Ons sepievoorskou vertel jou meer oor waarna jy hierdie week (11 tot 15 Augustus) in Suidooster, Binnelanders en Skemergrond kan uitsien.
Suidooster
Nazeem (Irvine van der Merwe) is nie die enigste een in Ruiterbosch wat spoke sien nie. Die gemeenskap probeer steeds vir Tannie Kate (Annelisa Weiland) oortuig dat haar engel eintlik ’n spook is. Ek mors glad nie met sulke goed nie en as Tannie Kate eers met haar engel begin, raak ek in die aande sommer bang. Maar hoewel ek nou nie die grootste aanhanger van haar engel is nie, wou ek nou ook nie hê dít moes Tannie Kate oorkom nie. Mens kon sien die nuus het almal geruk, veral vir Tannie Kate. Mens wil mos nie glo dat so iets met jou kan gebeur nie, maar ek hoop darem vir die beste. Tannie Kate is almal se steunpilaar en verdien ’n bietjie genade.
Dít is meer as wat ek van Shandy (Kay Smith) kan sê hierdie week. Maar Shandy is nie die enigste nuwe gesig wat hierdie week dinge interessant hou nie.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Skemergrond
Shandy en Christine (Devonecia Swartz) verdien om in dieselfde klub te wees: die klub van leuens en valsheid. Mense soos hulle ken geen perke nie en dit kom mens sommer weer vinnig agter ná hierdie week se stunt. Het Christine regtig gedink dit gaan so maklik wees om haar sin te kry? Sulke moves sou dalk in seisoen een gewerk het, maar die mense van Gemoedsdrift eet nou wakker pies en gaan nie sommer vir haar valse stories en liefde val nie. Sy kan my ook darem lekker laat lag wanneer sy ’n gek van haarself maak. Ek het nog nooit iemand so desperaat gesien nie. Sy is heeltemal verblind en glo haar eie leuens.
Erica (Shimmy Isaacs) is ook verblind, maar nes Manny (Dirk Stoltz) is dit net vir goeie redes. Die liefde blom alweer net so mooi soos Everlasting se blomme. En Cupid het meer as een paartjie waarmee hy besig is.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Binnelanders
Ongelukkig lyk dit asof Cupid iets teen Pretoria het, want daar is beslis net onmin onder Binnelanders se paartjies. Terwyl Nicolette (Kate Roothman) ’n lelike reality check kry hierdie week, is sy nie alleen nie. Tracy (Melinda Viljoen) wil nou een maal net nie uit haar foute van die verlede leer nie. Dit voel vir my asof ons elke paar maande deur dieselfde drama met Tracy moet gaan. Die eerste keer kon ek nog met haar simpatiseer, maar nou weet ek regtig nie.
Ek sou seker netso benoud soos Tertius (Reynard Hugo) gewees het, want hoeveel dae kan mens aaneen leuens vertel en dink jy gaan daarmee wegkom? Nevermind die feit dat sy leuens vertel het – dis waaroor sy gelieg het wat my regtig bekommer! Dit is next level en ek weet nie hoe mens van so iets aanbeweeg nie. Ek weet net: ek sou beslis nie kon vergewe en vergeet nie…
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.