Van verwoestende verraad tot skokkende geheime – Gemoedsdrif se inwoners is nog lank nie klaar beproef nie. En boonop is daar ook verskeie nuwe gesigte wat by dié telenovela aansluit. Hier is ’n blik op van die spannende storielyne waarna kykers in die tweede seisoen van Skemergrond kan uitsien.

Christine: ’n Gevaarlike speletjie van wraak
Christine speel vuil, maar nou is sy bereid om selfs nog vuiler te speel. Ná ’n reeks ontwrigtende partytjies en geleenthede op haar werf, Onregsfontein, slaan die Louw-familie terug deur Christine se informele toegangspad te sluit, wat haar eiendom afgesny laat. Maar Christine reageer dan op ’n dramatiese wyse, natuurlik ook aangevuur deur haar diepgewortelde wrok teen hulle. Wanneer sy ’n geheim uit Jasmine se verlede as wapen inspan – een wat haar huwelik met JP kan verpletter – raak die spanning al meer. Met emosies wat oorkook en lojaliteite wat versplinter, kom Christine gevaarlik naby daaraan om te kry wat sy wil hê.
Sy is egter nog lank nie klaar nie – en dié keer konkel sy nie alleen nie.
Gloria: Wanneer ’n sprokie wankel
Gloria en Kevin leef uiteindelik die lewe waarvan hulle so lank gedroom het. Hulle het ’n rustige ritme gevind in Gemoedsdrif, en Gloria is stadig maar seker besig om ’n diep, betekenisvolle band met Hazel te bou. Sy maak oop oor haar pynlike verlede en die letsels wat Fabian agtergelaat het en begin om te genees – vir die eerste keer in jare. Maar net toe dit voel asof haar sprokie waar geword het, kom gooi ’n onverwagte gas haar hele wêreld omver. Kan heling plaasvind wanneer spoke uit die verlede weer voor jou staan?
Manny: Die verlede klop aan
Net toe dit lyk asof die lewe begin bedaar, word Manny in chaos teruggeploeg deur die skielike terugkeer van Bernadette – die bedwelmende vrou wat hom eens amper verwoes het. Wat begin as nostalgie, ontaard vinnig in roekeloosheid en word ’n bedreiging vir alles wat hy in Gemoedsdrif opgebou het. Terwyl sy geliefde hotel in wanorde verval en ou vriende hul rug op hom draai, moet Manny moeilike keuses maak. Aan die kern van alles is Tillie – stil en standvastig, maar ook iemand wat dra aan ’n waarheid wat sy al jare lank wegsteek.

Erica: Die hart se kruispad
Met ’n nuwe dominee wat ’n opskudding in die gemeente – en haar hart – veroorsaak, begin Erica haar ’n ander soort lewe verbeel. Maar net toe iets bestendigs tussen haar en die sjarmante, onkonvensionele dominee begin ontwikkel, daag ’n problematiese karakter uit haar verlede in Gemoedsdrif op.
Ivan “Ice” Matroos is nie sommer enige besoeker nie – hy is die man wat haar agtergelaat het en die pa wat Louis nooit geken het nie. Terwyl ou gevoelens weer opvlam en ou geheime aan die lig kom, moet Erica die moeilikste vraag van almal in die oë kyk: Kan liefde herskryf word – of kan sekere skade eenvoudig nie ongedaan gemaak word nie?
Ronnie: ’n Man onder beleg
Ronnie se lewe neem ’n onverwagte en verwoestende wending wanneer ’n skokkende beskuldiging beide sy loopbaan en reputasie bedreig. Terwyl sy praktyk as gevolg van ’n ondersoek gesluit word, bevind die Maarman-gesin hulself in ’n hewige stryd waarin die verlede en die toekoms in die weegskaal hang. Met alles op die spel staar Ronnie ’n verhoor in die gesig wat alles kan verander. Sal hy sy loopbaan kan red, of is hierdie saak teen hom die einde van die pad? En met die druk wat toeneem, sal die Maarmans dalk ’n lewensveranderende besluit moet neem – om Everlasting agter te laat?
Nuwe karakters
’n Paar kragtige nuwe karakters word in hierdie seisoen deel van die drama op Gemoedsdrif. Onder die akteurs wat dié lot vertolk, tel: Denvor Vraagom (Suidooster, Arendsvlei, Binnelanders, 7de Laan), Keeno Lee Hector (Barakat, Spinners, Arendsvlei, Sara se geheim), Adrian Steyn (Getroud met rugby, Binnelanders, 7de Laan, Wyfie), Clint Aplon (7de Laan, Arendsvlei) en Siobhan Hodgson (Recipes for Love and Murder, Suidooster, Wyfie).
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.