en Decider vir haar vertolking van Jessie.
’n Tweede seisoen is in die pyplyn.
The Lincoln Lawyer S1-2
Op Netflix beskikbaar.
Dié reeks, een van Netflix se gewildste, is gegrond op die topverkoperboeke deur Michael Connelly. Die tweede seisoen is dan juis op die vierde boek van Connelly se The Lincoln Lawyer-reeks, The Fifth Witness, gegrond. Dié boek is terloops Connelly se 23ste boek wat die lig gesien het.
Ná die gebeure in die eerste seisoen is Mickey (Manuel Garcia-Rulfo) se regspraktyk – met hom wat meerderheid van sy werk van vanuit die agterste sitplek van sy Lincoln doen, eerder as sy kantoor – in hoë aanvraag.
Maxton Hall
Nou op Prime Video beskikbaar.
Maxton Hall, gegrond op Mona Kasten se topverkoperboek, Save Me, begin met Ruby Bell (Harriet Herbig-Matten), ’n beursstudent aan die gesogte Maxton Hall-privaatskool, wat iets sien wat niemand moes nie. En dít laat die arrogante rykmanskind James Beaufort (Damian Hardung) sweet, want daar is baie op die spel as Ruby dié geheim uitlap. Maar as hy haar konfronteer en haar probeer omkoop om haar mond te hou, is daar ’n onmisbare chemie en die vonke spat…
’n Tweede seisoen is onlangs aangekondig.
Kyk dit op Showmax.
Ons eie Deon Meyer is ’n topverkoper-misdaadskrywer wie se boeke in verskeie tale vertaal is en wêreldwyd verkoop word. Sy verhaal van spioenasie en internasionale terreur sorg vir boeiende kykgenot.
Trackers is ’n uitstekende kunswerk uit eie bodem wat in samewerking met HBO se sustersnetwerk Cinemax en Duitsland se openbare uitsaaier ZDF, vervaardig is.
Dit illustreer die gehalte van Suid-Afrika se akteurs, asook die land se pragtige bestemmings.
Al drie seisoene is op Showmax.
The Wife is ’n Showmax Original-telenovela wat die lewens van agt Zoeloebroers deur die oë van die vroue met wie hulle getroud is, volg. Saam vorm die broers ’n formidabele misdaadfamilie.
Die boek Hlomu the Wife, ’n topverkoper deur Dudu Busani-Dube, was die inspirasie vir die reeks. Opkomende ster Mbalenhle Mavimbela (Skeem Saam, Isipho) is “Hlomu the wife”, die joernalis wat verlief raak op ’n taxi-bestuurder sonder dat sy besef dat wanneer jy met ’n man trou, trou jy ook met sy geheime.
Haar geliefde, Mqhele, word vertolk deur Bonko Khoza, wat as Jabz in die bekroonde fliek Necktie Youth oproer veroorsaak het. Sedertien het hy in Professionals en die Emmy-genomineerde Roots verskyn.
Seisoen 2 is geïnspireer deur die opvolgboek, Zandile the Resolute. Zandile, die vurige martriarg van die familie, word deur Khanyi Mbau (Happiness is a Four-Letter Word) vertolk. Mondli Makhoba (Umkhokha) hervat sy rol as Nkosana, die oudste broer in The Wife.
Shadow and Bone S1-2
Kyk dit op Netflix.
Dié fantasiereeks is op twee boekreekse deur Leigh Bardugo, die Shadow and Bone-trilogie en die Six of Crows-boeke, gegrond.
In die eerste seisoen het ons vir die jong, dapper Alina (Jessie Mei Li) – ’n weeskind wat later ’n kartograaf in die Ravka-weermag word – ontmoet. Maar toe vind sy uit sy is ’n Grisha – iemand met spesiale magte of vermoëns – en dat sy glo ook sommer die ene “Sun Summoner” is wat Ravka van die duistere en dodelike “Shadow Fold” en sy monsters moet red. Soos dié nuus versprei, blyk dit dat nie almal haar as ’n redder sien nie. Met haar lewe op die spel, is daar byna niemand wie sy kan vertrou nie. Dis nou behalwe vir Mal (Archie Renaux), haar beste vriend van kindsbeen af in die weeshuis.
Bridgerton S1-3
Kyk dit op Netflix.
Die drama is gegrond op die Bridgerton-boeke van Julia Quinn en speel af in die Regency-tydperk (1811-1820). Dit volg die weduwee Lady Bridgerton en haar agt kinders soos hulle deur die lewe met skandale, swak besluite, en met die koningin wat hulle stip dophou, deur die lewe strompel. Of dans. Hang af of daar ’n high society paartie daai aand is.
Die derde seisoen is onlangs beskikbaar gestel.
Op Apple TV+ beskikbaar.
Dark Matter word wyd beskou as een van die beste wetenskapfiksieboeke van die afgelope dekade en met dié dat Apple TV+ dit in ’n TV-reeks omskep het, word dié stroomplatform se sci-fi-aanbod – wat ook Silo, For All Mankind, Invasion en Foundation insluit – net al beter. Dit draai om Jason Dessen (Joel Edgerton), ’n fisikus, professor en familieman wat op ’n dag ontvoer word – na ’n alternatiewe weergawe van sy lewe. Gou ontaard dié landskap van lewens wat hy kón geleef het in ’n nagmerrie soos hy probeer om na sy realiteit – en sy werklike familie – terug te keer.
Nou op Showmax beskikbaar.
Catch Me A Killer is ’n Showmax Original wat draai om Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profiler, Micki Pistorius. Die rol van Pistorius word deur Charlotte Hope, bekend vir haar rolle as Myranda in Game of Thrones en as Catherine van Aragon in The Spanish Princess, vertolk.
Die reeks is gegrond op Micki se gelyknamige memoires, en sien hoe dié forensiese sielkundige oor die loop van tien episodes op Suid-Afrika se mees gevreesde moordenaars jag maak. Elke episode fokus op een van die ondersoeke waarop sy gewerk het – insluitend die sogenaamde Cleveland Killer-saak en die bloedspoor wat Stewart ‘Boetie Boer’ Wilken, agtergelaat het.
Op Showmax beskikbaar.
Die storie is is gegrond op ’n 2007-boek deur die skrywers Egil “Bud” Krogh en Matthew Krogh met die “White House Plumbers” wat eintlik verwys na ’n destydse geheime spesiale ondersoekeenheid. Dié “plumbers” was daarop gemik om te keer dat geklassifiseerde inligting aan die media gelek work. Dit was dié einste groep wat vir die wêreldbekende Watergate-inbraak verantwoordelik was (en wat dan uiteindelik ook tot president Richard Nixon se ondergang gelei het…) “Nixon’s fixers”, soos E. Howard Hunt en G. Gordon Liddy, ook bekend was, word deur onderskeidelik die altyd-briljante Woody Harrelson en unassuming Justin Theroux vertolk.
Daisy Jones & the Six
Op Amazon Prime Video beskikbaar.
Daisy Jones & The Six is gegrond op die gelyknamige topverkoper fiksie-boek deur Taylor Jenkins Reid wat vertel oor die rise and fall van ’n beroemde rockgroep in die 70’s. Soos die boek, draai die TV-weergawe om die groep se lede wat dekades later besluit om die sluier te lig en te onthul wat tot hul skielike break-up, terwyl hulle op hul gewildste was, gelei het. Die storie word met ’n kombinasie van terugflitse en onderhoude – amper soos ’n mockumentary – vertel.
As jy dink die storie klink effe bekend – dis omdat Reid se boek, hoewel fiktief, deels geïnspireer is deur die etlike Fleetwood Mac-konserte wat sy in haar grootwordjare op televisie gekyk het.
Al drie seisoene is op Showmax beskikbaar.
Dié reeks is gegrond op die skrywer Deborah Harkness se All Souls-trilogie.
ʼn Historikus (en teësinnige heks) Dianna Bishop (vertolk deur Teresa Palmer) ontdek ʼn betowerde manuskrip in Oxford se Bodleaian-biblioteek. Ten spyte van die oeroue wantroue tussen hekse en vampiere, moet sy met die charismatiese vampier en genetikus, Matthew Clairmont (Matthew Goode) kragte saamspan.
Nou op Showmax beskikbaar.
Marita van der Vyver se boek Die Dinge van ’n Kind het ook as ’n TV-reeks gestalte geneem.
Die reeks vertel, soos die boek, van Mart Vermaak se gedaantewisseling van kind tot vrou. In die roman het lesers vir Mart as tiener, sowel as ’n volwasse vrou in haar dertigs as ’n expat in Londen, leer ken. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ’n heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.
Terwyl die boek in twee tydvakke afspeel – teen die politiese agtergrond van die ontstuimige 1970’s en die vroeë 1990’s – is daar vir die TV-weergawe ’n deel bygewerk wat in die hede afspeel. Daar is dus drie aktrises wat die rol van Mart deur die jare speel. In die rol van jong Mart is Melissa Myburgh. Cintaine Schutte is Mart in die 1990’s en Susanne Beyers speel die hedendaagse Mart.
Nog TV-reekse wat op boeke gegrond is
- I Know This Much Is True, Showmax
- His Dark Materials S1-3, Showmax
- The Plot Against America, Showmax
- Anne with an E, Netflix
- The 100, Netflix
- From Scratch, Netflix
- The Queen’s Gambit, Netflix
- 13 Reasons Why, Netflix
- The Witcher, Netflix
- Mindhunter, Netflix
- Sweet Magnolias, Netflix
- The Haunting of Hill House, Netflix
- Virgin River S1-4, Netflix
- Firefly Lane, Netflix
- The Sinner, Netflix
Nog aanbevelings
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →